Boekgesprek | Book Chat

 
Skielik het dit aand geword

Thomas van der Walt het in 1995 'n huldigingsbundel oor Alba Bouwer (1920-2010), Die blink uur van mooi dinge, gepubliseer. Bouwer is as skryfster van veral kinderverhale bekend. 'n Enkele keer het sy 'n roman vir volwassenes geskryf, naamlik Die afdraand van die dag is kil (Kaapstad: Tafelberg, 1992, 183 p). Dit is op Bouwer se waarneming van lewe in 'n ouetehuis gebaseer.

Op die stofomslag is daar 'n waterverfskildery van Pieter van der Westhuizen (1931-2008). Heel gepas word 'n vrou met hoenders uitgebeeld, want die twee hoofkarakters is susters met 'n plaasagtergrond. Die boek is opgedra aan Rykie van Reenen (1923-2003), die vermaarde joernalis oor wie Lizette Rabe 'n omvattende biografie (2011) geskryf het. Die boektitel is ontleen aan 'n gedig van Olga Kirsch (1924-1997): "Die afdraand van die dag is kil. Hoe het dit skielik laat geword?" Dit is 'n soberende gedagte dat vier van die genoemde persone ons die afgelope twee dekades ontval het.

Daar is hoofstukke oor sommige van die karakters se lewe voordat hulle in die ouetehuis beland het. Hierdie hoofstukke is myns insiens minder geslaag, omdat hulle plek-plek neig na die soort skryfwerk wat dikwels in vrouetydskrifte aangetref word. Maar hierdie inligting is nodig, want iedere inwoner van die ouetehuis is die produk van sy, of meesal haar, verlede: "'n Mens kom nie los van jou ou sleepsels nie" (p 56). "'n Mens se verlede het ook maar 'n manier om soos 'n hond op jou spoor te bly en af en toe na jou hakskeen te hap" (p 124).

"Ver, ver weg die dae toe 'n lang lewe nog toekoms was" (p 3). "'n Onverwagse bedruktheid sak oor haar af, 'n swaarmoedigheid oor alles wat so verby is, vinnig en vir goed verby" (p 12). Besonderhede oor wat verby is, duik dikwels in die bejaardes se gesprekke op. "Ek verwonder my net weer oor die dinge van jare terug wat ek so duidelik voor my kan sien, en wat gister gebeur het, onthou ek baie dae glad nie" (p 16). "'n Mens onthou so baie dingetjies uit jou kindertyd so helder, maar wat jy gister nog gesien het, kan jy vandag g'n stuk meer onthou nie" (p 82).

Die eintlike onderwerp is die brose lewe in 'n ouetehuis, Huis Lourens. Dit is 'n plek waar bejaardes vertikaal ingaan en horisontaal uitgaan. In die beskrywing hiervan het Bouwer uitmuntend geslaag. Dit is te betwyfel of die inwoners weet na wie die ouetehuis vernoem is. Dit is 'n verbeeldinglose naam. Maar die siekeboeg, die versorgingseenheid vir verswakte bejaardes, het 'n naam wat in ironie uitmunt: "Ek dink dis regtig maar tyd dat sy na Sorgvry gaan: sy is vinnig aan die verswak en sy moet meer sorg kry" (p 93). Daar is ook 'n noodkamer (p 104), wat tradisioneel in die mond van die inwoners die doodkamer is.

Daar is raak beskrywings, dikwels met die plaas as agtergrond. "Jy lyk soos 'n konsentrasiekampkindjie ... Maar ... toe drink jy soos 'n kalf wat haastig uitsuip" (p 18). "Dié het die hele bevalling van hawertjie tot gortjie netjies gehanteer" (p 53). "'n Mens moet mos weet in watter raam iemand pas" (p 56). Die ouetehuis is 'n plek waar bekendes en onbekendes 'n heenkome vind: "Kompleet 'n dwarsdraad in 'n spruit waarteen al wat opdrifsel is uiteindelik vasspoel en stil lê" (p 58). "Die opdrifsels wat darem teen hierdie laaste keerwal vasspoel en saambondel" (p 159). Oor 'n dokter: "Onder die spierwit gebleikte oorjas blink 'n onverwagte kooltjie menslikheid" (p 70).

"Sy het 'n rustige sekerheid, soos die Bybelse boom by die waterstroom" (p 77). "Nes fyn, droë papier teen jou lip voel so 'n oumenswang" (p 79). "Jou liggaam is lelik en aan die uitmekaarval, sorg maar dat jou siel heel bly" (p 83). "In die ou dae ... toe was dit baas en nooi en outa en aia, maar toe was daar liefde tussen mense" (p 83). "'n Oumens is maar hond-aan-'n-riem as jy begin verswak" (p 93; ook p 129). "'n Klein neusie wat lyk asof dit as 'n nagedagte haastig bokant die vol mond neergesit is" (p 113). "Dis asof haar eie hartseer van lankal en van nou al die skanse in haar omstoot" (p 146). Sy "hoor die ou spoggerigheid deurslaan soos ou roes deur 'n verflagie" (p 169).

Outydse, minder bekende woorde en uitdrukkings kom voor: minteneer (p 55, 93), 'n hele kabaal (p 82), koortsake (p 86), teskié (p 33, 92), kens (p 99), jingo (p 41), konsinte (p 45), mensverskrik en beskimmeld (p 113), her- of derwaarts (p 114) en ingesakte hoop (p 160). "Ons moet maar eers kyk wat word" (p 64). Hulle is "bakmaats as dit by stuitigheid kom" (p 75). As iemand ongepoets praat: "Dis werftale" en sy het "gedreig om ons monde met boerseep uit te was" (p 101). "Ek het my hande vir julle deurgewerk" (p 46), "Ek het my hande nie in koue water gesteek nie" (p 169). Die tafelgebed is dieselfde as wat ek by my skoonpa gehoor het: "Zegen Vader 'tgeen wij eten, laten wij nimmer U vergeten. Amen" (p 61).

Die aankoms by die ouetehuis verg aanpassings. "Ik ben een vreemdeling, ver, ver van huis" (p 100). "Waar dit so na siekte en mismoed ruik, kan ek nie eet nie" (p 68). "Die lewe lê nou leeg en dor vorentoe" (p 171). Twee groot veranderings word aan elke nuwe ouetehuisinwoner opgedwing. Enersyds is daar die groter groep mense waarby teen wil en dank ingeskakel moet word. "Sal sy ooit daaraan gewoond raak: die saam doen, saam eet, saam leef met so 'n skare mense?" (p 61). Andersyds is daar die baie kleiner eie ruimte met beperkte privaatheid. "Die ingehok wees in so 'n klein kamertjie ... hierdie meubelstukke ... het jare se blydskap en hartseer stil en stom aanskou" (p 61). "Sy voel asof haar lang lewe stuk-stuk by haar verbyrol en tot stilstand kom in hierdie kamer met die paar bekende meubelstukke ... Hoe goed is die lewe sonder die las van aardse besittings en begeertes" (p 132).

Eers is daar die trek van jou woonplek na 'n kamer in die ouetehuis. Dit word 'n tydelike staning. Sy "is bly toe sy weer in haar eie kamer terug is. Dis nou my tuiste, hierdie slakkedoppie van 'n kamer" (p 158-159). Daarna is daar die verskuiwing na die siekeboeg. Die kierie, die stootstoel en die kemoud word deel van die daaglikse werklikheid. "So 'n kemoud in 'n kamer is darem so 'n advertensie van die ouderdom" (p 166). "Ek voel van God en mens verlaat ... as 'n mens se loop opraak, raak jou sin vir die wêreld seker ook half op" (p 168).

"Dis nou afskeid van haar laaste staanplek waar sy onafhanklik en met waardigheid kon leef ... Nou gaan ek na my laaste staning, die laaste voor die donker tonnel wat ek alleen moet deur en waar niemand my kan bystaan nie. Ag, Here, dink sy, as ek nou maar net kan huil, hard en lank kan huil oor alles, maar waar en hoe kan ek dit alleen en in vrede doen?" (p 96). "Voordat sy self weet wat sy doen, bars sy in trane uit en huil snikkend en onbedaarlik soos 'n kind wat seergekry het ... oor al die eensaamheid en ellende van 'n hele lewe en die vrees vir die swart afgrond wat so naby haar oopgegaan het" (p 104). "Dis maar net dat 'n oumens se wêreld so gou om hom kan leeg word" (p 154).

Die ouderdom bring 'n verlies aan waardigheid mee. "'n Mens wat jonk is, kan nooit raai hoe dit voel om jou selfhelp stuk-stuk af te gee nie" (p 84). "Sonder klere is 'n mens uitgelewer" (p 64). Verswakte bejaardes word gebad: "Jy moet die optog sien: sy voor met die bankie en ek agterna met die handdoeke en nagklere en beker. Ons tap eers water in die bad, dan sit sy die bankie in en ek help haar om daarop te sit te kom en haar voete oor die rand te lig tot in die water. Dan was ek haar lyf en voete, ou Fennie was sy self, en daarna spoel ek haar af met bekers water. Dan help ek haar afdroog en aantrek en die optog gaan weer gang af kamer toe" (p 78-79).

"Die groot stilte van die dood" (p 51), "die laaste donker vallei" (p 106), "die koue skaduwee wat al nader na my bed toe aankruip" (p 109), is uiteraard die onverbiddelike agtergrond waarteen die gebeure plaasvind. "Oral en altyd is die dood by" (p 60). "Raak 'n mens ooit gewoond aan die dood? ... die mens wat regtig in die liewe Here glo, stap makliker uit as die mens wat daardie geloof nie het nie" (p 133). "Here, moet tog nie dat ek so alleen doodgaan nie ... Vrees niet, gij wormpje Jakobs, gij volkje Israels! Ik help u, spreekt de Heere" (p 65). "Sy 's besig om te sterf ... Waarmee anders kan 'n oumens naglank besig wees?" (p 80).

"Niks is meer vir my regtig mooi nie en ek het lus vir niks" (p 173). "Hierdie ouderdom skeer ons darem maar almal mooi gelyk" (p 86). "Of dit nou 'n kleed van sy of 'n uitgewaste meelsak is wat ons dra, op die ou end lê ons gelyk gemaak onder dieselfde aarde" (p 99). "So kom ons darem almal uiteindelik weer tuis" (p 148). "Vir haar is dit beter so" (p 183).

Johannes Comestor


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address