Oestyd-skryfuitdaging: Om den brode

  • 0

Om den brode

In Paulshoek naby Kammieskroon, in die ou Leliefontein Trust, bly ta’ Kaaitjie en haar man, Lukas. Sonder elektrisiteit of lopende water. Hulle woon op ’n hoogtetjie met ’n arendsuitsig oor die barre landskap waar boerbokke vergeefs wei. Nou en dan, asof van nêrens, tol ’n tolbos verby. Ta’Kaaitjie dra ’n pienk  kappie met ’n wit randjie en ’n stywe, lang, bruin rok met ’n bont geblomde opskopromp bo-oor. Elke dag. Somer of winter.

“Die reën is totaal laat vanjaar,” sug sy. “Ek dink hierie blomjaar gaan bitter laat kom.” Sy maak haar styf-styf sit op ’n regop, groen geverfde voorstoepbankie en skuif behaaglik reg om haar te verlustig in die kom en gaan van Paulshoek se inwoners, wat wakker word in hulle vaalbont huisies.

 “Ta’ Kaaitjie se pannegoed al uitgesmeer?” vra ’n jong vrou in die verbyloop onnodig.

“More, Fytjie. Gister voormiddag, ja.”

Ta’ Kaaitjie is wyd en syd bekend vir haar uitmuntende buitebrood. Groot, digte witbrode wat heel week hou sonder muf. Gebak in ’n buiteoond onder ’n doringboom op haar skoongeveede werf. Haar man klim elke Maandag met ’n brood in sy knapsak op die oop lorrie wat hulle kom haal vir die week se werk in die wingerde. Saans dink hy aan die huis as hy die brood teen sy bors druk om ’n dik sny met ’n knipmes af te kerf.

“Mens gee buitebrood jou respekte,” berispe sy voor die jong vrou verder  uitvra.

Ta’ Kaatjie is ’n nederige vrou, fluks en deugsaam, ’n gesiene mens. Sy veroorloof haar net een enkele hooghartigheid: haar buitebrood ken geen gelyke nie. Sy staan stram op.

“Lat ek liewerster aanstaltes maak ...”

“Pastoor ook seker weer te wagte dié Vrydag,” sêvra Fytjie moedswillig.

Storie loop Pastoor beplan sy huisbesoek uit Garies om saam te val met die uithaal van Ta’ Kaaitjie se spogbrood op Vrydae. Dié dat sy altyd sorg vir ’n stukkie uitvaldeeg om saam oond toe te gaan, net vir die wis en die onwis ...

“Dié kan jy weer sê, kind.” Sy glimlag eenkant. “Sta’ syntoe. Ek’t werk.”

Buitebrood is ’n twee-dag-werk en die hoogtepunt van die week. Die mans kom  naweke huis toe ná ’n lang, harde week. Met die aansit saans is dit hulle be­skore om die kraakvars brood uit die witgewaste meelsakkie oop te vou. As die mes deur die bros buitekors gly, blink ogies in die kerslig as die eerste sny van die broodplank gelig word ... Niemand respekteer ’n huisvrou wat haar man uitlewer aan kafeebrood nie.

“Behoed hulle siele,” dink Ta’Kaaitjie hardop terwyl sy aanstaltes maak. “De leste een van hulle.” 

Buitebrood is nie net vir meng en bak nie. Dit is ’n moeisame proses wat  sorgsame toewyding verg. As ma jou die kuns oor­lewer, is jou kop deur, maar introuers kry  bitter swaar onder ’n ongeneë skoonma ...

Donderdae maak die vroue suurdeeg. Winkelgis deug nie; aartappelgis wel. Opgesnyde aartappels in louwater gedompel en deurgemeng met ’n skootjie meel en ’n knertsie suiker.  Dan vir ’n dag lank laat staan op ’n louwarm sonplekkie sonder steuring. Met die verbyloop kan die ouer vroue maklik sien wie se gis tot skande gaan kom. Soms word ta’ Kaatjie se hart sag vir ’n pasgetroude inkom-vroutjie en stuur sy skelmpies ’n gisskotteltjie oor vir die weer begin.

“Fytjie!” roep sy die meisie terug. “Loop kry die blou erdeskotteljie oppie dresskas en vat dit vir jou ma se skoonkind, anners sit julle môreaand we’ met die hart se seer.”

Fytjie weet sy moet opskud. Party van die jong vroue trek al by die droë lopie op soek na môre se brandgoed. Droë muisbos – ’n stekelagtige, valerige, rankerige, struikbos, al brandgoed wat in die wêreld voorkom.  Sononder keer hulle huiswaarts met groot bondels op die kop. Op die oog af nie veel nie, maar geskik vir die buiteoond. Nood leer. Muisbos brand vinnig en warm en brand totaal tot niet sonder om as te maak wat op die brode kan waai met die oopmaak.  

“Vytjie-goed het gesôre,” dink ta’ Kaaitjie toe sy Vrydagoggend die stywe bondel muisbos op haar stoepie sien.

Vrydae is bakdag. Heeldag. Ta’Kaaitjie drup die bekwame gis in ’n gaatjie midde in ’n piramide witmeel, en meng dit versigtig met al twee hande deur. Dan vir die afknie en laat rys, uitgepof tot twee keer die aanvanklike grootte. Dan weer afknie en verdeel tussen twee langwerpige broodpanne van geslagte ver terug. Weer onder die vadoek laat uitrys, weer tot twee keer die aanvanklike grootte. Deurentyd word ’n stellasie staangemaak om te verhoed dat die kosbare deeg vasrys teen die styfgewaste meel­sakkie.

“Môre Klaas. Kom hientoe,” groet sy toe oom Herklaas naderstaan vir die stook van die oond.

Die muisbos word bosgebind, in die oond gestop en brandgemaak. Dan maak hy die ysterdeurtjie styf toe met net ’n paar luggate vir die vuur om te trek en die rook om te ontsnap. Kort voor lank begin die eerste hittegolfies bewe bo die geboë rûe van Paulshoek se buiteoonde terwyl die wispelturige hitte binne-in opbou om die geskikte temperatuur te genereer en die kosbare hitte te koester. Oondtempera­tuur word geskat van buite, met ondervinding en alles in ag genome.

Lank voor die oopbreek weet ta’ Kaatjie al op wie se huis daar vandag skande rus, watter huwelike kwaad gaan slaap. Haar oordeel gevel op die trek van die rook nog voor die panne in is. ’n Wollerige dwarrelrook voorspel groen muisbos wat nie die oond behoorlik warm gaan kry nie. ’n Onbeduidende dun rokie dui op muisbos wat te vinnig uitbrand, verkeerd gestop. ’n Oond sonder tekens van rook ná sonop verklap ’n huisvrou onder die prop op bakdag.  

Met die vuur uitgebrand en die oond die perfekte temperatuur gereken, laat sak ta’ Kaaitjie die spane met die uitgerysde deegpanne op die oond se kleivloer en oom Herklaas messel die deurtjie weer sorgvuldig toe met potklei. Buitebak duld nie ’n trek, wind of reën nie; die temperatuur buite is van belang vir binne.

Die fel Namakwason laat weet wanneer die deur hom weer kan laat oopbreek met die brode gaar. Een misstap of misskat en ure se harde werk word beloon met ’n rou, platgeslane of  swartgebrande stuk misbaksel … en die hoon van die dorp op jou hoof.

“Winkelbrood het my genadiglik nog nooit oorgekom nie,” dink ta’ Kaatjie dankbaar toe sy by haar deur uitkom net toe oom Herklaas weer by die tuinhekkie inkom. Hulle moet aanstaltes maak – dis sweerlik Pastoor se kar op die horison. Oom Herklaas is die ene afwagting. Van hy nie meer bruikbaar is vir ’n week se werk as ’n druiwepakker nie, is die toemessel en oopbreek van Paulshoek se buiteoonde sy trots.

“Mirrag Klaas. Fytjie!” roep sy as die oorlamse meisie weer in haar rigting aangedrentel kom. “Kom hientoe! Bring koffiewater. Genog. Pastoor se donkies sal ook dors wees. Laat hy breek soos hy moet, Klaas.”

Kaalhand breek oom Herklaas die droë klei omslagtig weg en maak die deurtjie met ontsag oop. Die bekende geur van varsgebakte  brood vul die laatoggendlug. Groot spietwit, uitgepofde brode met ’n goudbruin kors.

Ta’ Kaaitjie sug behaaglik en beduie hy moet tru staan. Uit die hoek van haar oog sien sy Pastoor se kar van die grootpad afdraai. Versigtig word die stomende panne een vir een op die broodspaan gewikkel en op die houttafel gesit vir die afkoel.

“Lat ek loop hanne was,” sê sy en verdwyn in die huis.

Sy hoor nie die blink viertrekvoertuig wat Pastoor verbysteek en voor haar deur stop nie. Sy sien nie die twee vroue wat uitklim met klingende armbande nie.

“Ag sjame, kyk daai ou antie met die voortrekkerkappie.”

“Waarvan leef hulle tog?”

“G’n mens weet nie ... Oulike ou huisie, so met die kannas ... Daai brode ruik lekker,” snuif die een vrou.

“Oe ja! Kom ons bied haar ’n geldjie aan,” sê die ander een. “Het jy?”

“Twintig rand genoeg?”

“Oorgenoeg. Hier, ek het nog twee.”

Fytjie staan nuuskierig nader toe die vrou met die pienk sweetpak die tuinhekkie oopstoot en in haar geblomde handsak grawe.

“Middag, meisie,” wink sy Fytjie nader. “Ons sal julle brode koop. Hier’s R20 ... en R2 vir jou. Dè.”

Die een met die armbande bondel sneesdoekies in elke hand en skud die warm brode uit. Die ander een stop die geld in die oorblufte meisie se hand en vang die eerste brood net voor dit op die grond rol. Met ’n brood elk klim hulle in die blink voertuig net toe Pastoor onder die kameeldoringboom stop om sy donkies uit te span. Sy gesig verhelder toe ta’ Kaaitjie by haar voordeur uitkom met ’n groot houtskinkbord om die brode tafel toe te neem ...

 

 

 

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top