Resensie: Fading Gigolo

  • 1

Regie en draaiboek: John Turturro
Spelers: John Turturro, Woody Allen, Sharon Stone, Vanessa Paradis, Liev Schreiber, Sofia Vergara

Hierdie fliek is soos geen ander fliek wat ek al gesien het nie. Dit het die gevoel van ’n Europese kunsfliek – John Turturro, die draaiboekskrywer, regisseur én hoofakteur, is immers van Italiaanse afkoms. Maar ook nie heeltemal nie, want daar is ’n definitiewe Nuwe Wêreld-element, eintlik New Yorkse element. En natuurlik voel dit ’n bietjie soos ’n Woody Allen-fliek, maar nie so neuroties en freneties nie.

Fioravante (Turturro) het voor Murray (Allen) in Brooklyn in New York grootgeword, en hulle is ou vriende. Ná drie geslagte moet Murray sy tweedehandse boekwinkel toemaak, en Fioravante moet nuwe werk kry. Met ’n besoek aan sy dermatoloog (Sharon Stone) hoor Murray dat sy, ’n getroude vrou, en haar minnares (Sofia Vergara) graag ’n ménage à trois wil hê. Murray meen Fioravante is net die regte kandidaat; hy sal as koppelaar optree en die fooi vasstel, natuurlik teen ’n persentasie van die vergoeding.

Intussen het Murray se kleinkinders weer met kopluise van die skool af gekom, en Murray neem hulle na Avigal (Vanessa Paradis) in die Hasidiese buurt. Sy is die jong weduwee van ’n rabbi, en Murray bied Fioravante se dienste as “heler” aan haar. Tot konsternasie van veral Dovi (Liev Schreiber) van die buurtwag wat toesig hou oor die streng nakoming van die Joodse wette.

Hierdie fliek het verskeie betekenisvlakke, onder meer dat jonk en mooi nie alles is nie – ouer en beleë het soveel meer inhoud. Veral opvallend is hoe rigiede fundamentalisme teenoor ’n oper, meer menslike lewensbeskouing gestel word. Dis een van daardie flieks wat verleidelik fluister eerder as skreeu, teen die agtergrond van die mooiste klankbaan met jazz-saksofoon.

Dit word hoog aanbeveel, veral vir die meer beleënes (lees: ouer as veertig), maar as jy kunsflieks verpes, moet jy wegbly.

 

 

Sterre:

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Johan Coetzee

    'n Onvergeetlike ervaring om FADING GIGOLO te kon sien. Ja, vele fasette van menswees. Woody-agtig maar Turturro is 'n groot hoogtepunt. Gewones soos ek kry hier baie moed. Net soos die boekwinkel deure sluit in die fliek sal ons dit op eie bodem ook eersdaags ondervind met die skamele Afrikaanse klompie boeke wat jy na fliek in EB in die Waterfront gaan soek. Moedeloos om R185.00 te moes betaal vir 'n 85 bladsy boekie met 'n engel op die voorblad...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top