Oestyd-skryfuitdaging: Plaasopstande in Suid-Afrika 2012 – Ek sou wou sien ...

  • 0

Ek sou wou sien dat fondse uit die Staatskas beskikbaar gestel word aan almal wat verliese gely het gedurende die plaasopstande. Dat plaaseienaars genoeg finansiële bystand uit die Staatskas ontvang en hul sodoende in staat gestel kan word om meer as die R150,00 loongeld per dag aan hul werkers te kan gee. Dat skure wat afgebrand is, heropgebou word. Dat miljoene se skade aan die loot uit die Staatskas herstel word.

plaas toe
(Uit: Gloei – 1994)

om op die Hexrivierplase te kom, het ook ek op lorries gespring
vir werk, sien, ek wou bitter graag vir mamma geldjies huis toe bring
die werkers op die plase was maar min, plaasboer moes dorp toe
vir kinders om die werk vir hom soggens dou voor dag te begin
eerste probeerslag word ek huis toe gestuur, is te klein, maar net
in standerd vier tot ek groter was en maats skreeu, kom hier is plek
wat 'n groot prestasie as jy jou maats kan vertel van jou ontberings
by almal aan huis spog, jy is terug van werk sonder enige beserings
fyn korreltjies moes ons verwyder pluk uit alfons en die barlinka-druif
'n kweperlat brand as oubaas se seun dink jou tros is te blink gevryf
sou jou tros per ongeluk breek, loer jy skelm, gooi hom in 'n ander ry
almal word betaal volgens hul vakke vir die dag, word getel ry vir ry
jou koffie tee of harde brood moes jy maar afsluk teen die einde van die dag
as ek vandag terugdink, hoe daar op ons geskel is, wil ek my 'n papie lag

Ek sou wou sien dat alle plaaswerkers wat deur gedwonge uitsetting of afsetting van plase vervreem is, wat hulle vandag in haglike omstandighede iewers in plakkerskampe of in 'n gehuggie bevind, terugverwelkom word deur hul voormalige werkgewers. Ook diegene wat tussen ons woon wat weens siekte of ouderdom fisies nie meer 'n bydrae tot die plaaswerkersarbeid kon bied nie. Hulle wat vir meer as 30 jaar die plaas help bou het, ook húlle weer terug te neem in menswaardige wooneenhede.

Oogblits
(Uit: Ankerland Khoisanland)

die wingerdbruin kom toustaan teen die son
verkrampte oesblare skerts hardop in die wind
vlerke, ek? O ek wens ek kon
vlieswolk ry, ja, hemelhoog soos 'n kind

die bruin verpers met elk nadagstraal
roekeloos fladder 'n vlermuis verby die stoor
ek struikel, deins tot teen 'n wingerdpaal
uit skrik en stof applous 'n insekkoor

die pers verdonker onder berg se skaduwee
luid skril 'n fluit: “Hou op werk!”
eelte sukkel huiswaarts, moeg, tree vir tree
koppe hoog, hul trots ken geen perk

die oogblits sal ek nooit verstaan
die diepte van hul honger en traan ...

Ek sou wou sien dat daardie mooi verhouding wat jare lank tussen lojale arbeiders en plaaseienaars bestaan het, herstel word en wedersydse wantroue verdwyn deur die inwerking van die Heilige Gees in almal se harte.

Ek sou wou sien dat daar nié meer van goedkoop handearbeid en tydelike werkers in die sake- en landbousektor gebruik gemaak word nie.

Pappa (Plaasarmoede)
(Uit: Ek soek jou)

Pappa kan julle nie neem
na ’n lekker restaurant
nog minder na ’n luukse
Karibiese strand.

Pappa kan julle nie neem
op ’n Weskustoer
wat nog te sê van ’n
vliegkaartjie retoer.

Pappa kan julle nie neem
op enige safari
ek bid nagte om
daar is net nie geld nie.

Pappa sien hoe julle
met soebat-oë na my kyk
ons met jul ryk
vriende vergelyk.

Pappa het geen antwoord
vir julle nou. Onthou,
Pappa se liefde is al wat
ons nog staande hou.

So ry ek in 'n Trans Lux op pad na Pretoria vir een of ander skaaktoernooi. Buite Orchard steek ons 'n groot oop trok verby met plaasarbeiders styf teen mekaar gebondel, koud en verkluim agterop in die vroegmôre-uur. Dit is nou 20 jaar later, nadat ook ék op lorries gespring het vir wingerdwerk. Dink toe by myself: Niks verander. Alles bly staties tot nou. Iets positiefs hoor ek onlangs van eienaars wat reeds luukse busse aangeskaf het om hul dorps- en plaasarbeiders knus na werk en terug te vervoer.

Dit wat ek nog al die jare vermoed het ...

Ons almal het dit lankal sien aankom. Ons almal weet lankal van alles. Waarom het ons almal vir al die jare stilgebly? Ons het onregte voor ons oë sien afspeel en stilgebly. Uit vrees dat ons mense van plase weggejaag sou word? In klaskamers het die kleur van gesiggies oral kop uitgesteek. Die geld was reg, met geen respek nie.

Ná 1994 het baie plaaseienaars wat nie werkersunies wou of kon aanvaar nie, net eenvoudig hul plase omskep in toeriste-attraksies met gerieflike konferensielokale. Die boorde het met ryp oeste in afval en vrot verval en die arbeiders is iewers in plakkerskampe agtergelaat. Waar anders sou hulle 'n heenkome vind? O, hoe het die plakkerskampe nie gepaddastoel nie?

Vreemdelinge van buite word as goedkoop arbeiders aangewend met die sweer wat latent ryper druk. Só ryp gedruk tot die uitbarsting van Plaasopstande in Suid-Afrika 2012. Nie almal van ons is so nie ...

Dankie vir 'n plaas soos Solms Delta en vele ander plaaseienaars wat dié voorbeeld volg.

Haikoe

ek rosyntjietoon
bly verlief op my kontrei
ná die somerpars

Mont du Toit
(LitNet: 18 Maart 2004)

Mont du Toit
voorsien ook wyn van rooi
waar tafels in wit staan, opgetooi
met Bacchus wat konfetti op bruide strooi

Ek sou wou sien dat ons mense met brandende harte in Suid-Afrika loop met 'n soeke na liefde, vrede, hoop, respek en menslike verdraagsaamheid, geanker in God, ons Rots!

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top