Henry Cloete: Verworpe dopamien | Columns

 
’n Ope blaf aan president Jacob Zuma

Geagte pres Zuma

Woef-woef.

Ha, net ’n grappie. Ek’t gedink ek sal maar begin met hoe u waarskynlik sou verwag ek sou begin. U sien, lede van my spesie word nie juis geken vir ons welsprekendheid nie. Toegegee – ons kommunikeer grotendeels deur te grom, te blaf en mekaar se agterente te ruik.

Maar sien, ek sien nie hoe dit daadwerklik verskil van die juigkore waarmee u uself omring nie.

Askies, laat ek eers om verskoning vra dat ek nou eers hierop kommentaar lewer. U sien, ek het maar vanoggend eers in die koerant gelees oor u opmerkings oor troeteldiere, en veral honde. ’n Familie het my ’n paar maande gelede aangeneem uit die hokke by die DBV. Ek is ’n Staffordshire terriër, of dan ’n “staffie” in die volksmond. (Terloops, ek lek soms ongenooid en onverwelkom die volksmond … maar dit ter syde.) Ek het sowat ’n week gelede geboorte geskenk aan vier welpies. Hulle is verskillende skakerings van swart en wit. Ek weet nie wie die pa is nie, maar ek’s seker u sal my nie veroordeel daarvoor nie.

My familie het ou koerantpapiere uitgesit as ’n soort sanitasiemaatreël vir my welpies, en só het ek op u opmerkings afgekom.

U reken luidens die berig dit is ’n wit ding om geld te spandeer op honde – om ons dokter toe te neem en dies meer. U dink dit is “nie die Afrika-manier van dinge doen” om ’n hond met sorg te behandel nie.

Voor ek verder skryf, wil ek graag u aandag vestig op hierdie foto:

 

Hoe sê hulle – ’n prent vertel ’n duisend woorde? Ek weet nie, ek dink nie eens ek kan tot by ’n duisend tel nie en ek ken ook nie baie woorde nie. Woef-woef.

Ek wil egter graag een of twee dinge noem. Indien u ’n oog sou gooi oor Sandra Swart van die Universiteit Stellenbosch se artikel “Dogs and dogma: a discussion of the socio-political construction of Southern African dog ‘breeds’ as a window on social history” (2003), sou u vroeg reeds merk dat een van die bekendste hondsoorte wat in Suid-Afrika voorkom, die Canis Africanis, bes moontlik ’n afstammeling is van die Arabiese wolf (Canis lupus arabs), wat reeds iewers tussen 1 500 vC en 1 000 vC in Suid-Afrika aangekom het:

Certainly there were dogs before western settlers. Early travellers to the Cape observed the presence of dogs. In 1595, Cornelis de Houtman observed that the Khoisan owned dogs. In 1861, Casalis noted that ‘the natives [Sotho] affirm that they have had dogs from time immemorial’. In 1497, Vasco Da Gama observed dogs owned by the San. Between 1700 and 1800 inland travellers remarked on dogs owned by the groups they came across. (Verwysings uitgelaat.)

Die omsien na honde is nie die “Afrika-manier” van dinge doen nie? Meneer Zuma, dit lyk of u u voorouers sal moet berispe as dit die geval is.

Maar genoeg van die akademie.

Honde is nie sommer net vir die mooi daar nie … Wel, soms, ja, by kompetisies en so, maar nie in die algemeen nie. Ek is nie besonder mooi nie en het nog nooit aan ’n kompetisie deelgeneem nie, maar ek glo my hart is op die regte plek. In die ribbekas, tussen my twee voorste bene – ook nie soveel anders nie. Meneer Zuma, dit is tog algemene kennis dat honde al eeue lank eienaars bystaan met jag, trek, waghou en talle ander aktiwiteite. Waarom het u polisie ’n honde-eenheid, meneer Zuma, as ons so oorbodig is? As ’n hond in die polisie siek raak of seerkry, sal u ook aanraai dat dié nie bystand kry nie omdat dit ’n “wit” ding is?

Ek probeer geensins voorstel dat my spesie perfek is nie, meneer Zuma. Ek weet dat my spesie soms skuldig is aan die aanval van kinders en volwassenes wat dit nie verdien nie. Ek weet ons mors waar ons nie moet nie en kom soms gretig voor.

Weer eens, egter – ek sien nie werklik hoe verskillend ons in hierdie opsigte van die mensdom is nie.

Goed, meneer Zuma, ek besef hierdie brief raak nou effe lank, so ek sal afsluit.

Ek glo enige redelike mens sal saamstem met die gedagte dat ’n hond, enige hond, se mees kenmerkende eienskap lojaliteit is. Daar is min dinge wat ’n eienaar kan doen wat ’n lojale hond skielik sal laat besluit om die pad te vat.

En dít, meneer Zuma, geld vir die oorgrote meerderheid mense ook, ongeag velkleur, geslag en al daai. Mense bly tog lojaal, meestal blind so, tot hul herkomste, opvoeding, geloof, gode, sportspanne en leiers. Trouens, ’n mens sou seker kon argumenteer dat dié lojaliteit in ’n mate aan die wortel van vele konflikte in die wêreld staan.

Ek probeer nie aandui dat lojaliteit in sigself ’n slegte ding is nie. Ek meen bloot daar moet versigtig daarmee omgegaan word. Buiten die relatiewe ... wel, eintlik maar algehele ... gebrek aan ’n sterk opposisiekandidaat is lojaliteit (en, nes met ons, die belofte van opvolgende maaltye) die hoofrede waarom u in Mangaung as ANC-president herkies is.

Maar voeding gaan beide kante toe, meneer Zuma. Lojaliteit kwyn dikwels, al moet ek dit nou erken, as die behandeling nie goed is nie.

Wanneer ek sien hoe u met u middelvinger vir die wêreld wys hoe u dit sien ...

 

... wil ek u aanraai, meneer Zuma, om nie die hand te byt wat u voed nie.

Woef-woef.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address