’n Nuwe wildernis – die stryd gaan voort

  • 0

Nuwe wildernis
Ben Viljoen
Human & Rousseau, 2013
ISBN: 9780798158343

 

 

 

Koop ’n Nuwe wildernis van Kalahari.com.

 

 

Ben Viljoen se boek is ’n roman wat uit ’n reeks kortverhale opstaan. ’n Nuwe wildernis behoort heelwat aandag te trek.

Dit sal tot baie spreek: oudsoldate (van die SAW sowel as die struggle), jong mans, heldhaftiges sowel as meer skroomvallige lede van die manlike spesie, en almal wat in oorlog, mans en geweld belangstel.

Vir sommige sal dit ’n reis terug in tyd wees na klaarstaan, patrolliestap, drink, bevele uitvoer van gesagsfigure vir wie jy óf oordadige óf geen respek het nie. Ander mag dalk nie daardie dinge onthou nie, maar dit tog met bruindrag en dissipline assosieer. En veterane van die opposisie mag ook stof tot nadenke hier vind, want een van die karakters, Khanda Mahlatini, is ’n Zoeloeman wat in die weermag uitgeblink het, maar hom in rassisme bly vasloop, sodat hy uiteindelik deel van die struggle word.

Daar word nie doekies omgedraai nie. Van die soldate in die boek is bar, rou wesens wanneer hulle hulle kampe doen. Vroue, die geliefdes wat by die huis op hulle wag, word in kru terme bespreek. Mahlatini se vrou word in sy afwesigheid verkrag en sy reaksie is dié van ’n man wat opgelei is om dood te maak.

Daar is ander tonele wat jou bybly, van brommers om gesigsopeninge in lyke, van ’n Suid-Afrikaanse soldaat wie se gesig geswel is omdat ’n by hom aan die binnekant van sy mond gesteek het, van ’n Swapo-soldaat wie se lyk vooraan ’n Casspir vasgemaak is, van ’n aanval in ’n kerk in die Oos-Kaap wat tot die dood van een van die aanvallers lei, van ’n struggle-stryder wat dros, van twee oudsoldate wat nou as deel van ’n kommando op nogal bisarre wyse ’n swartman ver moor. Wie blameer ’n mens vir die moord? Die Suid-Afrikaanse geskiedenis? Die verbitterde Hings van Rooyen wat sy seun op die Grens verloor het en nie kon aanbeweeg nie? Is dit inherente neigings tot geweld wat die skuld moet dra?

Die beste vertelling is vir my “Die laaste patrollie”, waarin burgermaglede aan die einde van ’n gebeurtenisvolle grenskamp terug Suid-Afrika toe moet vlieg. Hulle wag al vir die vliegtuie toe ’n groepie die opdrag kry om vir oulaas ’n patrollie te ry en ’n mens weet eenvoudig iets verskriklik moet gebeur. Die opbou van die verhaal is baie goed. Viljoen weet hoe om afwagting te skep en ’n situasie te orden.

Dis nie nuwe materiaal nie. Die lys oorlogliteratuur is omtrent so lank soos die ry militêre handleidings wat deur die jare opgestel is, hier sowel as in seker enige ander samelewing op aarde.

Oorlog, is al gesê, stimuleer mans; dit hou hulle besig; hulle lees daaroor; hulle wil dit ken; hulle wil daarby betrokke wees. En daarom die verskeidenheid verhale, hervertolkings en voorbeelde wat aan mans soms terapie of ontvlugting bied, maar ook ’n definisie van hulleself ophou.

Ek moes dink aan die soms omstrede Christelike skrywer John Eldredge wat in sy boek oor mans, Wild at heart, meen elke man hunker daarna om die jagter eerder as die prooi te wees, die aksiefiguur eerder as die passiewe een. Selfs die passiewes hunker stilweg na die rol, al durf hulle dit dalk nie in meer demonstratiewe geselskap erken nie. Dus lees ’n mens boeke soos hierdie een, en kyk jy soortgelyke flieks, om vir ’n paar uur groter duidelikheid oor jou eie identiteit te hê en wat jou in ’n ideale wêreld te doen staan: jy moet die wapen kan opneem en veg wanneer dit verlang word; jy moet ’n man kan wees in ’n wêreld wat jou wil vertel jy moet dalk nie jou manwees luidkeels verkondig nie. Sou dit vergesog wees om te meen Viljoen se werk kan in die konteks van Angus Buchan se Mighty Men gelees word? Toe daar ’n paar maande gelede so ’n saamtrek in my omgewing geadverteer is, was ek verras om te sien ’n oudkapelaan van Tempe, wat ook ’n verkennersoldaat was, is een van die leiers.

Stel ’n mens die boek langs ander op, kom dit goed uit die vergelyking. Weg is die gestroopte styl wat ons in die tagtigerjare in kort werke soos Alexander Strachan se ’n Wêreld sonder grense en Gawie Kellerman se Wie de hel het jou vertel? gesien het. Hier word in groter kleur en geur vertel wat op die Grens gebeur het en ons sien dat “gewone” soldate, dit wil sê nie spesialiste soos die verkenners nie, hewig in die stryd betrokke was. ’n Mens kan debatteer oor watter werk die beste, of dan aangrypendste, weergawe van ’n Suid-Afrikaanse soldaat se ervaring in fiksie sal wees. Dit sal interessant wees om te sien of Viljoen werk in heeltemal ander genres aanpak.

Die boek loop wel wyer as diensplig. Daar is die figuur van die struggle-vegter Khanda Mahlatini wat met een van die oudburgermaglede in aanraking kom. Daar is verdagte mense en groeperinge na afloop van die oorlog wat ’n donker sy van oorlogsug aandui. Die wildernis is nie op die Grens agtergelaat nie, soos die titel toon. Ons kry ook ’n blik op die burgerlike lewe, maar soos dit geraak word deur die spanning en geweld, en weldra word ’n wit oudsoldaat by derdemagbedrywighede betrek.

Dit is deesdae algemeen dat boeke oor die Grensoorlog verskyn. Al hoe meer besonderhede oor daardie periode word bekend, of erken. Groter openhartigheid is aan die orde van die dag. Ons beweeg van gestrooptheid en ’n versigtigheid, sou ’n mens kon sê, na vertroue in die publiek wat hierdie werke, en by implikasie die skrywende soldate, met ope arms ontvang. Sou dit die gevolg wees van ’n proses van nasionale rypwording wat nou voltrek begin word? Of het ’n nuwe generasie mans militêre invloed in hulle lewens nodig? Konflik en die behoefte aan bemagtiging en avontuur is immers in die manlike natuur ingebed.

Die boek se titel word op bl 205 pertinent bygehaal en ’n plaaslik-politieke geur gegee wanneer ’n man wat een van die oud-SAW-soldate vir ’n derde mag werf, sê: “Ek’s bevrees ons betree ’n nuwe wildernis, my vriend, een wat ons vir onsself geskep het. Ons sal Bloedrivier van voor af moet oorsteek as ons die Beloofde Land wil bly bewoon.”

Maar ek glo die frase sinspeel ook daarop dat oorlog op ’n breër terrein as die geografiese afspeel. Daar word op sielkundige of sosiologiese vlak opnuut verlang om uiting te gee aan die basiese drange en impulse van die man wat sy gang deur onbewustelike en atavistiese strominge laat bepaal, al voer ons so ’n oorlog deesdae op papier. Anders gestel: die stryd duur voort.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top