Phuthuma-aandeelhouers moet verkieslik nog vasbyt

  • 0

SEB-aandele toon groei

Toe Naspers en MultiChoice Suid-Afrika in 2006 en 2007 die Phuthuma Nathi fase 1- en 2-aandeleskemas onderskeidelik geloods het, was die verwagting dat dit ’n breë bemagtigingsbasis aan hierdie maatskappye sou verleen. Indien die skema op die koop toe ’n wins sou toon, sou dit ’n bonus wees. Wel, dis vyf jaar later en vir die geduldige beleggers het die hoop nie beskaam nie.

Die skema se 120 000 aandeelhouers, van wie die oorgrote meerderheid swart Suid-Afrikaners is, besit tans 20 persent van MultiChoice Suid-Afrika, met Phuthuma Nathi fase 1 wat 13,3 persent en Phuthuma Nathi 2 wat ’n verdere 6,7 persent van die maatskappy besit. Sedert sy ontstaan het die aandeleskemas meer as R1 miljard in dividende verdien, wat aangewend is om die skuld van die skemas te delg. Soos wat die skuld verminder het, het die waarde van Phuthuma Nathi toegeneem.

My belangstelling in die skemas is daarin geleë dat ek as ’n trustee betrokke was by die Media24 Rachel’s Angels Bemagtigingstrust. Die projek het ten doel om die vermoë van belowende studente uit benadeelde gemeenskappe te verbeter, sodat hul kanse op toegang tot universiteit sal verbeter. Dit word gedoen met behulp van ? mentorskap-program waarby studente van die Universiteit Stellenbosch betrokke is. Die afgelope vyf jaar was meer as 20 hoërskole en meer as 600 matriekleerders in die Wes-Kaap, asook meer as 500 studente van die Universiteit Stellenbosch, by hierdie opwindende inisiatief betrokke.

Die Rachel’s Angels-projek is geskoei op die beginsel van gemeenskapsinteraksie en is ? vennootskap tussen die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, die US en Media24. Met hierdie projek streef die US en sy vennote daarna om gedeelde strategieë daar te stel wat nie net hoop bied vir voorheen agtergestelde studente nie, maar ook beoog om sosiale en ekonomiese ontwikkeling te bevorder. En dis hier waar die konneksie met Phuthuma Nathi gemaak word, want skole en studente wat hul verpligtinge in die program nakom, wat elke werkswinkel wat op die leerders se emosionele groei en akademiese prestasie ingestel is, bywoon, word beloon met Phuthuma Nathi-aandele. Deel van die projek is dat ons daaraan glo om die deelnemers aan die projek ook ekonomies te bemagtig.

In terme van die skema se reëls kan Phuthuma Nathi-aandele na ’n vyfjaar-tydperk oor die toonbank verhandel word. Hierdie geslote periode het op 8 Desember ten einde geloop. Die aandele mag egter steeds net deur swart individue en groepe (soos deur die skema bepaal) gekoop of verkoop word. Hierdie reëling verseker dat MultiChoice sy verpligtinge van sy uitsaai-lisensie ten opsigte van swart aandeelhouding nakom.

Die vraag wat al Phuthuma Nathi se aandeelhouers nou vra, is of hulle hulle aandele moet verkoop of nie, nadat baie beleggers verward was toe die aandele op die eerste dag teen R25–R28 verhandel het. Die aandele was aanvanklik beskikbaar teen R10 elk.

Met die skryf van hierdie artikel was die aandeel ongeveer R50 werd. Anders gestel: individue wat vyf jaar gelede R1 000 belê het (100 aandele) sal nou R5 000 daarvoor kry. ’n Groep (of skool) wat R10 000 (1 000 aandele) belê het, se opbrengs sal nou R50 000 wees. Indien jy dus nou verkoop, sal jy ’n lekker wins maak.

Tog is kenners van mening dat die aandeel in die toekoms nog meer werd sal wees. Verskeie ontleders wat op MultiChoice se versoek die aandeel geëvalueer het, glo dat die huidige aandeelprys ver benede sy intrinsieke waarde is. Sasfin Sekuriteite en BOE Private Kliënte het albei die aandeel op R124 waardeer, AfriFocus skat die waarde van die aandeel op R129, terwyl Kagiso Batebestuur meen die aandeel is tussen R120 en selfs R170 werd.

My advies aan aandeelhouers is dat hulle vir eers moet vashou aan hierdie aandeel, ten minste vir nog ’n rukkie. Die algemene konsensus in die mark is dat indien aandeelhouers nou verkoop, hulle op kort termyn wel goeie wins op hul belegging sal toon, maar diegene wat dit kan bekostig om te wag, sal op lang termyn meer waarde vir hul geld kry.

Vir meer inligting word beleggers en potensiële beleggers aangeraai om die maatskappy se webtuiste te besoek.

Michael le Cordeur is ondervoorsitter van Media24 se Rachel’s Angels Trust. Hy is ook die voorsitter van die ATR, en dosent aan die US se Fakulteit Opvoedkunde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top