The Grand Budapest Hotel
Regisseur: Wes Anderson
Spelers: Ralph Fiennes, Tony Revolori, F. Murray Abraham, Adrien Brody, Jude Law, Saoirse Ronan, Edward Norton, Willem Dafoe
Ek het baie uitgesien na hierdie fliek, maar het nogal teleurgesteld uit die teater gestap. Dit het steeds Wes Anderson se eiesoortige humor, nougesette aandag aan detail en beeldskone kinematografie, maar die fokus is te versplinter. En hoewel dit net 100 minute is, het die fliek te lank gevoel, oftewel, ek het gaandeweg verveeld geraak.
Dis ’n storie in ’n storie in ’n storie – al klaar ’n moeilike opset, want daar moet in elke storie ’n hoofkarakter of hoofkarakters wees, en met watter stel karakters identifiseer die kyker nou? ’n Bejaarde skrywer (Tom Wilkinson) kyk terug op sy lewe en die wonderbaarlike stories wat mense vir hom vertel het en wat hy dan in romans omskep het. Soos die verhaal van die Grand Budapest Hotel in die fiktiewe Republiek van Zubrowka.
Deur die skrywer se herinneringe gaan die leser terug in tyd na die eintlike storie: meneer Zero Moustafa (F. Murray Abraham), die eienaar van die hotel (nou derderangs en taamlik vervalle), vertel die skrywer (Jude Law as sy jonger weergawe) van sy beginjare daar as lobby boy (gespeel deur Tony Revolori). Die verhaal behoort oor meneer Moustafa te gaan, maar die fokus is heeltyd op die onvergelyklike monsieur Gustave (Ralph Fiennes), destydse concierge van die Budapest. Die gebeure wat ontvou, is net so absurd soos ’n mens gewoond is van Wes Anderson, maar dit slaag nie op dieselfde manier as Moonrise Kingdom of Darjeeling Limited nie.
Helaas is dit ’n driesterfliek – met ’n halwe ster wat toegeken word aan die wonderlike ski-toneel. Dis die enigste deel waar die fliek werklik snaaks is, want al die ander snaakse oomblikke het ’n mens reeds in die lokprent gesien.
Sterre: 3½
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.