Resensie: Birdman

  • 1

Birdman

Regisseur: Alejandro Iñárritu
Spelers: Michael Keaton, Edward Norton, Emma Stone, Naomi Watts, Andrea Riseborough, Lindsay Duncan

Alejandro Iñárritu se vorige films – Amores perros (2000), 21 Grams (2003), Babel (2006) en Biutiful (2010) – plaas hom op die lys van regisseurs wie se werk ernstige fliekkykers nie misloop nie. Van almal beskou ek Birdman as sy moeilikste film, maar dis absoluut die kyk werd.

Riggan Thomas (Michael Keaton) was jare lank die superheld Birdman in die gelyknamige flieks, maar nou is hy oor die muur. Ná soveel jare van kommersiële sukses wil hy teruggaan na sy eerste liefde – teater – met ’n verwerkte Raymond Carver-verhaal waarvan hy teksskrywer, regisseur én hoofakteur is. Openingsaand kom al nader; die akteur wat teenoor hom moet speel word beseer en Riggan moet baie vinnig ’n plaasvervanger vind. Sy hoofaktrise (Naomi Watts) betrek haar man (Edward Norton), een van die mees gerekende akteurs op Broadway, en die vertoning kan voortgaan – met agter die gordyne Riggan se dogter Sam (Emma Stone), pas uit rehab, wat instaan as sy assistent.

In dié veelvlakkige film is ’n verskeidenheid temas só vervleg dat jy later voel jy dool in ’n labirint rond. Hierdie gevoel word versterk deur die filmstel: die labirintagtige gange en trappe van een van die werklike teaters in Broadway. ’n Mens sit vasgenael en kyk hoe die akteurs ossilleer tussen die karakters wat hulle ís en die karakters wat hulle spéél. Uiteindelik is hierdie “play within a play” ’n besinning oor kuns en die kunstenaar, oor “hoë” kuns versus kommersiële kuns.

Birdman is ’n stuk filmkuns wat groter as lewensgroot is, maar maak seker dat jy die regte kyker daarvoor is.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top