Op ’t tog met Medisyne 1

  • 2

Met die vestiging van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) halfwegstasie (verversingspost) aan Kaap van de Goede Hoop* (die Kaap) in 1652 het die inheemse bevolkingsgroepe reeds ’n vermoë gehad om na hul gesondheid om te sien.

Met die sporadiese kontak tussen die inheemse bevolking en verskeie Europese seevaarders oor die voorafgaande meer as honderd jaar het laasgenoemde heelwaarskynlik niks (of weinig) tot dié vermoé bygedra. Het die ’inheemse vermoë’ sleg afgesteek by die Europese vermo? – ons weet nie. Had ons meer inligting, mog ons dalk ons hande in bewondering saamslaan.

Die Nederlanders het met hul Hollandsche Apotheek geland. Dié van Jan van Riebeeck as skeepsdokter (chirurgijn) was sekerlik indrukwekkend. Die ander Europeërs, en Oosterlinge, wat in dié van Riebeeck-era of in die jare daarna in die Kaap arriveer het, het soortgelyke versamelings van tuis-medisynes uit hul streek van herkoms saamgebring. As voorbeeld, uit Sentraal Europa, vir moeite met urinering : “berei ’n mengsel van Sabal, Staphisisagria x 3 en Populus x 2 en gebruik dit met kruie-stoom-baddens”.

Die hoogtepunt van fitoterapie (botaniese medisyne) het saamgeval met die besetting van die Kaap deur VOC in die 17de en 18de eeue. Die Kompanjietuin in die Kaap het inheemse plante en sade versamel en saam met kruie wat hulle gekweek het in bondels gestuur na die Medisinale Tuin in Amsterdam vir verdere ondersoek. So is daar byvoorbeeld in 1737 bondels wat tot 195 diverse items bevat het verskeep. Daar was geen terugvoer oor enige sukses wat uit die pogings gespruit het nie.

Die nomadiese San het buitengewone kennis van die ’veld’ gehad. Van hul genesende kruie en ook dié van die Khoi-stamme is toenemend opgeneem in die boererate van die trekboere na gelang hul afsondering van die hoofsentra toegeneem het.

Die Khoi het vryelik van kaauwgoed (’n klein rankvygie,’n Mesembryanthemum Sceletium tortuosum ) gebruik gemaak as stimulant Volgens ’n ooggetuie (en vry vertaal) : "Die blare is gekou en in die mond behou vir ’n tydjie waartydens die gees ophelder en die oë begin glinster terwyl ’n joviale houding aangeneem word. Dan volg danspassies wat spoedig opgewerk het na ’n crescendo terwyl die intoksikasie toeneem. Dan slaan hulle uiteindelik een na die ander uit soos ’n kers neer."

Die Khoi het ook variante van mog’t troffe (blunderbuss) medisyne gehad Vir urinêr-verwante probleme is ’n mengsel van verpis (waarskynlik dassiepis – Hyraceum) , blindemiershoop, meidebos, geneeswortel en dawidjieberei. Die afkooksel moes geneem word met ’gekookte blare’ en ’wortels’.

In teenstelling was baie van die boererate slegs van placebo-waarde. ’n Trekboer wat met sy ’oumansklier’ gesukkel het, het moontlik net fyngemaalde bruingebakte volstruiseierdop gesuspendeer in gekookte water tot sy beskikking gehad. Hy het gelukkig darem ook die panasee, boegoebrandewyn, byderhand gehad om die droewigheid ietwat te verlig.

Die Zulus (of Zoolahs soos Dr John Philip van die London Missionary Society na hulle verwys het in ’n brief aan die Amerikaanse Missionary Herald ) het ’te min’ of ’dik’ urine of moeite met urinering behandel met ’n aftreksel van die wortel van umtamana (Solanum capense).

Zulu-medisyne was hiërargies in vier kategorieë verdeel. Op grondvlak was ’medisynes’ wat aan almal bekend was en wat sonder enige omhaal versamel en gebruik kon word. Op die tweede vlak was ’familie-medisynes’ wat met streng geheimhouding van geslag tot geslag oorgedra is In ’n ho?r kategorie was die professionele medisyne man – die inyanga. Hy het ’n streng inisiasie (opleiding) ondergaan waarvoor hy baie betaal het ’n Kaalkop persoon – innquvi – het selde die paal gehaal : “He was considered wise and eloquent in speaking and likely to be rich, but curiously he was suspected to become so by sly and cunning means not necessarily of high moral standard.”

Die inyanga is deur baie bloot as ’n tegnies-bevoegde persoon beskou – hy kon diagnoseer en met umuthi ( hoofsaaklik krui-middels) behandel. Hy was egter nie psigies in staat tot die spirituele kwaliteite waarmee die ware jakob, die isangoma gese?n / aangevuur word nie.

Baie van die kennis en middels van dié tyd het verlore gegaan deur die geheimhouding en onwilligheid van die genesers om leerlinge by hulle in te neem en op te lei. As voorbeeld: Matthys Greft van die Kaap kon nie lees of skryf nie. Hy het medisynes voorberei uit plante, blomme en kruie,en dit op slawe getoets. Met sy dood is al sy geheimenisse saam met hom.

Die chirurgiese bedrewenheid van die Khoi is aan Peter Kolbe**. ’n Duitser wat die Kaap en omstreke tussen 1705 en1712 besoek het demonstreer; (vry vertaal): Hulle het die sonderlinge gebruik gehad om ’n testikel met die vet van ’n skaap te vervang. Die prosedure was onderneem op die ouderdom van agt tot nege jaar. Die indikasies (doel) van die operasre was geboortebeperking, om dogters te verwek, om die natuurlike wellus te beperk en om ’ratsheid’ te bevorder.

Die "pasi?nt" is eerstens met die vet van ’n pasgeslagte skaap besmeer en sy hande en voete is daarna vasgebind. Hy is vasgehou deur omstanders. Die operateur het die linkertestikel teen die skrotale vel vasgevat. Met ’n vlymskerp tafelmes is ’n snit van ongeveer 3cm in die gespande vel gemaak en die testikel in ’n oogwink ’uitgedop’ -blitsig is die steel van die testikel met ’n dun repie skaapsening afgebind en die testikel verwyder. Ten spyte van die lomp instrument is die prosedure met ’n mate van handvaardigheid uitgevoer wat die mees bekwame snydokters in Europa verstom sou laat. Onmiddellik is die holte waar die testikel was gevul met ’n balletjie wat vooraf gerol is van skaapvet en kruie wat meesal uit boegoe bestaan het – en van dieselfde grootte as die testikel. Die snit is toe flink toegewerk met ’n lang dun repie wat uit ’n skaap-sening ’getrek’ is – as els het hy ’n ’sekere’ beentjie van ’n ’sekere’ vo?ltjie gebruik. Die wond het sonder enige ’nare gevolge’ en spoedig genees. Die seningdraad en els-beentjie hegting vergelyk gunstig en is selfs beter as die hegtings wat verkry word met enige materiaal wat beskikbaar is in Europa.

Na die prosedure is die ’pasi?nt’ losgemaak weer met skaapvet besmeer en daarna het die ’operateur’ die seremonie afgesluit deur "oor die (hele) ’pasi?nt’ te pis met ’n sterk stroom wat hy spesiaal vir die geleentheid aangelê het. Na die wond genees en hy sy kragte herwin het, het die jongeling op die wieke van die wind uitbundig oor die omliggende vlaktes gehardloop in erkenning van sy herstel".

* Cábo da Böa Esperança Johan II van Portugal

** Kolbe,P Naaukeurige en Uitvoerige Beschryving van de Kaap de Goede Hoop. Amsterdam: Balthazar Lakeman. 1727

Naas Viljoen

  • 2

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Daar is sekerlik min bydraes waarna 'n mens 'n paar keer na teruggaan en weer lees. Hierdie is so 'n bydrae. Dis werklik aangenaam en leersaam. Dankie Naas, ek sien uit na die ander dele.

  • Die testikel uitknip en vervang met skaapvet-en-kruie balletjie. En die dankbare ontvanger wat dan
    herstel sonder dat sy liggaam die vreemde vesel verwerp ?  Twak, sou ek sê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top