Phil du Plessis (1944–2011): Jy onthou Phil, want jy kán nie anders nie

  • 5

Phil du Plessis was altyd trots dat hy as Wurm-digter gereken word. Saam hiermee was dit sy vreugde om, soos hy dit dikwels gestel het, “te lees en gedigte te skryf, om viool te speel en skilderye te geniet”. Dit is wat hy die grootste deel van sy lewe gedoen het – tot met sy dood – vanoggend. Sy onvergelyklike uitsig uit sy eertydse koloniale dubbelverdiepinghuis in Kalkbaai op Valsbaai kon hom nooit heeltemal Kapenaar maak nie. Die huis op die spoorlyn met die see aan die ander kant het hom - gebore en getoë binnelander (eers Vrystater en later Pretorianer) – nooit eers kon verlei om sy tone in die Atlantiese Oseaan nat te maak nie.

Ek het Phil in 1978 ontmoet – op een van sy Woensdagmiddagkuiertjies in die Kaap. As praktiserende geneesheer het hy homself elke Woensdagmiddag afgegee om by sy Kaapse vriende te kom kuier. Eers het ons saam gekuier by Elsa Joubert en Klaas Steytler se Oranjezicht-huis en later was my adres ’n gereelde aandoenplek. Toe ek hom laas gesien het, het ons, ondanks sy siekte en beperkte energie, nog oor gedigte en skilderye gesels.

Jy kan ’n lang omdraai loop om oor Phil du Plessis te gesels. Self kon hy eindeloos uitwei oor die studentejare by die Universiteit Pretoria waar hy en mede-Wurm-digter Casper Schmidt hulle elke tydjie wat afgeknyp kon word, bemoei het met die “politiek” van die Wurm-tydskrif, wat onder Phil se leiding gestig is. Dit was, as Phil daarvan vertel het, vir hom die middelpunt van die Afrikaanse letterkunde na sestig. ’n Mens wou nie juis hieroor met hom stry nie. In die Wurm-geledere was daar De Waal Venter, DPM Botes, Marié Blomerus, Wessel Pretorius, Stephan Bouwer, NA Liebenberg, die Katolieke priester Bonaventure Hinwood (skryf onder die pseudoniem Hewitt Visser) en Wopko Jensma. Ander wat ook so rondom die groepie betrek was, was Wilhelm Knobel, Rosa Keet, PH Rhoodt, Jeanne Goosen, Welma Odendaal, Chris Pelser en George Weideman, en ook was daar gereelde kontak met Wilma Stockenström. Oor die bydrae van Wurm (eksemplare daarvan is besonder gesog) het André P Brink en Jan Rabie hulle al gunstig uitgespreek.

Phil het homself as ’n “minor poet” beskryf. Hy was altyd besig met woorde. Die digbundels wat uit sy pen verskyn het, het Perskor en Tafelberg as uitgewers gehad, maar meer dikwels het hy dit self gepubliseer en dan kunstenaars daarby betrek om werklik versamelaarsuitgawes die lig te laat sien. Onder die kunstenaars wat hy só betrek het, tel Alice Goldin, Braam Krüger, Gus Ferguson, Hugo Slabber, Jan Visser en Judith Mason. Hierdie bundels is altyd na ’n konsert (waar Phil die viool gespeel het) bekendgestel.

Hy debuteer in 1971 met Geskrifte om ’n houtgesig, gevolg deur Die diep soet afgeronde stem van my dooies (1975); Lyksang (1980); Ek sing waar ek staan (1986); Dae voor winter (1989); Openbaringe van Johannes (1992); Op koueberg (1993) – ’n verwerking van Han Sjan se gedigte uit Engelse weergawes; Engel uit die paradys (1994); Nagjoernaal (1996); Herakles by Valsbaai: Gedite 1996–1999 (1999) en Woordweer (2004).

Met die nuus dat Phil nie meer met ons is nie, skryf ek oor die onthou-dinge wat by my opkom. Ek onthou Phil se opgewondenheid as dit tyd geword het vir die jaarlikse Afrikaanse Skrywersberaad. Dit was vir hom ’n joltyd en tyd om weer in verbinding te wees, veral met sy eertydse Wurm-kring. Soms het hy aan die debatte deelgeneem, maar meestal het hy met aandag geluister en later oor vele glasies wyn net gekuier. In die laat sewentigerjare het Phil die idee gehad dat hy – soos met Wurm – weer ’n tydskrif wou begin om veral die Afrikaanse boek te bevorder. Hy was so daarmee meegevoer dat hy ’n tweedehandse drukker aangekoop het om self drukwerk te doen. Hy het probeer befondsing reël, maar het toe nie dieselfde aftrek gehad as met sy vroeëre poging nie.

Wat Phil by uitstek gekenmerk het, was sy vermoë tot vriendskap. Hy het mense vanoor die hele spektrum bevriend. Sy sagte hart het Klaas Steytler met geleentheid laat opmerk dat Phil soos Sint Francis van Assissi was – mense het altyd by Phil deernis gevind. Almal was altyd welkom aan sy huis en Sondae was sy middagetes, wat hy self voorberei het, gesog onder vriende en kennisse.

Om oor Phil se besorgdheid oor sy medemens te praat, verdien ’n relaas van liefde. Hy het soms dinge gedoen wat sy vriende oor sy veiligheid laat vrees het. Verwondes het dikwels sy oor en sy hart gehad. Om enkele voorbeelde van sy ruimhartigheid te noem. Toe Phil verneem dat Wopko Jensma in Valkenburg-hospitaal opgeneem is, het hy onmiddellik, as geneesheer, gebel en aangebied dat Wopko onder sy sorg in sy huis kon bly. Hy het Sheila Cussons genooi om onder sy sorg by sy Kalkbaaise huis aan te sterk na ’n ineenstorting. Vele meer kan by die lys gevoeg word.

Ek onthou veral twee spesiale geleenthede saam met Phil. Hy was die geneesheer van die Amerikaanse skrywer en antropoloog Robert Ardrey en sy vrou, die aktrise Berdine Grunewald. Hulle het in St James kom aftree. Met Phil het ek menige wonderlike aande saam deurgebring in hierdie twee se geselskap en het ons met verwondering geluister na die skrywer wie se boeke African Genesis en The Territorial Imperative kultusstatus geniet het. Een van die onvergeetlike stories was toe Ardrey van sy vriendskap met die filmmeester Stanley Kubrick vertel het. Juis onder Ardrey se invloed het Kubrick later die film 2001: A Space Odyssey gemaak. Toe Ardrey in Janaurie 1980 sterf, was Berdine ’n gereelde Sondag-gas by Phil. Oopmond kon ons luister na haar lewe as aktrise en haar verblyf met Adrey in Rome.

Een aand, so in die middel van die week, nooi Phil my vir ete “met mense wat vir jou ’n verrassing sal wees”. Die afspraak is dat ons ons gaste inwag by die Brassbell-restaurant by St James-stasie. Byna ’n uur wag ons - ek in spanning - totdat ons gaste arriveer: die aktrise Janet Suzman en haar man, Trevor Nunn. Dit was ’n aand waar die hoofdis Britse teater op sy beste was, maar dit was ook ’n aand van hartseer vir ons gaste – hulle het toe pas besluit dat hul weë sou skei. Toe ons later op die kaai by Kalkbaai stap, begin Janet enkele strofes uit TS Eliot se “Little Gidding” met ’n byna fluisterstem vir ons voordra.

Verlede jaar was ek en Phil weer byeen om, soos in die vroeë tyd, van ons vriendskap oor die poësie en die kuns te gesels – dié keer oor Wopko Jensma. Phil het betekenisvolle werk van Jensma aan sy mure. Een enkele vlugtige keertjie het ek Wopko ontmoet – juis by Phil.

Ek besef dat dit ’n persoonlike relaas is. Maar só was Phil. Jy het ’n persoonlike verhouding met hom gehad. Tog was daar ook met my laaste kontak vir my ’n hartseer – dit was nie meer die ou Phil nie. Iets van die lewe het hom ingehaal. Kort daarna vertel ek vir Riana Scheepers en Hennie Aucamp oor middagete van hierdie laaste ontmoeting met hom. Elkeen van ons kon iets besonders van ons ontmoetings met Phil oproep.

Vandag dink ek dat die broosheid en verwondheid wat kennelik ook deel van hom was, hom tot voordeel kon strek. Dit was die rede waarom hy so volledig mens was. Jy onthou hom, want jy kán nie anders nie.

 

  • 5

Kommentaar

  • Johann en Lina Kritzinger

    As jong mense het ons heerlike aande saam met Braam Kruger en Phil in sy pragtige huis gekuier en baie stories gedeel!

  • Hansie Bowker nee Nel

    My mentor, vriend, nes hy was. Dankie, juweel van n mens. Arriveer op Luderitz 1972 as die 'Hippie-dokter'. Die gemis sal nooit weggaan nie.

  • Marié Blomerus, Namibia

    Mees besondere mens en vriend, en hoe het ons aan die Wurm geworstel. 'n Mens kan nooit vergeet nie en ek sê nimmer vaarwel aan die besondere mens wat dikwels aan my eenvoudige tafel geëet het nie. "A man for all seasons."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top