NB-Uitgewers soek jou Ultrasatyn-liefdesverhale

  • 0

Het jy vuur in jou are? Stoom die rekenaarskerm as jy skryf?

Ons is op soek na smeulende, erotiese fiksie vir die nuwe witwarm Ultrasatyn-projek.

Ons lesers is mal oor ons Satyn-liefdesverhale, en nou gaan ons een stappie verder: liefdesverhale wat van die eerste bladsy af passievolle lyflike plesier tussen die lakens besing, in moderne, bagasielose verhoudings tussen sterk karakters. Dit moet smeul dat die hitte sommer so uit die leesskerm straal!

Uitsonderlik sexy, gewaagde liefdesfiksie wat die leser se tone laat krul van hitsige lekkerkry – as jy so iets wil skryf, is die Ultrasatyn-wedstryd vir jou.

Nie net het jy die kans om dalk ’n e-boek van jou verhaal die lig te laat sien nie, maar daar is twee pryse op die spel: R20 000 vir die liefdesverhaal met die meeste woema, en R10 000 vir die naaswenner. Die wedstryd is oop vir reeds gepubliseerde skrywers sowel as debutante.

Stuur jou stomende liefdesverhaal, van nie minder nie as 35 000 woorde, na ultrasatyn@nb.co.za. Die sluitingsdatum vir inskrywings (slegs per e-pos) is 19 April 2013, en wenners sal teen 18 Junie 2013 aangekondig word.


 

Wat is ’n liefdesverhaal?
   
· Die storie fokus primêr op die ontwikkeling van ’n liefdesverhouding tussen twee mense.
· Ons weet van meet af aan hier gaan liefde gevind word. Die groot vraag is: Hoe?
· Spanninge van buite die karakters, maar veral ook van binne – dit wil sê konflik weens botsende persoonlikhede, instellings of doelwitte – verskaf die storie: Ons sien hoe die twee deur al die konflikte werk en die struikelblokke in hul pad na liefde oorkom.
· Vir Ultrasatyn soek ons verhale waar sensualiteit en die seksuele aspek van die verhouding intense aandag geniet, maar onthou: Die twee hoofkarakters se uiteindelike vind van liefde by mekaar is steeds ’n vereiste.

Klik hier vir volledige kompetisiereëls en die inskryfvorm.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top