SêNet-briewe | Letters

 
Abraham Lincoln ontmasker?

Barrack Obama het 'n foto van Abraham Lincoln (1809-1865) teen die muur van sy ovale kantoor. By sy inhuldigings as president het Obama gekies om op Lincoln se Bybel te sweer. Hierdie Bybel het voorheen aan Martin Luther King jr behoort (Time, 4.02.2013, p 4). Dat Obama se simpatie by swart mag lê, is duidelik. Vorige presidente het gewoonlik die Bybel van een van die "founding fathers" (bv George Washington, John Adams, Thomas Jefferson, James Madison) gekies.

Lincoln se Bybel dien as bevestiging dat hy, die 16de president van die VSA (1861-1865), wel 'n Bybel gehad het, hoewel hy nooit 'n lidmaat van enige kerk was nie. Dit word vermoed dat Lincoln 'n ateïs of ten minste 'n agnostikus was. Omdat die meeste kiesers godsdienstig was, het Lincoln dit egter gerade geag om in toesprake dikwels na die Bybel te verwys. Op hierdie manier het hy in 'n mate daarin geslaag om 'n religieuse beeld van homself op te bou.

Tans word daar in die teaters 'n rolprent oor Lincoln vertoon. Daarin word die hedendaagse stereotipes, die politiek-korrektes, oor Lincoln herhaal. Riëtte Grobler, 'n rolprentresensent, het hieroor in Die Burger se Naweek (9.02.2013, p 11) geskryf: "'n Uitmuntende fliek oor oudpres Abraham Lincoln se stryd om slawerny in die VSA af te skaf." Klaarblyklik is die afskaffing van slawerny, 150 jaar gelede in die VSA, die grondslag van Obama se heldeverering van Lincoln.

In die Collins World Encyclopedia (Glasgow: HarperCollins, 2003) is daar die volgende opsomming oor Lincoln: "During the American Civil War [1861-1865], his chief concern was the preservation of the Union from which the Confederate (southern) slave states had seceded on his election. Lincoln strove to reunite the nation, preserve the federal government, and end slavery. In 1863 Lincoln issued the Emancipation Proclamation, which announced the freedom of Confederate slaves" (p 541). Elders in hierdie bron word gesê dat die proklamasie in 1862 uitgereik is en aan die begin van 1863 in werking getree het, maar net gegeld het in daardie konfederale state wat nog nie deur die Unie-magte militêr onderwerp is nie (p 311).

Die Amerikaanse Burgeroorlog moet onderskei word van die Amerikaanse Rewolusie, die Amerikaners se opstand teen die Britse koloniale bewind, soms die American War of Independence (1775-1783) genoem. Die Amerikaners het teen die Britse ekonomiese uitbuiting in opstand gekom en hulleself in 1776 eensydig onafhanklik verklaar en in 1783 amptelik hulle politieke vryheid van Brittanje ontvang. Om 'n herhaling van uitbuiting deur 'n sterk gesentraliseerde regering te voorkom, is besluit dat, ingevolge die grondwet van 1787, die verskillende Amerikaanse state elk uit vrye wil by 'n konfederasie, die Verenigde State van Amerika, kon aansluit.

Jare gelede het ek Richard Current se opstel oor Lincoln in die Encyclopedia Britannica (1961, band 14, p 139-145) gelees. Dit is sterk pro-Lincoln. Daarvolgens was Lincoln ten gunste van 'n kragtige sentrale regering wat 'n nasionale bank, beskermingstariewe vir plaaslike onderneming en 'n spoorwegnetwerk kon daarstel. Toe Lincoln vanaf 1834 lid van die wetgewende vergadering van Illinois was, was hy teen slawerny gekant, maar wou dit nie afskaf nie. Hy wou dit bloot beperk. Lincoln was ten gunste van die Fugitive Slave Act van 1850, waarvolgens slawe wat gedros en daarna aangekeer is, aan hulle eienaars terugbesorg moet word. Die Louisiana-aankoop deur die VSA van Frankryk in 1803 het uitbreiding weswaarts, met state soos Arkansas (1836) en Nebraska (1867), moontlik gemaak. Lincoln was daarteen gekant dat slawerny in hierdie state toegelaat word. Hulle moet vrye state wees: "places for poor people to go and better their condition" (p 141) .

Na Lincoln se verkiesing as president in 1860, maar voor sy inhuldiging, het die Kongres in 1861, ooreenkomstig sy wens, besluit: "Guaranteeing slavery forever in the states where it already existed" (p 141). In sy inhuldigingstoespraak in Maart 1861 het Lincoln die "Union's indestructibility" beklemtoon (p 142). Nadat sewe suidelike state hulle aan die Unie onttrek het, het die Burgeroorlog in April 1861 uitgebreek. Lincoln het in 1862 gesê: "My paramount object in this struggle is to save the Union, and is not either to save or to destroy slavery" (p 143). Die Emancipation Proclamation (4de paragraaf hierbo) "brought freedom during the war to fewer than 200 000 slaves" (p 143), uit 'n totale getal van bykans 4 miljoen.

Lincoln se standpunt was: "The emancipation process was to be gradual, and the freedmen were to be colonized abroad ... few Negro leaders desired to see their people sent abroad" (p 143). Die vindingryk aangepaste platform van Lincoln se Republikeinse Party vir die presidentsverkiesing in 1864 was "that slavery was the cause of the rebellion [dus van die Burgeroorlog], that the president's proclamation had aimed 'a death blow at this gigantic evil,' and that a constitutional amendment was necessary to 'terminate and forever prohibit' it" (p 143). In 1859 was Lincoln gekant teen stemreg vir swartes. In 1865 was Lincoln egter van mening "that the vote be given immediately to some Negroes - 'as, for instance, the very intelligent, and especially those who have fought gallantly in our ranks'" (p 144); dus aan die kant van die Unie gedurende die Burgeroorlog.

FW de Klerk is op grond van sy konserwatisme tot leier van die Nasionale Party verkies. Nadat hy president geword het, het hy klaarblyklik oorverlig geword en die politieke mag ongekwalifiseerd aan die meerderheid prysgegee. Aanvanklik was my persepsie dat Lincoln op 'n soortgelyke manier, dus van verkramp na verlig, bollemakiesie geslaan het. Daar is egter heelwat meningsverskil hieroor. Tans lyk dit vir my asof Lincoln tot sy dood heelwat konserwatiewe reste behou het, al het hy tydens die Burgeroorlog meer verlig geword.

Die oorwinnaars in die Burgeroorlog, die talryker inwoners van die noordelike state, is oorwegend die skrywers van die Amerikaanse geskiedenis. Aanvanklik het hulle Lincoln so goed moontlik probeer voorstel om die derduisende dooies en die skrikwekkende verwoesting van die oorlog te probeer regverdig. Hy is voorgestel as iemand wat as 'n martelaar gesterf het. Na die aanvang van die swartes se burgerregte-beweging in die 1950's is Lincoln se houding teenoor swartes (en spesifiek teenoor die slawe) al hoe meer politiek-korrek ingeklee. Dit is 'n bekende probleem in geskiedskrywing, naamlik dat gebeure in die verlede en hulle vertolking aangepas word om in te pas by wat later mode geword het.

'n Ander beeld van Lincoln as die populêre een word deur Thomas Dilorenzo voorgehou in sy boek, Lincoln unmasked (New York: Three Rivers Press, 2006). Dilorenzo het voor dit 'n ander boek, The real Lincoln (2003), gepubliseer. Sy jongste boek vul laasgenoemde aan en is spesifiek op die demitologisering van Lincoln ingestel. Dit lyk asof die outeur by kritiek op sy 2003-boek gebaat het. Dilorenzo is 'n ekonoom en nie 'n historikus nie. Dit verduidelik die baie aandag wat hy aan ekonomiese aspekte gee. In die boek is daar ongelukkig heelwat herhaling en die trant is soms propagandisties.

Die suidelike state was yler as die noordelike state bevolk maar het meer slawe gehad omdat daar by uitstek landbou, wat hande-arbeidsintensief was, beoefen is. Die nywerhede, wat kundiger arbeid vereis het, was in die noordelike state gekonsentreer. Die suidelike state word dikwels die slawe-state genoem (soos in die vierde paragraaf hierbo), maar die noordelike state was glad nie vry van slawe nie. Slawerny het daar sedert 1638 bestaan. Newport en Boston was belangrike hawens vir die slawehandel. Skepe vir die Transatlantiese vervoer van slawe is in daardie stede en in Manhattan gebou. Massachusetts was die eerste staat wat slawerny gewettig het. Deesdae word die noordelike state verkeerdelik as histories verlig (politiek-korrek, "benevolent") en die suidelike state as verkramp voorgestel. In dié proses word die suidelike state gedemoniseer.

Dilorenzo maak 'n sterk saak uit vir die aanvanklike onafhanklikheid van iedere staat; dat elkeen uit vrye wil by die federasie of Unie aangesluit het en dus vry was om self te besluit indien hy daaraan wou onttrek. Die reg om oor 17 duidelik omskrewe sake te besluit, is deur die state aan die federale regering gedelegeer. Elke staat was vry om sekere wette waaroor in Washington besluit is, toe te pas of nie. Aanvanklik is hierdie regte eerbiedig. Toe sewe state hulle aan die federasie onttrek, het Lincoln oorlog gemaak. Hy was nie bereid om die saak te bespreek of bemiddeling toe te laat nie. Na die Burgeroorlog is politieke mag toenemend in Washington gesentraliseer en is die regte van state al hoe meer misken. Die Hooggeregshof (Supreme Court) in Washington, met regters wat deur die politici aangewys word, beslis sedertdien oor wat grondwetlik is. Dilorenzo noem dit "fox-guarding-the-henhouse" (Kindle 886). Daarmee is die oorspronklike skeiding van wetgewende en regterlike mag verwater.

Tradisioneel slaan Amerikaners vryheid baie hoog aan. Tydens die Burgeroorlog is feitlik diktatoriale magte aan Lincoln toegeken. Onder die voorwendsel dat die voortbestaan van die Unie bedreig word, het Lincoln politieke teenstanders sonder verhoor ingeperk of aangehou, opposisiekoerante gesluit, regters geïntimideer en selfs 'n lasbrief vir die inhegtenisneming van die hoofregter uitgereik.

Lincoln het slawernyvrye state in die weste begeer omdat hy, volgens Dilorenzo, nie wou hê dat wittes met swart slawe om werk moet meeding nie. Lincoln word voorgestel as iemand wat lewenslank blankes as meerderwaardig beskou het. In 1858 het hy dit uitdruklik gesê. Aansluitend hierby het Lincoln deurgaans die ideaal gekoester dat die swartes, wat hy as vreemdelinge beskou het, na iewers buite die VSA gedeporteer moet word. Van 1816 tot 1892 het sowat 22 000 vrygestelde slawe, hoofsaaklik van die VSA, hulle in Liberië gevestig. In 1861 het dié getal op 12 000 gestaan. Dit is bekend dat Lincoln in 1862 'n groep swartes na die Wit Huis genooi het om hulle oor te haal om na Liberië te emigreer. Lincoln: "There is a moral fitness in the idea of returning to Africa" (K 558). In 1862 het 'n groep vrygestelde slawe hulle na deportasie op 'n eiland naby Haiti gevestig, maar na 'n jaar is hulle terug na die VSA. In 1862 is Panama vir dieselfde doel as 'n bestemming oorweeg. In 1863 het Brits Honduras (Belize) aan die beurt gekom. Hierdie swartes kon hulle vryheid egter nêrens suksesvoller as in die VSA uitleef nie.

Deportasie dui klaarblyklik nie op 'n voorliefde vir swartes nie. Dit is bekend dat Lincoln teen die bloedvermenging van wittes en swartes was. Ook dat hy nie swart regters wou aanstel nie. Daar is baie wat daarop dui dat Lincoln 'n mens van sy tyd was en nie iemand wat hedendaagse politiek-korrekte norme gekoester het nie. Lysander Spooner (1808-1887) was in New England 'n prominente aktivis vir die afskaffing van slawerny. Hy was van mening dat Lincoln slawerny bloot as 'n rookskerm gebruik het om sy eintlike politieke oogmerke te bereik.

Dit lyk asof 'n mens versigtig moet wees om van Lincoln 'n heilige, 'n messias, 'n vader Abraham of 'n Moses te maak. Dit kan bevraagteken word of Lincoln, soos dikwels sonder meer beweer word, die beste Amerikaanse president was. Die voorafgaande behoort 'n mens ook te noop om meer krities oor ons huidige plaaslike messias te besin.

Johannes Comestor


Comments 3 Reaksies | 3 Comments
Delete Comment
avatar
Hans
2013-02-22 @14:05
Johannes Commestor jy het die 'lig' gesien?

Sedert die 1960's se 'Newport music festival' was daar vrae oor waarom die bewussyn teen die 'american dream' juis in Newport? Was dit agv swartbewussynbeweging? Was dit agv die rol wat die hawe in invoer van slawe gespeel het? As daar na die tipe musiek as 'folk' geluister word, bv Pete Seeger, Woody Guthrie of Bob Dylan, kan die bewussyn dikwels in woorde en klanke gehoor word! Obama is as 'n tasbare produk gebore uit die era, wat verwag jy dan?

Hans
Delete Comment
avatar
Stoffel van der Merwe
2013-02-28 @09:29

Baie interessante, insiggewende en nuttige stuk.  Dankie daarvoor.

Ek wil egter reageer op die twee sinnetjies waarin Comestor na FW de Klerk verwys.

Dit is korrek dat die meer konserwatiewe lede van die NP se Koukus in 1989 vir FW de Klerk gestem het. Maar almal wat vir hom gestem het, was nie konserwatief nie en het hom beter geken as 'n man wat nie sy mantel na die wind draai nie, maar vanuit vaste beginsels werk.

Hy het ook nie "oorverlig" geraak nie - hy het bloot die realiteite van sy tyd onbevrees in die oë gekyk.

Hy het ook nie "die politieke mag ongekwalifiseerd aan die meerderheid oorhandig" nie. Die talle kere wat die huidige regering die afgelope klompie jare in die howe aangespreek is omdat hulle die beginsels waarop in 1990-1994 ooreengekom is, verbreek het, sowel as die suksesse wat die burgerlike samelewing behaal het, is getuienis daarvan dat dit beslis nie "ongekwalifiseerd" was nie.

In sy outobiografiese werk "Die laaste trek - 'n nuwe begin" sit hy duidelik die proses wat sy toespraak van 2 Februarie 1990 voorafgegaan het, uiteen.

As iemand wat daardie proses intiem saam deurleef het, kan ek die juistheid daarvan bevestig.

Delete Comment
avatar
Reusedwerg
2013-03-04 @21:00
Baie goeie inset van  jou, Johannes. Ek het my eie mening oor die Amerikaanse  beheptheid met oorlogmaak en hul grootbekke wat hulle na die tyd rek. Ek voel dit aan my water dat die Amerikaners weer 'n plek soek om oorlog te maak en dat hulle op Iran besluit het. Al wat ek weet is dat die enigste oorlog wat die Amerikaners nog ooit gewen het is  hul burgeroorlog.
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address