Show and tell by Kalkbaaiteater

  • 0

Ek was verbaas om te sien dat die klein teatertjie in die ou kerkie stampvol is toe ons voor die vertoning opdaag vir drankies en iets om te eet. Ek hoor gereeld hoe Kapenaars nie in die koue wil uitgaan nie, maar die atmosfeer daar binne is warm en aangenaam en ek is bly ek het my rusbank en kombers verruil vir ’n heerlike aand van vermaak.

Die teater spog met ’n nuwe baadjie, en die blou draadligte, steenkool-geverfde mure en vrolike sitplekke is keurig en versterk die teater se gevoel van intimiteit. Toe die formidabele sanger, aktrise en pianis Michele [net een l] Maxwell saam met Roland Perold op die verhoog verskyn, kon jy amper vergeet jy sit hier vlak teen die see, net buite Kaapstad, en nie iewers in ’n kabaretteater in Parys of Amerika nie.

Michelle is ’n veelsydige kunstenaar met nasionale en internasionale ondervinding. Sy was in die begindae van die Space-, Market- en Baxterteaters by dié instellings betrokke en het in die West End in Londen in Boogie en Poppie Nongena opgetree. Sy was ook tydens haar verblyf in Londen op die televisieprogramme Not the Nine O’Clock News en The Jasper Carrot Show. Sy het al in Ierland, Nederland, België, Duitsland, Swede, Finland en Israel opgetree en is ’n bekende televisiester met rolle in Isidingo, Fishy Fêshuns en Scandal, en het al in verskeie films opgetree.

Sy het ’n Fleur du Cap-nominasie ontvang vir haar eenvrou-kabaret C’est La Vie.

Roland het al verskeie male by Kalkbaai Teater opgetree, waaronder in I Love You, You’re Perfect, Now Change en Edges. Hy is die stigter van Rolska Productions en was onder meer verantwoordelik vir die uitverkoopte Coward & Cole, waarin hy saam met Godfrey Johnson gespeel het.

Hy is ’n veelsydige akteur en die interne vervaardiger by die Waterfront Theatre School.

Michele en Roland se vertoning kyk na die hoogte- en laagtepunte van die vermaaklikheidswêreld en met die intrapslag skuif hulle agter die vleuelklavier in en sing: “There’s no business like show business” en die gehoor klap sommer gou saam hande en hou ritme met hul voete.

Soos wat hulle nuwe verwerkings van klassieke liedjies van Sondheim tot Berlin tot Randy Newman sing en tussenin stories vertel uit hul eie ondervindings op die verhoog, vergeet jy van die koue daar buite en is die gemoedelikheid in die teater aansteeklik.

Hulle spekuleer oor hoekom die glansliggies hulle soos motte na ’n kers aantrek en in een van die liedjies, “Smashing New York Times”, sing Roland: “The words we love are not from our lovers, but from words some stranger writes …”

Hulle lees skindernuus uit ’n tydskrif, spekuleer oor hoekom akteurs en musikante se verhoudings so stormagtig is – en dikwels so kortstondig – en so tussen liedjies oor liefde tussen ouer vroue en jonger mans deur deel hulle anekdotes oor hul eie loopbane, maar ook oor dié van Judy Garland, Elaine Stitch en vele ander. Nostalgie hang swaar in die lug.

Hulle maak beurte om die klawers te tokkel, vul mekaar pragtig met hul stemme aan en elke nou en dan is daar oulike danspassies tussenin, wat die gehoor terdeë geniet.

Hulle raak effe stroef wanneer hulle met liedjies soos “Saturday night” sing en gesels oor hoe erg die eensaamheid is as ’n ster se loopbaan begin wankel, die drankmisbruik en die botoks! Roland vra Michele hoekom sy nog nie botoks gebruik het nie en sy troef hom met ’n lekker storie oor haar eie amper-botoks-ervaring voor sy vier jaar gelede Kaap toe verhuis het.

Hulle mymer oor die goeie ou dae toe kunstenaars iemand gehad het wat hul grimering, kostuums, besprekings en administrasie hanteer het, terwyl hulle vandag alles self moet doen en soms maande sonder werk sit.

Maar voor die atmosfeer te swaar kon raak, begin sing hulle oor die adrenalien, die paniek van werkloosheid, die swart limousines, die slegte behandeling, maar dat hulle nooit soveel lewe deur hul are voel bruis as op die verhoog nie. Die liedjie “But alive” se note sterf skaars weg toe hulle vertel dat die vermaaklikheidswêreld hulle gelukkig maak en die enigste loopbaan is wat hulle ooit sou wou volg.

Vir net meer as ’n uur voel dit of jy in ’n groot sitkamer sit en kyk hoe Michele en Roland gesels, sing en dans, asof hulle gedagtes oor loopbane uitruil, onbewus van die gehoor. Ek kry nie een maal regtig die idee dat daar ’n teks of spesifieke storielyn is nie, so gemaklik is hul optrede, maar dit bly ’n goeie, boeiende teks.

Toe die teater begin leegloop en almal boontoe gaan vir sjokoladekoekies en koffie, leun die veteraan-aktrise en -danser Delia Sainsbury oor na my toe en sê: “Michele is beslis een van Suid-Afrika se veelsydigste kunstenaars en ons beste jazzsanger.” Sela.

Show and tell
Met: Michele Maxwell en Roland Perold
Deur: Rolska Productions
Regie: Paul Griffiths
Kalkbaai Teater, Kalkbaai
7–31 Mei, Woensdag tot Saterdag om 20:00 en ’n middagvertoning op Sondag 25 Mei om 14:30.
Kaartjies vir die vertoning kos R90 elk en R70 vir die galerysitplekke en kan by www.kalkbaytheatre.co.za bespreek word. Gaste kan ook bespreek vir aandete voor die vertoning by 079 361 8275.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top