Oor Pete Townshend, Peter Gabriel en meer

  • 0

Pete Townshend

Who I Am (e-boek)

Klik hier om Who I Am te koop by Kalahari.com.

In die jare sestig en sewentig het Chris Charlesworth van die musiekkoerant Melody Maker gereeld sy vriend Pete Townshend gekry om vir dié publikasie rubrieke te skryf. Wat my destyds opgeval het – trouens, dit het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak – is hoe genuanseerd Townshend gedink het oor rockmusiek as kunsvorm, en hoe oortuigend hy sy gedagtes onder woorde gebring het.

Die afgelope week het ek elke oomblik van my beskikbare tyd afgestaan aan die lees van hierdie outobiografie van hom – en dadelik regop gesit toe ek kom by die gedeelte waar hy beskryf hoe dit gebeur het dat hy daardie rubrieke geskryf het, en wat hy daarmee wou bereik.

Die gedagte wat ek toe vandeesweek moes leer aanvaar, is dat daardie selfversekering wat so uit die rubrieke gestraal het, net ’n front was. Die man daaragter was diep onseker van homself en sy rol binne die konteks van populêre musiek.

En hierdie effek van ontluistering van die rock-persona is iets wat hy deurentyd in sy outobiografie handhaaf. Townshend se doel met die boek, blyk dit, is om vir diegene wat meen hy het ’n messiaanse rol binne die wêreld van rock te bewys dat hy ook feilbaar was, dat hy gebreke had, dat hy heel dikwels “a complete asshole” was.

Gelukkig is die meeste van sy lesers mense met ’n mate van beskikbare intelligensie. Dit word gou duidelik hoe ’n tydperk van verwerping deur sy ouers (twee jaar wat hy by sy kranksinnige ouma moes gaan woon) permanente letsels op die gees van Townshend gelaat het. Baie van die temas in Tommy is direk te herlei na sy lewensverhaal – van molestering deur sy ouma se mansvriende tot sy kommunikasieprobleme met ander mense – en die moeite wat hy gehad het om volwassenheid te bereik word deur hom met daardie twee jaar verbind.

Dit is die een kant van die boek. Die ander kant is die insig wat Townshend mens gee in die faktore wat daarvoor verantwoordelik was dat The Who so suksesvol was. Die groot skoot geluk wat hulle by Woodstock gehad het, die rol van mense soos Kit Lambert in hulle vordering, Townshend se verhouding met sy medelede, en sy stryd met drank, dwelms en seksuele sekerheid.

In baie opsigte is hy ’n baie konserwatiewe persoon, veral danksy sy aangryping van Meher Baba as spirituele leier. Daaruit het ook gespruit sy liefdadigheidswerk, sy dade as kampvegter teen pedofiele en kindermolesteerders (met een hoogs ontstellende misverstand aan die kant van die Britse polisie wat Townshend verkeerdelik baie aansien gekos het).

Uiteindelik stem mens met hom saam: hy is net ’n gewone mens met menslike feilbaarhede. Maar hy is ook die man wat Tommy en Quadrophenia geskep het. Hy is die brein agter Lighthouse en die neerslag daarvan in Who’s Next. Hy is ’n gewone mens, met geniale skeppings agter sy naam.

Hierdie is ’n boek wat mens, nes Keith Richards se boek van ’n paar jaar gelede, nie durf misloop nie.

Die videogrepe hier onder staan onafhanklik van die boek, maar is goeie voorbereiding vir die lees daarvan.

Robyn Hitchcock & The Venus 3 – Goodnight Oslo

The Venus 3 is Peter Buck (van REM), Scott McCaughey en Bill Riefin. Hierdie album is in 2009 uitgereik, en ek kan my eie gat skop dat ek dit nou eers ontdek. Dis ’n fleurige, verfrissende album, soms geneig om ’n bietjie eenders in die liedjies se konstruksie te klink, maar as geheel van die soort wat mens jouself laat betrap waar jy kliphard die refreine saamsing. Die videogrepe hierby is by ’n reklame-geleentheid vir die album geneem:

Mallard – Mallard / In A Different Climate

Captain Beefheart se Magic Band het hom skielik in 1974 verlaat weens ’n dispuut oor vergoeding en erkenning vir hul kreatiewe aandeel in sy musiek. Mallard is in 1975 uitgereik en In A Different Place in 1976. Hulle is onlangs weer gesamentlik deur verskeie internet-handelaars vir aankoop en aflaai beskikbaar gestel. Beide albums het in klein getalle verkoop, en die groep is gou tot niet. Maar die albums is verbasend luisterbaar, en gee mens gereeld rede om na jou Beefheart-classics te gryp en die styl van die spelers na te gaan. Hierdie is die laaste keer dat Zoot Horn Rollo (Bill Harckleroad), Rockette Morton (Mark Boston) en Ed Marimba (Art Tripp III) as groep saam musiek gemaak het. Daar’s ’n hele leerskare ander musici wat bygesleep is, en die projek is gefinansier deur Jethro Tull se Ian Anderson. Ek is versot op die instrumentele nommers, maar nie te mal oor die sang van Sam Galpin nie. Met Beefheart weet mens wat om nie te verwag nie, maar hierdie ou klink asof hy lesse geneem het iewers.

Peter Gabriel – So (boksstel)

Klik hier om So te koop by Kalahari.com.

’n Stel van 3 CD’s waarvan een onderdeel, So DNA met sy loodsopnames, al is wat mens kan ignoreer. Die herstelde, opgehitste weergawe van So is, indien enigiets, meer dinamies as vantevore. Dit is ’n groot plesier om “Sledgehammer” oop te draai en die plafon verfskilfers te laat reën. Maar die groot trekpleister is eintlik die 2-CD-konsertopnames wat in 1987 in Athene gemaak is. Gabriel het ’n ongelooflike klompie musici om hom versamel, en hul uitvoerings van liedjies soos “Solsbury Hill”, “Biko”, “Games without frontiers”, “San Jacinto”, “Shock the Monkey”, “Don’t Give Up” en “Here Comes the Flood” maak van hierdie twee CD’s versamelstukke.

Ed Harcourt – Here Be Monsters

Klik hier om Here Be Monsters te koop by Kalahari.com.

Ek het gedink die genre van introspektiewe, derm-uitrygende sanger-komponiste het uitgesterf. Maar hier is Ed Harcourt nog besig om die vaandel hoog te laat vlieg. Ek kan nie altyd agter die kap van die byl kom waaroor dit is wat hy sing nie, maar die liedjies het ’n onmiddellike bekoring – veral danksy die gebruik van eienaardige blaas- en slaginstrumente ter aanvulling van die musiekkern.

Warren Haynes – Man in Motion

Klik hier om Man in Motion te koop by Kalahari.com.

Wanneer mens vir jouself gaan moet uitmaak wat die beste album van 2011 was, sal hierdie een waarskynlik onder die eerste vyf op jou lys wees. Haynes is ’n uitgelese kitaarspeler – hy het al diens gedoen vir The Grateful Dead, Dave Matthews Band en Allman Brothers Band en opgetree saam met van die beste groepe van ons tyd op sy af aande. Die musiek op hierdie album behels uiteenlopende style, maar dit is sy kitaarsolo’s wat al die aandag trek. Daar’s geen manier waarop Haynes dit kan wegsteek dat hy ’n skitterende blues-kunstenaar is nie. Koop dit!

Benjamin Gibbard – Former Lives

Klik hier om Former Lives te koop by Kalahari.com.

Wat ’n eienaardige solo-debuut vir Death Cab For Cutie se sanger! Volgens Gibbard handel die album oor alles wat met hom gebeur het die afgelope agt jaar, dit wil sê drie liefdesteleurstellings, verskeie verhuisings, en tydperke waarin hy niks gedrink het nie. As mens sonder enige voorkennis na die musiek begin luister, is die impak onmiddelik. Gibbard open met ’n a cappella-liedjie, en van die tweede snit af is dit asof hy met elke snit ’n mooier melodie probeer uitdink. In baie opsigte is sy musiek ’n mengsel van ou, tradisionele waardes, en dit is die pop-jangle wat jou sal gryp.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top