Poësie | Poetry

 
Saguaro-kaktus
In die Sonoranwoestyn
staan die kaktusse
soos danseresse
met hulle arms
in vrolike posisies.
Vir een nag
dra hulle trosse
wit blomme in hulle arms
& aan hulle vingerpunte –

die langneus-, langtong-vleers van Meksiko
kom van ver om te drink
van die nektar, die kelkwyne,
vir die lang reis terug
oor yl woestyne.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter

Comments 2 Reaksies | 2 Comments
Delete Comment
avatar
De Waal
2013-02-07 @10:55
Hallo Johann

Dis ’n gedig wat interessante feite vir die leser bied. Daar bestaan so baie gedigte wat eintlik niks sê nie. Na die lees van hierdie een is mens so ’n tikkie ryer :)

Twee stukkies kommentaar: vir my is die "&" tussen die woorde nogal steurend. Mens se oog struikel daaroor en trek vir ’n oomblik jou aandag af.

Tweedens: bedoel jy dalk "langtong-vlieërs" en nie "langtong-vleers" nie?

Delete Comment
avatar
Johann de Lange
2013-02-07 @18:20

De Waal

Dit gee my plesier dat jy van 'Saguaro-kaktus' hou. Die natuur is vir my ’n onuitputlike bron van inspirasie & idees. Woestynplante & -diere se oorlewingsmeganismes is fassinerend.

Die ampersand: ek gee toe dat dit ’n effens ongewone element is, maar die gebruik daarvan, ook in die poësie, gaan honderde jare terug: aanvanklik in koerante waar dit ’n welkome oplossing gebied het vir setters wanneer ’n lyntjie teks net nie wou inpas in die ruimte wat daar was nie, & later in logo's, besigheidskaartjies, advertensies, etc. Daar was selfs ’n stadium toe dit beskou is as die 27ste letter van die alfabet, hoewel nie as ’n klank nie.

Ook in Afrikaans was daar voorgangers, bv. Stephan Bouwer, & vele Amerikaanse digters, veral uit die Beat generasie. Dalk het dit daar ’n effens subversiewe allure bygekry, iets wat vir my aantreklik was. My persoonlike besluit om dit te begin gebruik, het verskeie redes: met 'Die Algebra van Nood' wou ek onder meer die element van algebra, van die poësie as ’n soort matesis, oordra. Benewens daardie aspek het die gebruik daarvan die gevoel van die gedig op die oog verander, dit het ’n invloed gehad op die tempo waarteen gedigte gelees word, & ten slotte is dit vir my op estetiese vlak ’n lieflike element om te gebruik. Semanties gesproke sou mens kon sê dat dit nie betekenisdraend in sigself is nie, so die gebruik daarvan word dan grootliks een van konvensie. Ná Algebra het ek besluit om dit in al my werk vorentoe, sowel as ál my vroeër werk , te gebruik. Ek wou dit altyd gebruik, maar dit sou moeilik gewees het vir ’n jong digter in die vroeë Tagtigs wat boonop ook nog gay gedigte geskryf het, om sy sin met soiets te kry. Ons kon nie eens volkleur-omslae kry nie, twee kleure was die reël. Vandag se skrywers weet nie hoe goed hulle dit het met die tegnologiese & ander ontwikkelings om sulke pragtige omslae te kry as wat hulle die afgelope jare kry nie. Al wat ek kan vra, is dat jy ’n bietjie volhard totdat jou oog gewoond raak daaraan. Vir my het dit in die begin ook vreemd gevoel om daarmee te skryf; vreemd, maar mooi.

Vleers: 'vleer' is ’n ou woord vir vlermuis, & ek het dit die eerste keer teengekom meer as 30 jaar gelede in ’n reël van Sheila Cussons in haar gedig "Die Etser" waar sy skryf, "in swart lig en helwit skaduwee / waar die vleer hou en die uil en die ondinklike ding". Dit het dus te make met oer elemente, met die primordiale. Die woord het altyd by my gebly (ek het ’n liefde vir ou woorde wat ek van Ernst van Heerden & Hennie Aucamp gekry het) tot met die kaktus-gedig waar ek die suggestie van iets baie oud, iets óér, wou oordra, & die gebruik van die ou woord 'vleers' in stede van 'vlermuise' het presies dit vir my gedoen. 

Ek hoop ek het bietjie lig kon werp op jou vrae. Dit het my weer Sheila se gedig laat herlees & net weer eens bevestig dat Plektrum die mooiste, die beste debuut ooit in Afrikaans is. Vir my, in elk geval.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address