Propvol boekeprogram by Clover Aardklop 2014

  • 0

Die ATKV Boeke-oase se program by vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom is oudergewoonte propvol opwindende boekbekendstellings, boekgesprekke, teatergesprekke en voorlesings.

Geleë in Hoffmanstraat (oorkant Die Bult) is dit ’n ware oase met Graffiti se reuse-boekwinkel, Jan se tweedehandse boeke, ’n lekker koffiewinkel en die lokaal waar alles plaasvind gerieflik bymekaar. Alle gesprekke/geleenthede wat by die Boeke-oase aangebied word, is gratis.

Daar word vier teatergesprekke deur die loop van die week aangebied waar die geselskappe oor die produksies gesels en vrae beantwoord, onderskeidelik die komiese Afrikaanse opera Poskantoor (7 Okt – 11:00); die nuwe vertaling en verwerking van Anton Tsjechof se Die seemeeu (8 Okt – 14:00); die omstrede Dogma, wat verskeie pryse by die Absa KKNK gewen het (9 Okt – 11:00); en die epiese, historiese drama Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles (10 Okt – 11:00).

In Die Griekwastad-seun, Oscar Pistorius … soos bekendes in ons huise gesels Charné Kemp en Ilse Salzwedel oor hul onderskeie boeke Moord op Griekwastad – Die storie van die Steenkamp-treurspel en Van sprokie tot tragedie in die kollig (7 Okt – 13:00); terwyl Marthie Maré in Wat verklap jou gesig van jou persoonlikheid? vertel wat presies fisionomie is. (7 Okt – 15:00)

Die gewilde en ervare skrywers Wilna Adriaanse, Erika Murray-Theron en Anchien Troskie gesels so saam-saam oor hul onderskeie boeke Dubbelspel, Stippellyn en Vermis op Allesverloren. (8 Okt – 10:30)

 

Feesgangers gaan die seldsame geleentheid hê om die Belgiese skrywer en dramaturg Tom Lanoye en Daniel Hugo vir die eerste keer ná die verskyning van Sprakeloos op dieselfde verhoog te hê. Hugo het vanjaar die Suid-Afrikaanse Akademieprys vir vertaalde werk gekry vir sy vertaling van Lanoye se outobiografiese roman. (8 Okt – 12:00)

Simon Bruinders, bekende akteur van onder meer Broer Matie, Egoli en Swartwater, is nou ook skrywer. Hy vertel van waar die storie van Die sideboard, wat in 1939 afspeel, vandaan kom en lees ook daaruit voor. (8 Okt – 15:30)

Skrywer, navorser, akademikus en taalman Hans du Plessis beloof om die leser opnuut mee te sleur met sy jongste historiese roman, Inboekeling, wat delf in die geskiedenis van trekleiers wat kinders van veediewe weggevoer en as slawe grootgemaak het. (8 Okt – 17:30)

Een teks, talle vorms: Hartland, Donkerland en Kruispad met Kerneels Breytenbach is ’n gesprek oor die andersoortige en uitdagende pad wat geloop is om Deon Opperman se gewilde televisiereekse tot romans te verwerk. (9 Okt – 12:30)

Francois Smith se Kamphoer, die ware verhaal van ’n vrou wat gedurende die Anglo-Boereoorlog verkrag, vir dood agtergelaat is en jare later weer haar verkragters teëkom, maak opslae sedert dit uitgereik is. Tertius Kapp en Fransjohan Pretorius praat met Smith oor dié boek wat deur resensente geloof word. (9 Okt – 14:00)

Harry Kalmer is ’n Johannesburger in murg en been en met ’n Duisend stories oor Johannesburg bring hy hulde aan die stad en sy mense – uitgewekenes, terugkerendes en dié wat nog altyd daar gebly het, hul wel en wee deur die twintigste eeu en die plekke waar hulle in hul lewens beland het. (9 Okt – 15:30)

Die gewilde Hardop met vers en wyn is terug. Die digters wat van hul gedigte gaan voorlees, is Danie Marais, Melt Myburgh, Dominique Botha, Daniel Hugo en Tertius Kapp. (9 Okt – 18:00)

In Die wonder van die goddelike liefde gee Chris van der Merwe aan die leser leidrade om die misterie van die goddelike liefde beter te kan verstaan. Hennie van Coller gesels met hom. (10 Okt – 12:30)

Die verhaal van die reeksmoordenaar Abel het uitgeloop en nou is Chris Karsten terug met ’n splinternuwe spanningsverhaal, Die respektabele meneer Hartslief. Karsten kom al die pad van Kanada af vir die bekendstelling van die boek. (10 Okt – 14:00)

Loftus Marais gesels met Chris van der Merwe oor Die houtbeen van St Sergius, ’n bundel opstelle oor die Suid-Afrikaanse letterkunde. Diegene wat wonder watter boeke die titel van die Groot Afrikaanse Roman verdien, moet beslis aansluit. (10 Okt – 15:30)

Die week se boekprogram word afgesluit met Jannie Smuts: die staatsman, die vriend, die poësieliefhebber met Christof Heyns, Willem Gravett, Charles Comley en Kobus du Pisani. Met kenners, kritici en aanhangers saam op een verhoog beloof dié gesprek van ’n uur-en-’n-half om die gehoor vasgenael te hou. Verskeie boeke oor Smuts is te koop. (11 Okt – 10:00)

Die fees word van 7 tot 11 Oktober in Potchefstroom aangebied. Die program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top