Oor Hennie Aucamp en mentors

  • 0

Toe ek die nuus kry van Hennie Aucamp se dood, gaan my gedagtes terug na een aand in Bloemfontein in 1983. Ek was toe akteur en regisseur by Sukovs en het sy kabaret Met permissie gesê aangepak.

Hennie het vir ons vooraf ’n lesing kom gee oor kabaret. Hy kon daarna net die finale kleedrepetisie (voor openingsaand) bywoon.

Na die tyd sit ons met ’n drankie en ’n wydlopende gesprek. Op ’n kol vra ek hom so half moedswillig: “Hennie, duidelik, selfs met jou formidabele skryftalent, kan jy nie in Afrikaans ’n bestaan daaruit maak nie. As jy nou nie óók ’n pedagoog was nie, hoe sou jy anders kop bo water gehou het?"

Met sy kenmerkende selfspot waai hy die een hand so effentjies in die lug en sê skamper: "Ag, seker die orrel gespeel en blomme gerangskik op ’n plattelandse dorp!"

Waar het ek vir Hennie die eerste keer ontmoet? Daardie oomblik ontglip my. Dat hy ’n teenwoordigheid in my bewussyn oor ’n lang tyd was, is onteenseglik. Ek weet net dat hy op daardie stadium benewens skrywer ook lektor in Afrikaans by die Departement Opvoedkunde aan die US was. Hy het ’n woonstel in St Martini Gardens, langs Die Tuine gehad, waar hy naweke en op ander tye na toe kon wegbreek en ongestoord die outsider-deel van sy lewe (meestal) lei.

Hennie was flaneur, boulevardier, bon vivant, dandy …Hy was ’n wandelaar en ’n straatwaarnemer (en soms deelnemer), maar bowenal optekenaar. (Lees maar weer oa Stephen en Fay.)

As ek reg onthou, was daar ’n aandete in die ou Blouberg-plaashuis, waar Hardy Botha ’n goeie klompie jare gewoon en gewerk het. Mees Exteen en ek het vir ’n tydjie “kamers” daar gehuur. Dian Joubert en Hennie het een Sondag kom kuier.

Daar was lank en stadig op die Aga gekook – ’n waterblommetjiebredie. Heelwat wyn is “gebruik” en die gesels het gewissel van Darwin tot Marx, Van Wyk Louw en Opperman se “onbeholpe” toneelpogings (met goddelike poësie!), en WEG se pedantiese toneelresensies, tot “is gay-wees ’n keuse?”. 

Die aand het, byna surrealisties, sy afloop begin neem toe ek, figuurlik gesproke, die tafel tussen my en Dian probeer hou het. Hennie het tot my redding gekom: "Dian, onthou net dat iemand nie gay is net oor hy van gay mense hou nie!"  Dian het die res van die aand sy wynglas somber vertroetel.

Hennie se “kabaret-mentor” (aanvanklik), wis ek, was Robert Möhr, befaamde teater-regisseur en professor in drama aan die UK.

Robert was beslis my mentor in toneelsake en ’n wye spektrum ander dinge ook. Hy het homself altyd as my “moffie-pa” beskryf. Hy wás my ander pa.

Ek onthou, in 1971, toe die destydse Nico Malan-teater se opening-seisoen aan die gang was, het ons by die Klein Teater (UK) André P Brink se Kinkels innie kabel onder Robert se leiding opgevoer. Dit was ’n reusesukses en het meer mense gelok as Koning Lear in die Nico.

Robert het hom die feit dat ’n Duitse regisseur (Dieter Reible) “ingevoer” was om die openingsproduksie te behartig, sterk aangetrek, maar “privaat” soos hy was, dit nie aan die groot klok gehang nie. Dit hét egter sy tol geëis en net voor die laaste opvoering van Kinkels innie kabel het Robert ’n miokardiale infarksie gehad.

Een nadraai van daardie episode was dat hy, op aandrang van sy hartspesialis (!), die wynlande ingevaar het om ’n rooiwynkelder van formaat te begin! Sy (eens) rooi Volkswagen Variant-stasiewaentjie se wiele het buitentoe gebult onder die kiste en kiste rooiwyn wat ons daardie dag ingelaai het. Ek was drywer en “konsultant”, sien.
Robert se kelder het later legendariese afmetings aangeneem. Hy het, tipies, seker gemaak hy belê in goeie wyn! Omdat ek “medestigter” van die kelder was, kon ek, wanneer ek kom kuier, énigedrie bottels van my keuse ongestoord gaan uitsoek. Dít was bederf van my ander pa!

Ek en Hennie het in die loop van die volgende klompie jaar (vroeg sewentigs) ’n hele paar uiters genoeglike en leersame aande saam met Robert Möhr en Ian Ferguson – Robert se lewensmaat (professor in Engelse letterkunde aan Unisa destyds) beleef. Robert Möhr was ’n Bertolt Brecht-kenner en het ons vergas op talle staaltjies en agtergrond oor dié groot teatergees en sy medewerking met die komponis Kurt Weill, getroud met Lotte Lenya, een van die grootste kabaretsterre in die vooroorlogse Duitsland. Dink maar net oa aan Die Dreigroschenoper en Lotte Lenya wat  Mackie Messer sing.

Terloops, dié lirieke is ’n Brecht-verwerking van Elizabeth Hauptmann se Duitse vertaling van John Gay se The Beggaris Opera. (Wat is “plagiaat” en wanneer “leen” ’n skrywer?)

Een staaltjie wat my bybly, is van Helene Weigel, Brecht se vrou en ikoniese aktrise wat rolle soos Mutter Courage geskep het, wat glo vir BB een oggend oor ontbyt sou gesê het: "Jy het jou mond vol oor ‘onbetrokke’ wees as jy ’n rol speel! Hoekom skryf jy dan ’n karakter soos Mutter Courage? Hoe speel ’n mens háár ‘onbetrokke?’" 

Ek en Hennie het dit baie snaaks én ironies gevind.

Kort daarna het Hennie ’n Europese sabbatsreis onderneem. Soos hy dit agterna gestel het: “Ek het gedink ek ken ‘dekadensie’, tot ek die Reeperbähn beleef het!”

Daarna het Hennie met geesdrif en bewysbare ywer aan die werk gespring en ’n hele geslag sangers, liriekskrywers, teaterpraktisyns, regisseurs en gehore se lewens onmeetbaar verryk, nét met sy bydrae tot die Afrikaanse liriekeskat.

Dan praat ons nie eens van sy “stories” nie!

>> Lees nog huldeblyke aan Hennie Aucamp, asook 'n keuse van sy artikels op LitNet

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top