Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees het met die amptelike bekendstelling van die program ’n spesiale aanbod van ’n Aardklop-feespas van R1 020 aangekondig.
Die feespas sluit gratis toegang tot die feesterrein in, gratis gebruik van die pendeldiens en daar kan aansoek gedoen word vir kaartjies vir vertonings via die Aardklop-feeskantoor.
Volgens Andries Vrey, uitvoerende hoof van Clover Aardklop, is dit ’n gebaar om die fees meer toeganklik te maak vir die algemene publiek. “Uit ons navorsing blyk dit dat die grootste uitgawe by ’n fees verblyf en etes is. Dit beteken feesgangers het minder geld om aan vertonings te bestee, terwyl die kern van die fees tog die aanbieding van die program is.”
Vrey het dit duidelik gemaak dat daar sekere bepalings en voorwaardes vir die feespas geld, soos onder meer dat ’n individu net aansoek kan doen vir een kaartjie per vertoning vir die duur van die fees. Omdat daar ’n beperkte aantal kaartjies onder die spesiale aanbod beskikbaar is, het hy feesgangers aangeraai om vinnig te spring “om eerste in die ry te staan”.
Marguerite Robinson, programkonsultant vir Aardklop, het uitgewei oor die programaanbod vir 2014. Sy sê gegewe dat feeste ook onder druk is en die sente moet omdraai, is dit soveel te meer uitsonderlik dat daar ’n hele paar groot produksies met groot name by die fees gaan debuteer.
Bo-aan die lys is die Afrikaanse komiese opera Poskantoor – die eerste Afrikaanse opera wat in die 21ste eeu aangebied word. Dit is gekomponeer deur Braam du Toit en die libretto is geskryf deur Tertius Kapp (van Rooiland-faam) – ’n jong span wat die idee dat opera swaarwigtig is en net op die ouer garde gemik is op sy kop draai. Jannie Moolman en Magdalene Minnaar is onder andere daarin te sien en Jaco Bouwer is die regisseur.
Tsjekof is in Afrikaans te sien in Saartjie Botha se nuwe verwerking van Die seemeeu. ’n Uitstaande rolverdeling – wat insluit Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kamper, Alyzzander Fourie en Rolanda Marais – staan onder spelleiding van Christiaan Olwagen in dié tragikomiese ode aan onvervulde liefde.
Marthinus Basson is die regisseur en ontwerper van die Belgiese skrywer Tom Lanoye se epiese Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles, waarin die fokus op die Franse historiese figure Jeanne d’Arc en maarskalk Gilles de Rais val. “Om akteurs soos Nicola Hanekom, André Roothman, Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellermann, Dawid Minnaar, Wessel Pretorius en Stian Bam saam op een verhoog te sien, gebeur nie aldag nie,” het Robinson gesê.
Schalk Schoombie se komiese drama, Gepiekel (onder spelleiding van Henry Mylne), speel af op ’n Vrystaatse dorpie en vertel die verhaal van ’n man wat geprofeteer het dat hy uit die dood sal opstaan. “Dit mag dalk bekend klink, want ’n ware gebeurtenis van 2004 was die inspirasie vir Schoombie se teks,” aldus Robinson. Alwyn van der Merwe, Henriëtta Gryffenberg, Neels van Jaarsveld en Altus Theart is onder andere daarin te sien.
Buiten vir ander debuutproduksies sluit die program ook trefferproduksies van ander feeste in. Die volledige program is beskikbaar op www.cloveraardklop.co.za. Diegene wat belangstel in die spesiale aanbod van die feespas kan die Aardklop-kantoor by 018 294 7509 kontak.
Die fees word van 7 tot 11 Oktober in Potchefstroom aangebied. Besprekings kan gedoen word deur Computicket.