PEN Afrikaans | Books & Writers

 
Oestyd-skryfuitdaging: Groepsgebiede

Groepsgebiede

Toe die aardskuddende nuus van die eerste maanlanding in 1969 kom, staan sy haar spog-skilferkorsdeeg en uitrol. Sy verstar, hou haar asem op, draai haar kop na die radio en luister aandagtig. Sy kan haar ore nie glo nie. Die nuusleser sluit die bulletin af en bevestig die verbluffende nuus. Sy moet dit met iemand deel, maar niemand is tuis nie. Haar man is donkeroggend uit lande toe. Die huishulp is begrafnis toe en sy moet self sien kom klaar met die melktert. Sy moet die pasteikors voordag in die oond kry voor dit te warm word om tot sy volle reg te rys.

Die nuus oor die radio is oorweldigend. Niel Amstrong het die historiese eerste tree op die oppervlakte van die maan gegee. ’n Man op die maan! Sy moet die ongelooflike nuus deel. Sy besluit om haar suster te bel en mik opwasbak toe. Op pad steek sy vas as haar oog val op ’n gehurkte figuur voor die kombuisvenster. ’n Plaaswerker is besig om die uitgeblomde kannas op te grawe en af te steek om te verplant in die nuwe beddings weerskante van die motorhek wat hy vanoggend afgespit het.

“Tone!” roep sy deur die oop venster. “Tone!”

“Nooi?”

“Daar het mense op die maan geland!”

Tone kyk nie op nie. Reageer glad nie, asof hy hoop sy praat nie met hom nie.

Sy wil haar vererg. Die man is elke parstyd so stuurs, asof hy eerder op die wingerd wil werk as op die werf. Asof hy nie wil besef nie dat hy van sy ongeluk af veel nuttiger in die blomtuin is.

 “Tone, hoor jy?” Geen reaksie. Sy druk deur. “Daar het nou net ’n man op die maan geloop!”

Hy skud sy kop en gaan aan om die knolle hardhandig middeldeur te breek. Een deel vir terugplant in die bedding onder die kombuisvenster; die ander deel word verdeel en opsygesit vir die twee nuwe beddings. Die geles lê gedweë aan sy regtersy, die rooies lê links. Hy gaan hulle presies ewe ver van me­kaar af verplant in die rou rooigrondbedding langs die motorhek, tien duim uit mekaar, vier duim diep, met uitlope wat net-net bo die grond uitsteek.

Vir ’n oomblik wil sy haar vererg. Sy rek haar nek vererg en leun by die venster uit met haar meelhande omhoog. Sy trek haar asem skerp in om die aardskuddende nuus nog eens te herhaal. Hard. Dringend. “To…!”

Sonder om op te kyk van sy doenige modderhande, val hy haar droogweg in die rede ...

 “Mag hy?”

 

 

 

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Comments 3 Reaksies | 3 Comments
Delete Comment
avatar
Neels
2012-12-24 @12:39
Armstrong het eers op 21 Julie 1969 op die maan geland. Miskien was Tone maar net verward oor die tyd-ruimte-paradoks ... En dit was (hier by ons) laataand (het self as 12-jarige dit op Voice of America geluister. Kan dink dat Tone stuurs sou wees as hy daai tyd van die aand nog moes wek!
Delete Comment
avatar
Neels
2012-12-24 @15:20
En wat pars ons in Julie?  Gedroogte rosyntjies van die natrossies miskien? Arme Tone ...
Delete Comment
avatar
Johann
2012-12-25 @22:36
Oulike stuk, maar die maanlanding was op 20 Julie 1969 en nie in 1964 nie.
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address