’n Intieme aand met Johnny Clegg is onvergeetlik

  • 0

Die restaurant by die Baxter Teater is waar die ondervinding van Johnny Clegg se vertoning nou eintlik begin. Terwyl Theresa Peters, eienaar van die restaurant, raadgee met al die rissie, tzatziki en poppadoms by die spinasiekerrie, groentesop en pasta, gesels vreemdelinge met mekaar oor hul laaste – of eerste – Johnny Clegg-konsert.

Theresa glimlag breed – haar familie bedien al vir meer as 40 jaar kerriegeregte aan die hordes van Kaapstad by die Maharajah, en Johnny se musiek is ook deel van haar erfenis, ’n baken in swaarkrydae in Suid-Afrika. Pa’s met baarde, oorbelle, koordfluweel-broeke en kabeltruie gesels met hul tieners, vertel van die eerste maal toe hulle Johnny live gaan kyk het, die donker dae waarin sy musiek ’n silwer rand om ’n baie donker wolk was.

Die blote feit dat hy ná tien jaar terug is by die Baxter, is rede vir joligheid. Net voor die vertoning is ek in die dameskleedkamer. Die vroue om my is meestal ouer as my 42 jaar; hier en daar is die reuk van motbolle in die vertrek – baie van hierdie mense gaan sekerlik nie elke week in die aand uit nie, maar die glimlag op hul gesigte maak hulle weer 20, strydlustig, optimisties oor die toekoms, en laat hulle weer in die mag van musiek glo.

Die hoofteater is stampvol. Daar is groepies kerse op die verhoog; ’n reuse-kristalkandelaar hang laag en verlig die diep blou fluweelgordyne agter die instrumente. Die vrou langs my vertel vir haar vriendin dat sy nooit kon dink sy sou “so intiem met Johnny kon kuier nie” – dis soveel anders as die vorige konserte wat sy bygewoon het. My man onthou sy eerste konsert in 1989 by die Standard Bank-arena in Johannesburg, net nadat die antropoloog David Webster vermoor is. Daar is die aand op die verhoog daaroor gepraat. Hoe anders die atmosfeer by die Baxter, waar oud en jonk, mense van alle klasse en kleure skouer aan skouer fluit en klap vir Johnny Clegg, die danser, antropoloog, sanger, liedjieskrywer en aktivis.

Hy open met “December African Rain” en toe hy by die koortjie kom: “Where did the time go? Can you tell me where did my life go? Where did your life go?”, kan jy voel hoe mense teruggeruk word na die verlede. Hy noem dat die vertonings opgeneem word, die eerste keer dat hy dit doen, en so al vertellende begin die klanke van “African Sky Blue”, wat in 1982 geskryf is.

So al geselsende stap hy die pad wat sy loopbaan oor die afgelope 32 jaar geloop het. Daar is stories oor sy dae as jong seun wat in die swart koshuise vir migrasiewerkers gaan kuier het, hoe hy leer dans het soos ’n Zoeloe en hoe hy sy dosentepos by Wits laat vaar het toe sy liedjies internasionaal opgang begin maak – ten spyte van vele boikotte teenoor enigiets uit Suid-Afrika.

Hy vertel hoe migrasiewerkers Westerse instrumente neem en ver-Afrika – die snare word verander, die knoppies op die konsertina word verskuif, en dit word ingespan om die nostalgie en tradisies van hul voorvaders in klanke om te sit.

Hy laat dans ’n konsertina op die verhoog, iets wat in die tagtigs sekerlik menige boeremusiek-oom se safaripak-pype sou laat bewe het van verontwaardiging! Hy vertel hoe hy in Berlyn die muur sien val het in 1989; hoe die vrylating van Nelson Mandela, ’n paar maande later, oomblikke is wat sy lewe verander het.

Hy glo aan droom, dat diegene wat droom, eendag beloon sal word. Almal se tyd sal kom, daarom die liedjie “Your time will come”, waarin hy sing: “Everything will come right, I tell you friend; Do not throw away your hope; Me holding on one side, you holding on the other side, together we will pull through.”

Hy weef die storie van die land se onluste, die liedjies wat daaruit gebore is, sy sukses met Jaluka, en toe die groep in 1985 ontbind, die sukses van Savuka. Hy het 370 gepubliseerde liedjies geskryf, is 32 jaar in die bedryf en dra ’n T-hemp met ’n groot 32 op die bors vir hierdie konsert.

Toe die note vir “Scatterlings of Africa” begin, ontplof die applous en wolwefluite uit die gehoor. Johnny vertel dat dit sy gunsteling-liedjie is, omdat dit sy loopbaan formeel geloods het, eers vir Jaluka, en toe, nadat dit verwerk is, ook die deure geopen het vir Savuka.

Hy sluit af met “Cruel Crazy Beautiful World”, maar toe die ligte uitdoof en die musikante die verhoog verlaat, is ‘t einde niet: die gehoor wil meer hê.

Die ligte gaan weer aan, die musikante stap terug en doen ’n encore, vir “die man wat vir ses weke siek was en nou tuis is, maar hopelik binnekort sal sê dat hy terug is”. Die note van “Asimbonanga”, die liedjie wat hy in 1986 vir Madiba geskryf het, styg oor die verhoog op, die gehoor staan op en sing saam. Toe die klanke stil word en die applous bedaar, bedank hy die gehoor vir ’n wonderlike openingsaand. “Ek was nie gespanne nie en het pret gehad, te danke aan julle,” sê hy voor hy van die verhoog afstap.

Dis nie net ’n reis oor drie dekades vir Johnny Clegg nie, dis ’n reis vir Suid-Afrika, ’n persoonlike reis vir elkeen wat die vertoning gaan kyk. ’n Introspeksie oor hoe ver ons gekom het sedert 1994 en hoeveel ons nog het om van mekaar se kulture te leer.

Sy kruiskulturele lirieke is waarlik die weerspieëling van ’n Reënboognasie, en die teater voel regtig soos jou sitkamer. Intiemer as dit kom dit nie maklik weer nie.

• Johnny Clegg het wêreldwyd al meer as vyf miljoen albums verkoop en sy internasionale vertonings – sommige selfs saam met Nelson Mandela –  kry groot lof van gehore. Sy lys toekennings is langer as sy arm en daar is geen twyfel oor sy lojaliteite teenoor migrasiewerkers in Suid-Afrika nie. Hy het 24 albums op sy kerfstok, waarvan die laaste, Human, in 2010 uitgereik is.

An intimate evening with Johnny Clegg – rare unplugged performances

Met: Johnny Clegg en musikante
Die Baxter Teater
18–22 September 2013, Woensdag tot Saterdag om 20:00, Saterdag om 18:00 en 21:00 en Sondag om 15:00. Die vertoning duur 90 minute.
Kaartjies van R257 tot R390, deur Computicket of die Baxter Teater (021-680 3962). Afslag vir studente, groepbesprekings en seniors.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top