’n Reis huis toe met Gert Vlok Nel, Confucius en die Spook van Johannes Kerkorrel

  • 2

“Here we go again.”

So begin my interne dialoog op my tweede laaste soloreis van 2013, en die eksemplaar van die i-TJIENG – ’n GPS vir Verdwaalde Siele wat ek in my rugsak saamdra, stem saam. “Vuisvoos, maar gefokus … soos ’n padda in ’n pot warm water, raak jy gewoond aan die hitte” (hoofstuk 29, inleiding en paragraaf 1).

Laat ek verduidelik. Vir ’n ou wat aan hoogtevrees ly, redelik luigat is, en bitter min van musiekteorie verstaan, het ek nogal die verkeerde job gekies, want dit voel vir my soms dis al wat ek doen: vlieg na vreemde bestemmings, gewoonlik met Kulula of Mango, huur ’n kar by Europcar of Budget, en bestuur tot by die naaste kroeg/teater, waar ek minstens een aand my tyd mors deur rymelaryagtige Afrikaanse liedjies voor effens besope gehore te sing. Is dit Kuns? En as dit nie Kuns is nie, hoekom de fok doen ek dit?

Gelukkig is die i-TJIENG – ’n GPS vir Verdwaalde Siele tydens hierdie reis my metgesel, want dit het nou, na jare se navorsing en editing, eindelik in slapband verskyn by Penguin SA. Hoewel ek (met die hulp van ’n paar mense wat baie slimmer is as ek) die ou Sjinese teks self verwerk het, voel dit glad nie soos my boek nie. Die feit dat die I Ching eindelik in Afrikaans beskikbaar is, is vir my amper net so ’n verrassing soos vir al die ander verdwaalde siele wat al so lank sonder hulp moet sukkel om kop of stert uit te maak van die swetterjoel Engelse verwerkings van Confucius en kie se esoteriese antieke wysheid.

“Is hierdie LitNet-artikel ’n stuk promosie vir die nuwe Koos Kombuis-boek?” vra iemand waarskynlik teen hierdie tyd; en as ek nou by my computer was, sou ek geantwoord het: “Ja, beslis! It’s a dirty job, but somebody’s got to do it!”Maar dan sou ek inderhaas bygevoeg het: dit is waarskynlik ook ’n afdaal na die vagevure van die hel, an investigation into loneliness and the death of ego, ’n bestekopname van waar ons presies staan op hierdie mespunt van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en ’n reeks baie ongemaklike retoriese vrae, vrae wat selfs meer ongemaklik is as: Is daar ’n Joost diep binne-in elkeen van ons? Of: Is daar Bitterkomix in die hemel? Werklik moeilike vrae, ja, vrae soos: Hoekom het niemand die nuwe Gert Vlok Nel-album ernstig opgeneem nie?

’n Gejaag na wind, alles is ’n gejaag na wind, so sê die prediker. En soms stem Confucius saam: “Selfvernietiging, onontginde talente, toksiese verhoudings. Jy karring maar net aan en bereik niks noemenswaardigs nie. Dat so ’n brein nou moet vrot …” (hoofstuk 48, paragraaf 2).    

Vir iemand wat nou, op die deurwinterde ouderdom van 58, sy eerste selfhelpboek gepubliseer het, het ek ’n verstommend lae selfbeeld en ontstellend min sekerhede. In hierdie dae, terwyl al wat leef en beef hulleself besighou met die nuutste apps, is my siel soos ’n ou man wat kaalvoet loop deur ’n veld vol verwaaide plastieksakke, ver van die see af, rigtingloos soos ’n mot tussen die flikkerende ligte van ’n casino. Is dit Kuns? As dit nie Kuns is nie, hoekom de fok doen ek dit? Soms wonder ek nog hieroor; meestal probeer ek net oorleef. 

In die ou tyd was ek bang vir vlieg. Ek was bang, want ek wou nog lewe. Deesdae is ek net moeg. Vlieg is vervelig. Dit neem twee uur voordat ons verby die effense turbulensie is en ek my bagasie kry. Tot my verbasing is ek in Lanseria. Ek raadpleeg die vasgestypelde reisdokumente in my baadjiesak. Kar by Europcar, dan ry tot by die Lynnwood Bridge-sentrum, waar ek vanaand saam met my medemusikante die show 27 Jaar met ’n Vals Kitaar aanbied. Dis ’n show met ’n set list, ’n interval en verskeie hooftooisels. Klink nogal of dit Kuns kan wees! Durf ek moed skep? Die i-TJIENG – ’n GPS vir Verdwaalde Siele swyg, en daar is nie nou tyd vir muntstukke opgooi nie.

Eers ure later, terwyl die laaste encore-applous nog in my kop eggo, sak ek moeg terug op my nou dubbelbedjie in die City Lodge-kamertjie wat die Atterbury-teater vir my geborg het. Op my slaapkamer-tafeltjie: my Gert Vlok Nel-CD, my eie selfhelpboek, en ’n bottel vyf-jaar- KWV, aangeskaf in die duty-free seksie van die Kaapse lughawe. Wat meer wil ’n man hê? Ek raadpleeg die i-TJIENG. “Rus eers voor jy verder ry. ’n Groot taak is pas suksesvol voltooi” (hoofstuk 63, paragraaf 1).

Die volgende oggend loer ek weer na my stapeltjie vasgestypelde papiere. Tot my opperste verbasing moet ek na brekfis my gehuurde kar vat en Vrystaat toe ry. Vrystaat! Dis fokken ver! Ek bel my vrou. “Is jy seker?” Sy lag. “Ry gou voor die reën kom – hulle het donderweer voorspel,” is die enigste simpatie wat ek kry.

Toe die laaste vyflaan-dubbel-highways verdwerg tot twee lane, waag ek dit om my Gert Vlok Nel-album in die gehuurde kar se CD-speler in te druk. Die eerste ding wat ek hoor, is ’n klaende bekfluitjie, rou soos ’n oop wond. En daarna die onseker eggo van Gert se stem wat agterna volg soos ’n beswering, ’n bevestiging van die hoop, pyn en liefde, die ganse spektrum van troostelose menslike emosies.

Soos ’n trein
Riding into rain …

’n Dwarrelwind steek op. Papiere waai dwars oor die pad. Skwatterkampe op die horison. ’n Bordjie langs die highway waarsku teen “Hazardous Objects”. Dis alles baie depressing, maar ten minste is ek omring deur die Klanke van Kuns.

Soos ek al verder weg ry van die blikborde van die ou Transvaal, is dit asof my donker bui lig. Gert sing voort, en hier en daar probeer ek saam neurie, die een liedjie na die ander, terwyl my vingers tyd hou op die stuurwiel en my hart tjoklits klop vir Afrikaans:

En ’n handvol waboomblaar en narrabosblaar
En waboomblaar en narrabosblaar
Arm was ek gister en nou is ek ryk
Nou skatryk
Arm was ek gister
En nou skatryk …

Wanneer ek iewers aftrek om te piepie – dis waarskynlik ’n brandewyn-gegeurde piepie, so die plantjies langs die pad moet bly wees – raadpleeg ek die eerste keer vandag die i-TJIENG – ’n GPS vir Verdwaalde Siele (hoewel ek nie meer so verdwaal voel nie, want benewens Gert Vlok Nel se CD het ek ’n goeie GPS-sisteem in die kar), en ek ontvang hoofstuk 19, twee maal na mekaar (wat beteken ek moet slegs die inleiding lees en nie een van die paragrawe nie): “Hier kom ’n ding! Hoop, tekens van vernuwing. Dis lente in die Boland, al die veld is vrolik. Benut elke oomblik, gryp elke geleentheid aan. Niks duur vir altyd nie, wees gereed vir verandering.”

Maar, helaas! Reality sets in again, en die goeie luim hou nie vreeslik lank nie.

Want by die volgende vulstasie, waar ek petrol ingooi, sien ek my eerste “hazardous objects”: ’n bejaarderige vrou, hare in krullers, lewensmoeë uitdrukking in die gesig, staan en argumenteer met iemand wat moontlik haar middeljarige seun kan wees. Sighretvasgeklem in haar pofhand, reeds klaar gerook tot teen die lipstiffiebesmeerde filter, maar steeds klou sy daaraan vas soos aan ’n reddingsboei. Die middeljarige seun, objek van haar misnoeë, draai om om iets uit ’n kar te haal. Wanneer hy buk, skuif sy broek ver af en vertoon ’n harige gleuf. Iewers in die binnekant van die motor, net-net sigbaar deur die kommen getinte ruite, huil en weeklaag ’n swetterjoel snotneus-kinders.   

Terug in die veiligheid van my gehuurde motor, waar die i-TJIENG – ’n GPS vir Verdwaalde Siele oop lê op die passasiersitplek, vang my oog toevallig twee sinne uit hoofstuk 28 wat sê: “Oorlaai, oorgewig, te swaar … Ons leef in merkwaardige tye.”

Eers wanneer die wind byna stormsterkte waai, en donker wolke bly saampak sonder dat die reën nader kom, vind ek die tweede laaste afdraai na Parys. Dis laatmiddag. In die lig van die sakkende son vang my oog ’n blerts helder groen wat die vaal landskap meteens laat dans van plesier: vlak langs die pad, ’n enkele akkerboom, getooi in die eerste vars blaartjies van die lente. ’n Stukkie Stellenbosch in die middel van die plat niks van die ganse Vrystaat!

Is ek nog steeds ’n Stellenbosch-snob? wonder ek. Hoekom sien ek neer op mense soos daai gesin by die vulstasie? Of hang dit af hoe mens daarna kyk? Vir my is ’n groen akkerboom mooi, want ek het met groen akkerbome grootgeword. Uit die oog van die tuinboukundige is dit net nog ’n uitheemse plaag, onaanvaarbaar in Afrika soos armblankes by Mount Nelson se high tea op ’n Sondagmiddag.

Nietemin: Parys se strate sou enigiemand bekoor. Sedert ek laas hier was, het die plek nogal toeristevriendelik en oulik Afrikaans geword, op ’n moderne kleindorpieagtige manier. Daar is deesdae meer as een Vetkoek Den, let ek op. Ek sien ’n winkel met die naam Kipasso, en nog een genaamd Fieterjasies. Dis mos nou hoe ’n Afrikaanse dorp moet voel, dink ek plesierig. Pure loslit-kultuur! Geen “hazardous objects” in sig nie!

Ek gaan meld aan by die venue waar ek moet speel. ’n Vriendelike kelnerin gee my aanwysings na my gastehuis toe, ’n paar  blokke weg geleë die oewers van die majestueuse, rustige Vaalrivier. Ek geniet ’n warm stort, knoop my bandana vas, tel my kitaar op en gaan meld weer aan by die tannies van Ruby’s Restaurant.

Ruby’s Restaurant se dekor is ’n mengsel van satire en ouwêreldse sjarme. Terwyl ek opstel vir die klanktoets, hoor ek iemand iewers op ’n CD sing: “I love Paris in the springtime.” Teen die mure is afbeeldings van die Eiffeltoring, Nianell en Philip Moolman. Die plek is ’n vrugteslaai van kulturele diversiteit, al is die manneristiese simboliek hier en daar getint met die tipiese retrospektiewe weemoed van die postimperialisme.

Is dit Kuns? Fok dit, ek like, ek like.

In Ruby’s word die kuns en kultuur bevorder; dit is die Mekka van Afrikaanse liedjiekuns in Parys in die Vrystaat. ’n Ieder en ’n elk het al hier kom sing. Nie net bevorder hulle die kunste nie, hulle bedien die wonderlikste kos. Ek sit saam met Heather, die klankingenieur, en haar aangenome swart seuntjie backstage, ruil stories uit, deel herinneringe – ek en Heather kom al ’n lang pad saam – terwyl haar seuntjie woelig geluidjies maak, vliegtuigie ry met sy vingers, peuter met alles waarmee daar te peuter is aan tafel en in die vertrek.

Na ete gaan stap ek deur die dorp, want voor die konsert begin wil ek meer van Parys se naglewe sien. Dis al sterk skemeraand. Ek stap tot by ’n brug waar ’n riviertjie onderdeur loop. Hoe romanties! Dis een van die lope wat in die rigting van die Vaalrivier vloei, twee blokke hiervandaan. Ek buig oor die ou klipbruggie, maar ’n geweldige stank vul my neusgate. Voor my in die halfdonker sien ek rubbish rondlê: ou meubelstukke, plastieksakke, kledingstukke, papiere, gemors. Die reuk van riool hang sterk in die lug. Ek herinner my ’n gesprek met iemand vroeër die aand, in Ruby’s: “Ja, Parys gaan sterk vooruit met hulle toerismebedryf. Net jammer ons vriende in die munisipaliteit bring nie hul kant nie. Al die strate is vol potholes, en mens kan nie meer langs die Vaalrivier gaan stap nie – dit stink te erg!”   

Ek draai om, en stap weg van die middedorp af. Hier is nog steeds oulike winkeltjies – nou meestal antieke-meubel-handelaars – maar nou sien ek skielik orals tekens van verval. Benewens die grusame gate in die teerpad en ook in die sypaadjie waarop ek probeer loop, lyk dit nie asof besigheid orals so goed is nie. Hier lê ’n hoop ou bakstene, daar is ’n onversorgde erf; party persele is te koop; orals word ek bewus van ’n gevoel van moedeloosheid en verwaarlosing. Bo blink en onder stink?

Is dit Kuns? As dit nie is nie, wat de fok soek ek hier?

Ek haal my selfoon uit my baadjiesak uit, begin foto’s kliek in die skemerdonker.

Ek keer terug na Ruby’s toe, doen my hele konsert in ’n dwaal. Die plek is stampvol, a good time is being had by all. Na die tyd verkoop ek my CD’s, deel my handtekeninge uit, en keer terug na my luukse gastehuis langs die oewers van die stink Vaalrivier.

Dis amper middernag. Daar is nog baie brandewyn oor. Ek het die behoefte om stiltetyd te hou, maar kry nêrens ’n Gideonbybel nie. O wel: die i-TJIENG – ’n GPS vir Verdwaalde Siele is amper so goed. In hoofstuk 50, paragraaf 4, lees ek die beklemmende woorde: “Swakkelinge beklee topposte. Hulle het baie planne maar min kennis. Dit stuur op ’n ramp af. Talentlose, afgeskeepte gemors. Die verdomming van ’n ganse kultuur. Pure prul.”

Waarheen is ons land op pad? vra ek my af. Ek kyk by die venster uit. Die lank-beloofde reën het toe nie opgedaag nie. Ek skink ’n dop vyf-jaar-KWV en bel my vrou terwyl ek met die een hand die foon vashou en met die ander hand die TV-stel probeer manipuleer om ’n beeld te kry, maar die skerm bly morsdood.

“Die Kaap is vol storms!” lag my vrou. “Ons vuurmaakhout het vanaand amper opgeraak – dit reën nou al ure lank sonder ophou; die berge is vol sneeu!” Terwyl sy praat, druk ek per toeval ’n knoppie op die afstandbeheer wat die TV-skerm aan die lewe laat spring. Maar daar is geen beeld nie; slegs sneeuvlokkies.

Na die gesprek met my vrou sit ek die ligte alles af, gaan lê op die bed en kyk na die sneeuvlokkies op die TV.

Reën, reën, waar is die reën? dink ek. Toe wonder ek waar ek tevore hierdie presiese woorde gehoor het. Iemand het dit gesing. Op ’n verhoog. Maar wié?

Toe onthou ek ... Johannes Kerkorrel, “Piekniek by Dingaan”, die Baxter, laat tagtigerjare. Voordat Kruik hul eie produksie gesaboteer het. Ek, Johannes en Gerrit Schoonhoven het saam die stuk op die been gekry, dit is verder geworkshop deur die akteurs en deelnemers, toe wen dit ’n prys by die Grahamstad-fees, en trek stampvol sale – alles het baie goed gegaan, totdat die Broederbond besef het die hele teks is subversief, anti-apartheidspropaganda, Boos.

Was dit Kuns? Dalk nie. Maar die fok weet, dit was die Regte Ding op die Regte Tyd.

Of wás dit?

Ek kan voel hoe trane oor my wange begin loop. Dronkverdriet, veroorsaak deur die bottel Beyerskloof wat ek op die  verhoog verorber het, gekombineer met die KWV. Overkill. Al die highways, al die lughawens, al die aande voor halfdronk gehore wat skielik te veel word.

In die donker praat hy met my. Nie die KWV nie. My ou pel, die een wat dood is, though nobody knows who killed him, who the fuck put that cyanide in the beefcake.

“Hoekom huil jy?” vra my pel.

“Ralph,” sê ek. Die fokken Vaalrivier is nie veronderstel om te stink nie, demmit,” pleit ek. Dis óns rivier. Hoekom Fok Hulle Dit Op?”

Ralph sê niks nie.

“Ek wens jy was nog hier, Ralph – ek mis jou.”

Dis asof ek hom voor my sien. Hy lyk hartseer.

“Dink jy alles wat ons gedoen het was vergeefs?”

Toe, uit die bloute, spreek hy groot woorde van wysheid. (Later sou ek nie weet of hy dit regtig gesê het, en of ek sinne in sy mond gelê het nie. Maar fok dit, it made sense at the time.) “Dit hang af wat die volgende geslag daarmee doen. Dis te laat vir my, want ek is dood. Dis te laat vir jou ook. Jy is moeg. Jy moet huis toe gaan.”

“Ek gaan ligdag Welkom toe,” sê ek. Dis wat my papiere sê – ek het vanmiddag gekyk. En die dag daarna Bloemfontein, waar ek ’n vliegtuig kry terug Kaap toe. Ek hoor dit sneeu in die Kaap.”

“Onthou jy Bloemfontein?” vra hy. “Dis waar ons begin het.”

“In die middel van die land,” sê ek. “In die middel van Suid-Afrika. Sjit.”

“In die middel van die hel van apartheid, ja.” Hy grinnik.

“En toe skryf ons nog ’n kar af daardie eerste aand. Wel, oukei, nie heeltemal afgeskryf nie. Maar wat ’n yslike fokop.”

“Ja, ’n Fokop. Met ’n hoofletter F.”

Geleidelik sou ek uitpaas.

 

*

Die volgende oggend het ek net sinsnedes onthou. Sinsnedes wat ek hier weergee. Ek weet nie of dit regtig gebeur het nie. Dit was waarskynlik ’n vorm van wensdenkery, selfterapie.

Maar toe ek opstaan om orde te probeer skep in die gemors wat ek die vorige nag in my dronkenskap veroorsaak het – klere wat orals rondlê, ’n omgestampte glas, bagasie gestrooi oor die vloer – raadpleeg ek vir oulaas die i-TJIENG – ’n GPS vir Verdwaalde Siele. Nie om uit te vind of ek rêrig die vorige nag met Johannes Kerkorrel gepraat het nie. Maar om uit te vind of daar hoop is vir ons land, vir Suid-Afrika.

Ek vra: “Hoe lank gaan die Vaalrivier nog stink?” (Dis eintlik ’n verbode vraag, want mens mag nie die i-Tjieng gebruik vir fortuinvertellery nie. Maar ek móét weet of daar hoop is.)

Die i-Tjieng antwoord met hoofstukke 56 en 55, dus lees ek paragrawe 1 en 6 van hoofstuk 56 plus die inleiding, en daarna die inleiding van hoofstuk 55. Dit begin glad nie goed nie: “Van baie lag kom baie huil. Die hele hotelkamer is verwoes.”

Maar dan word die orakel meer positief: “Leef vir die oomblik. Moenie jou bekommer oor die dag van môre nie. Die tyd is ryp en vol soos ’n vrug. Oorvloed is van korte duur. Benut dit na die beste van jou vermoë …”

Wanneer ek eindelik my gehuurde kar se neus in die rigting van die Kaap stuur, haal ek Gert Vlok Nel se CD uit en vervang dit met Laurinda Hofmeyr se Reis na die Suide. Net soos die CD van Gert, is hierdie album ’n geskenk van my baskitaarspeler, Schalk, wat hy vir my gegee het as luistermateriaal vir die langpad toe ons besig was met ons laaste rehearsal vir die Atterbury-teater-show.

Dit neem my lank voor ek effens beter voel, en voor my hoofpyn begin wyk. Presies tot by haar toonsetting van Eugène Marais se “Dans van die Reën”, om die waarheid te sê.


Kategorie: Nie-fiksie, esoterika
Taal: Afrikaans
Druknaam: Penguin
Regte: Suidelike Afrika
Formaat: D-formaat (215 x 150) HB
Omvang: 224 bl
Publikasiedatum: September 2013
ISBN: 978-0-14-353846-2
e-ISBN: 978-0-14-353108-1

 

DIE BOEK

Hierdie boek dui die weg na insig aan. Dit praat twee tale, antiek en modern. Antiek, want dit verduidelik 'n metode om dieper wysheid te raadpleeg wat teruggaan na die Sjinese filosoof Confucius in die newels van die tyd. Modern, want dit is in vandag se Afrikaans, so kleurryk en lewendig soos wat net Koos Kombuis dit kan praat.

Dit is die eerste Afrikaanse verwerking van die antieke Chinese I Ching, of ‘Boek van veranderinge’. Hierdie orakel is gebaseer op 64 heksagramme (kombinasies van deur­lopende en onderbroke strepe) wat die raadpleger lei tot beter begrip en die wyse weg. Die boek word wyd in die Weste gebruik, waar dit gesien word as ’n uitdrukking van wat Carl Jung die kollektiewe onbewuste noem. Dit gee elke mens dus toegang tot sy eie versteekte, innerlike wysheid, wat op sy beurt ingeskakel is by die groter geheel van menslike ervaring.

Hierdie uitgawe is ’n vertaling, aanpassing en verduidelik­ing van die i-Tjieng-stelsel, kostelik geïllustreer deur Koos Kombuis se tekeninge. Die boek dra die toepaslike subtitel ‘’n GPS vir verdwaalde siele’, en is in ’n moderne idioom en in eenvoudige taal geskryf. Net reg vir die hedendaagse Afrikaanssprekende wat verdwaal in ’n verdwaalde land voel, en wat na wysheid en begrip soek.

 

DIE SKRYWER

Koos Kombuis is die bedrieglike naam van een van die talentvolste Afrikaanse kunstenaars vandag. Koos het sy loopbaan as avant-garde-digter en -skrywer begin, waarna hy as liedjieskrywer en sanger ontpop het in die rebelse, dwelmdeurdrenkte Voëlvry-anti-apartheidsbeweging. Hy is vandag ’n gesinsman, ’n produktiewe skrywer, kommentator en rubriekskrywer met verskeie romans en albums op sy naam. Hy is ook ’n fanatieke i-Tjieng-gebruiker.

Koop i-Tjieng by Kalahari.com

 

  • 2

Kommentaar

  • Koos,

     

    Miskien kan jy en jou voëlvry-pêlle van weleer vir ons 'n 'suurgat-beweging' op die been bring. Toer dan die land deur daarmee. Hierdie slag met Coke Zero, suurlemoenskyfies en strooitjies in 'n lang glas. Vir 'n nuwe, ander soort geloofwaardigheid, sien.

     

    Kan nie onthou of die nuwe bedeling se manne al hul innige dank aan julle vir julle voëlvryheid betuig het nie.

     

    Deur julle dwelmdeurdrenkte beswaarmakery van destyds het julle mos voorbrand gemaak vir die stinkende Vaalrivier, donga's in paaie, non-delivery oproer, beweerde vergrype by Nkandla, wapens, Mduli, regters, korrupsie, nepotisme, regstellende aksie, wit skwattterkampe, SEB, stakings, Waterkloof-lugmagbasis, geheim verklaarde bande, Selebi, Cwele, twee vakke en 30% matriekslaagsyfer, hongersnood by oorvol universiteite met verlengde studie-jare vir oorbrugingskursusse...., laat ek ophou, nou-nou trek jy weer die KWV nader.

     

     'n Voorstel vir 'n naam vir die toer sal bv iets kan wees soos 'Die Suurgat-en Gatvoltoer".  Komponeer liedjies en sing dit met oorgawe en bekla so die huidige stand van sake. 

     

    Sit nou daaraan en dink. Eintlik was julle voëlvry-ding geslaagd. Alles is nou vry -  meeste ouens in die nuwe bedeling is so vry soos 'n voël om eerstens vir homself te sorg en bogger die res.

     

    Maak dit nou vir ons beter.   Toe...., asseblief !

     

    Raed-na-Gael

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top