PEN Afrikaans: Notule van die tweede algemene vergadering

  • 0

PEN Afrikaans
Notule van die tweede algemene vergadering van lede
om 14:00 op Dinsdag, 24 September 2013
in lokaal G02 (Frans du Toit-gebou, E9 op die NWU-kampus)

Teenwoordig
Die bywoningsregister word deur die volgende 13 lede geteken:
Sonja Loots, Kerneels Breytenbach, Nelleke de Jager, Naomi Bruwer, Hein Viljoen, Hans du Plessis, Wannie Carstens, Andries Visagie, Theresa Papenfus, Corlia Fourie, Franci Greyling, Heilna de Plooy, Amanda Lourens.

Verskonings
Verskonings is van die volgende 43 lede ontvang:
Zandra Bezuidenhout, Cecile Cilliers, Pienkes du Plessis, Louis Esterhuizen, Rachelle Greeff, Marie Heese, Helena Hugo, Antoinette Klein, Karen Kuhn, Trienke Laurie, Nicolaas Luwes, Johann Lodewyk Marais, Estelle Neethling, Bernard Odendaal, Desmond Painter, Fransjohan Pretorius, Leopold Scholtz, Naas Steenkamp, Madeleen Theron, Hennie van Coller, Susan van Zyl, Wium van Zyl, Rudi Venter, Cas Vos, Elsa Winckler, Erika Oosthuizen, Fanie Olivier, Andries Bezuidenhout, Murray la Vita, Melt Myburgh, Herman Giliomee, Marga Stoffer, Amanda Botha, Chris van der Merwe, Ingrid Glorie, Renee Conradie,  Koos Kombuis,  Robert Pearce, Engemi Ferreira, Dineke Volschenk, Fourie Botha, Uys van der Hoven, Jeannette Ferreira.

1. Verwelkoming

Die voorsitter van PEN Afrikaans, Sonja Loots, open die vergadering. Met inagneming van  die volmagte wat aan die voorsitter en ondervoorsitter verleen is, is ’n kworum aanwesig.

 Die voorsitter  noem dat  in die verlede beweer is  PEN Afrikaans is ’n Kaapse vereniging; die vergadering op die NWU-kampus is in die lig hiervan ’n besonder positiewe gebeurtenis.

2. Goedkeuring van die sakelys

Daar is geen toevoegings tot die sakelys nie en die voorsitter versoek die vergadering om dit goed te keur. 
Besluit: Die sakelys word goedgekeur. 

3. Goedkeuring van 2012-notule

Die voorsitter  versoek die vergadering om die 2012-notule, wat vooraf aan die lede gestuur is, goed te keur. 

Besluit: Die 2012-notule word goedgekeur.

4. Goedkeuring van die lederegister

Die voorsitter noem dat die lederegister weinig verander het sedert die eerste algemene ledevergadering op 20 Oktober 2012.  Drie nuwe lede het aangesluit, naamlik Franci Greyling, Anna Kemp en Hans Pienaar.  Johann de Lange het egter uit PEN Afrikaans bedank.  Die voorsitter vra dat die volledige lederegister (aangeheg as BYLAE 1 - klik hier) goedgekeur word. 

Besluit: Die lederegister soos op 24 September 2013 word goedgekeur.

5. Registrasie as ’n niewinsgewende organisasie by CIPC

Die voorsitter rapporteer aan die vergadering dat die vierde aansoek om registrasie as niewinsgewende organisasie in Augustus 2013 ingedien is, na die vorige drie aansoeke telkens afgekeur is – onder meer vanweë ontbrekende inligting in die grondwet.  Inligting soos voorgestel deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is vervolgens tot die grondwet toegevoeg, met gebruik van die presiese bewoording soos deur die Departement voorgestel – vandaar die minder keurige formulering van die toevoegings (in die Engelse weergawe van die grondwet). Die finale teks sal in Afrikaans vertaal word sodra registrasie verkry is.

Wannie Carstens voeg by dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hulp kan verleen met die registrasieproses, sou daar verdere probleme opduik.  Die ATKV sou ook kundige hulp kon verleen (Japie Gouws is die kontakpersoon in hierdie verband). 

6. Goedkeuring van wysigings aan die grondwet

Die voorsitter lê die hersiene grondwet (BYLAE 2 - klik hier) aan die vergadering voor en vra vir goedkeuring. 

Andries Visagie stel twee wysigings voor:

Punt 6.1: “To these ends the Association also commits itself to projects initiated or supported by International PEN ... ”, eerder as “To these ends the Association also commits itself to any projects initiated or supported by International PEN ... ”
Punt 8, sin 2: “To consitute a congress, members meet at least once a year at a time and place ...”, eerder as “Members meet at least once a year at a time and place ...”

Besluit: Die vergadering keur al die wysigings aan die grondwet goed, ook dié  voorgestel deur Andries Visagie.

7. Geldsake en ledegeld

Die opsommende staat oor kontantvloei vir die periode 1 Maart tot 24 September 2013  (BYLAE 3 - klik hier) soos opgestel deur Naas Steenkamp is vooraf aan die lede uitgestuur. 

Besluit: Die opsommende staat oor kontantvloei vir die periode 1 Maart tot 24 September 2013 word goedgekeur as genoegsame voldoening aan die vereiste van R18.1. 

Die voorsitter noem dat rekeninge vir ledegeld reeds per e-pos aan die lede gestuur is. Ledegeld beloop R250 per lid per jaar, waarvan R150 aan PEN Internasionaal betaal moet word.  Daar is op 24 September 2013 10 opbetaalde lede.  Die sperdatum vir die betaling van ledegelde word gestel as 30 November 2013, waarna lidmaatskap van PEN Afrikaans op ’n meer formele grondslag hanteer sal word. 

Theresa Papenfus en Hans du Plessis noem dat hulle nie die e-pos insake ledegelde ontvang het nie.  Amanda Lourens onderneem om dit in dieselfde week aan te stuur. 

Die voorsitter  berig dat ’n skenking van R50 000 van die Het Jan Marais Fonds ontvang is, nadat die lede in ’n vorige skrywe van die eerste twee skenkings (van die Dagbreek Trust sowel as Naspers) in kennis gestel is. 

Die bestuur het besluit om PEN Afrikaans se administrasie in die loop van 2013 op ’n goeie grondslag te plaas, en in die lig hiervan is besluit teen die bywoning van vanjaar se internasionale kongres.  Die bywoning van die 2014-kongres behoort egter ’n prioriteit te wees, juis omdat die internasionale organisasie soveel kundigheid het.  PEN Afrikaans is deel van ’n Afrikaforum wat onder meer saamwerk aan ’n navorsingsprojek oor minderheidstale.  ’n Oop gesprekskanaal met PEN Internasionaal is dus van kardinale belang. Die eerste stap in hierdie rigting is egter die inwin van ledegelde.

8. Verslag deur die voorsitter

Sonja Loots doen verslag oor PEN Afrikaanse se bedrywighede sedert die eerste algemene ledevergadering vergadering in Oktober 2012. Die volledige verslag, wat ook kort na die vergadering aan die lede gestuur is, word aangeheg as BYLAE 4 - klik hier.

 9. Verkiesing van bestuur

Alvorens daar tot die verkiesing van ’n nuwe bestuur oorgegaan word, is daar ’n kort bespreking van kwessies wat met die bestuur verband hou.  Kerneels Breytenbach stel voor dat meer jonger persone op die bestuur moet dien en dat daar ook meer bestuurslede vanuit die Noorde behoort wees.  Wannie Carstens wys egter op die rol van ervaring wat nie onderskat moet word nie, en vra voorts of dit nie oorweeg moet word om bestuurslede vir ’n termyn van twee jaar te verkies nie.  Nelleke de Jager steun die voorstel, en na ’n kort bespreking word Wannie Carstens se voorstel aanvaar dat bestuurslede elk vir twee termyne van twee jaar elk mag dien.  Dit beteken dat bestuurslede wat in September 2013 verkies word, vir twee jaar sal dien.  Hans du Plessis noem dat ’n grondwetwysiging nodig sal wees om die termyn van twee jaar, met ’n maksimum van twee termyne per lid, in die grondwet te verreken (vergelyk R23).

Besluit: Die nuwe bestuur sal die saak so hanteer.

27 lede wat die vergadering nie kon bywoon nie, het volmagvorms voltooi waarmee hulle volmag vir die stemming aan Sonja Loots en Kerneels Breytenbach verleen het. Hulle is: Erika Oosthuizen, Fanie Olivier, Estelle Neethling,  Madelein Theron, Andries Bezuidenhout,  Murray la Vita, Melt Myburgh, Karen Kuhn,  Zandra Bezuidenhout, Fransjohan Pretorius, Herman Giliomee, Marga Stoffer, Desmond Painter, Amanda Botha, Bernard Odendaal, Chris van der Merwe, Ingrid Glorie, Renee Conradie,  Koos Kombuis, Antoinette Klein, Robert Pearce, Engemi Ferreira, Dineke Volschenk, Fourie Botha, Uys van der Hoven, Jeannette Ferreira,  Louis Esterhuizen, Naas Steenkamp.

Heilna du Plooy stel voor dat vir eers net ’n voorsitter verkies word, gegee die feit dat Sonja Loots as voorsitter uittree.  Aan die kwessie van ’n ondervoorsitter kan later aandag gegee word. 

Kerneels Breytenbach is genomineer vir die posisie van voorsitter, en word vervolgens eenparig deur die vergadering as voorsitter verkies. 

Die volgende bestuurslede het hulle herverkiesbaar gestel vir ’n nuwe termyn: Robert Pearce, Naomi Bruwer, Louis Esterhuizen, Amanda Lourens, Nelleke de Jager, Desmond Painter en Heilna du Plooy.  Leti Kleyn en Marga Stoffer is deur Sonja Loots benoem. 

Die volgende vyf bestuurslede word in ’n geheime stemming met gebruik van stembriefies verkies:
Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen, Naomi Bruwer, Desmond Painter en Amanda Lourens.

Die bestuur sal verdere persone na goeddunke koöpteer. 

10. Projekbeplanning

Die voorsitter  wys daarop dat PEN Afrikaans goed geplaas is om te fokus op die kwessie van geletterdheid as ’n toenemend kommerwekkende kwessie in Suid-Afrika.  Hoërskole het toenemend nie meer biblioteke nie; trouens, statistiese gegewens dui daarop dat slegs 8% van skole landwyd wel nog biblioteke het.  Dit skyn asof die Regering ook nie daarin belangstel om in hierdie situasie in te gryp nie. ’n Persoon soos Leti Kleyn is wel reeds besig om waardevolle werk in hierdie verband te doen (vergelyk haar Karatara-boekprojek en leeskamer in die Makhatini Primêre Skool in Mpumalanga).  Sulke werk is ook belangrik vir PEN Afrikaans, en dit is betekenisvol dat die Dagbreek Trust bereid is om saam te werk aan projekte wat geletterdheid wil bevorder.  Astrid de Vos het byvoorbeeld voorgestel dat PEN Afrikaans saam met Dagbreek Trust betrokke raak by ’n opstelkompetisie vir leerders. 

Die voorsitter  noem dat Fanie Olivier voorgestel het dat PEN Afrikaans by NALN betrokke raak, maar die vergadering is van mening dat geletterdheidsprojekte ’n meer verdienstelike saak is en ’n fokuspunt vir die nuwe bestuur behoort te wees.  Nelleke de Jager wys daarop dat projekte met biblioteke as fokuspunt kan lei tot ’n kringloop wat alle rolspelers – waaronder skrywers en uitgewers – kan bevoordeel.  Hein Viljoen vra na die praktiese uitvoerbaarheid van sulke projekte, waarop Nelleke de Jager daarop wys dat fokus die sleutel behoort te wees – twee skole kan byvoorbeeld per jaar geborg word.  Franci Greyling dui aan dat ’n klein begin tot veel kan lei.  Enkele onderwysers kan aanvanklik betrek word, waarna die projek kan groei en PEN Afrikaans op volhoubaarheid kan fokus, onder meer met die steun van PEN Internasionaal.  Hans du Plessis noem dat boekklubs gevra kan word om biblioteke te borg.

Naomi Bruwer stel voor dat PEN Afrikaans eers ondersoek instel ten einde te bepaal watter organisasies reeds op hierdie terrein aktief is.  Koördinering met sulke organisasies is belangrik, onder meer om duplisering te voorkom.  Wannie Carstens wys op Vriende van Afrikaans se bestaande projekte.  Ander organisasie waarmee geskakel kan word, is die ATKV en die Afrikaanse Taalraad.

Wannie Carstens noem dat daar planne is om op gereelde grondslag ’n besoekende skrywer by die ATKV-skryfskool (NWU) te ontvang.  PEN Afrikaans kan dit aanmoedig, en kan met die Dagbreek Trust hieroor skakel.  Gesprekke deur skrywers met die publiek behoort ook aangemoedig te word.  Die Akademie is voorts reeds betrokke by die Poort-kompetisie en PEN Afrikaans sou ook hierby betrokke kon raak, byvoorbeeld deur te help met die beoordeling van inskrywings. 

Franci Greyling asook Theresa Papenfus wys op die belangrikheid van geletterdheid en die bevordering van ’n leeskultuur.  Skrywers kan betrokke raak en hulle maatskaplike verantwoordelikhede nakom deur byvoorbeeld tydens enkele geleenthede per jaar met gemeenskappe te gaan praat.  ’n Lys van skrywers, en moontlike dorpe wat besoek kan word, kan byvoorbeeld opgestel word. 

Hein Viljoen wys op die Nederlandse “Boekenweek” en die gepaardgaande “Boekenweekgeschenk”.  PEN Afrikaans sou ’n soortgelyke projek – hoofsaaklik met ’n fokus op kort tekste – kon befonds. 

Wannie Carstens wys ten slotte op die belang daarvan om bruin Afrikaanse skrywers by PEN Afrikaans te betrek.  Hy stel voor dat daar spesifiek na hierdie groep uitgereik word.

Uiteindelik besluit die vergadering dat fokus ten opsigte van projekte van deurslaggewende belang is. 

11. Lidmaatskap: Dramaturge

Die voorsitter  stel dat die nuwe bestuur minder klem behoort te  lê op die werwing van nuwe lede –   dit is belangriker om bestaande lede aktief te kry en aktief te hou. Dit is egter ’n probleem dat PEN Afrikaans relatief min jonger lede het, maar dit hou verband met die feit dat daar ook redelik min jonger skrywers en joernaliste is.  Hierdie probleem kan egter deels oorkom word deur Afrikaanse dramaturge (wat ook nie ’n verteenwoordigende liggaam het nie) te betrek. 

Besluit: Afrikaanse dramaturge sal by PEN Afrikaans betrek word.

12. Nuwe webwerf

Daar was oproepe dat PEN Afrikaans ’n selfstandige webblad tot stand bring, maar die huidige opset waar LitNet die webblad op sy portaal huisves, hou besliste voordele in.

Besluit: PEN Afrikaans se webblad op die LitNet-portaal sal bly voortbestaan, eerder as om ’n afsonderlike webblad te probeer vestig.

’n Verdere ontwikkeling is PEN Afrikaans se Facebookbladsy, wat baie goed ontvang is en reeds met meer as 200 “likes” kan spog.  Sonja Loots en Desmond Painter het ook ’n blog genaamd “Kopskote” begin en wil dit graag voortsit en uitbou.  Dit sal naas ’n gespreksruimte ook ’n ruimte wees waar PEN Internasionaal se inligting deurgegee kan word. 

13. Bedankings en afsluiting

Heilna du Plooy en Wannie Carstens word bedank vir hulle moeite om ’n lokaal te bespreek, sowel as Hans du Plessis wat gesorg het dat die lede verversings kon geniet. 

14. Verdaging

Die vergadering verdaag om 16:00.

 

Geteken as juis ...............................................................................
Voorsitter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top