Ryno Velvet: "Omstandighede en begrip speel ’n groot rol ..."

  • 0

Die rocker Ryno Velvet is terug met ’n kraakvars, diverse album genaamd Alfabet. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Ryno. Hoe’s dinge?

Hou die "carbon footprint" laag soos altyd. Ontspanne dankie.

Moerse geluk met die vrystelling van die album Alfabet. Voor ons kom by die tjoens ... As ek twee en twee reg bymekaartel, was daar ’n paar hindernisse in die pad na die vrystelling – byvoorbeeld, hy sou by Oppikoppi 2013 launch, maar toe’s jou band se gig daar ’n (weliswaar befokte) covers set. Hoe hét die pad na die album verloop? En noudat hy uit is, hoe voel jy postnataal oor hom?

Baie dankie. Inderdaad, ons het ons hand ’n paar keer oorspeel wanneer dit by die vrystellingsdatum gekom het. Meestal om soniese redes, wat ons gevoel het moes in plek wees. Ons wou wag vir die geskikte oomblik sodat almal betrokke kon sinkroniseer. 

Ek sou dit idillies gevind het as ons, soos beplan het, Alfabet by Bewilderbeast kon vrystel, maar van al die lesse wat ons hierdie ronde om geleer het, sal ons nie weer gou wolf skree nie ...

Die snitte het nogal in die algemeen ’n meer “cinematic” gevoel daaraan as jou vorige uitreikings – dit voel of daar produksiegewys heelwat meer aan die gang is. Was dit deel van jou beplande aanslag, of hoe het dit verloop? Wat was daar andersins aan jou benadering tot Alfabet wat jy spesifiek anders as voorheen wou doen?

Die skryfproses met Alfabet was baie meer streng en tydsaam as voorheen. Om die idees meer tyd te gee om te vorm en ’n tipe anatomie te ontwikkel, het baie gehelp toe ons met produksie begin. 

Daar was goed beplan, voor en gedurende opname, om sekere estetiese waardes te behou en TeeJay Terblanché het hom goed van sy werk as vervaardiger gekwyt deur elke moontlikheid te toets en op goeie konsepsuele kreatiwiteit staat te maak.

Dit voel wel of jy steeds ’n klem plaas op sterk choruses met sterk melodieë (veral op “Luister met hande”, maar op almal, is daai chorus onmoontlik om te ignoreer), te midde van baie kragtige klankwerk. Hoe werk jou liedjieskryfproses in hierdie opsig? Hoe vloei die melodieë, lirieke en dit wat jy vorentoe wil druk wanneer jy skep? Enige filosofieë rondom die skep van ’n solid snit?

Omstandighede en begrip speel by my ’n groot rol wanneer dit kom by skryf. Ek glo in die natuurlike ontwikkeling van, in die oomblik, ’n idee bymekaar te sit, maar maak nie noodwendig daarop staat nie. Om harde werk in ’n snit te sit baar dikwels vrugte en om simplisties te dink werk ook. 

Ek voel ’n goeie balans tussen die twee hou die skrywersblok op deë en ’n vars perspektief op jou kreatiwiteit.

Daar’s nogal diversiteit te bespeur op die album: “Onskuldig” het byvoorbeeld ’n lekker reggae-inslag, “Voetstog” speel in ’n rokerige blues bar af, op “Berge” duik ’n geluksalige banjo op. Wat is vir jou die waarde daarin om verskillende genres en style te verken met liedjies skep en opneem, en wat is die uitdagings daaraan verbonde om sulke uiteenlopende snitte op een album met een ruggraat te laat werk?

Daar was, soos voorheen, geen perke aan styl of genre nie. Ek het nog altyd van die geleentheid gebruik gemaak om met verskeie genres te eksperimenteer, en veral in Afrikaans – onder andere rock, blues, reggae ens. Die uitdaging om dit te laat werk op ’n album was nog nooit, en sal seker nooit, eenvoudig wees nie, maar ek dink met die regte vervaardiger raak dit moontlik. Na elke album begin jy meer van jou eie klank en styl hoor deursyfer, wat as dit behoorlik ontwikkel word, help om progressief te bly.

Die lirieke is dikwels poëties en soms abstrak … ek vermoed die meeste Afrikaanse liedjieskrywers beleef soms ’n sielestryd met lirieke in terme van wat gesê moet word, en hoe om dit toeganklik te maak. Ervaar jy dit enigsins, of hoe beskou jy daardie element? Het jy dit byvoorbeeld ooit oorweeg om ’n liriek soos “In die oggend/ tel ek weerlig”, wat so heerlik werk daar, om te skryf tot “In die oggend/ sokkie”? 

Baie het verander sedert Afrikaans "Tarantino" gegaan het. Ek glo om eerder te bly met wat ek ken en wat natuurlik kom. Om te ontwikkel as liedjieskrywer is meer belangrik as om toeganklikheid te fasiliteer deur met ’n norm te vereenselwig.

Op daardie noot: Wat is jou gevoel oor die plaaslike musiekbedryf in die algemeen, en ook spesifiek dit wat in Afrikaans uitkom? Wat sou jy anders wou sien daaraan, en wat sal jy spesifiek wil hê moet nié verander nie?

My kennis oor die ernstige Afrikaanse populêre kultuur is vaag. Die filtersisteem het al ’n paar slagoffers opgelewer sedert daar beperkte platforms is vir "kunstenaars" om vanaf te werk. Al twee fasette is nodig vir gesonde groei: 'n behoorlike filter én behoorlike platforms wat ondersteun word.

Ryno Velvet (en band) is al geruime tyd op die toneel … Enige spesifieke optredes of plekke waaraan jy kief herinneringe koester? En eniges wat jy eerder sal wil vergeet? Waarom?

Ons is baie geseënd met wonderlike tye en mense van dag een af. Om te moet uitsonder is baie moeilik. Daar was by oomblikke die mees onvoorsiene fokops ooit en by tye die mees onvergeetlike ervarings, wat niemand my sal glo in herhaling nie. My onlangse ateljeeseisoen was tot dusver ’n groot hoofstuk – veral om die ontwikkeling te beskou was fenomenaal. Dit was soos om in die toekoms in te staar ... vir ‘n oomblik.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Ryno Velvet in?

Progressiwiteit.

Wat is die sin van die lewe?

Momentum. Beweging is oorlewing.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top