'n Clanwilliam-psalm

  • 4

(2014: Clanwilliam, 200-jaar-fees)

Tussen die Blomkerk en die Ou Tronk
raak die oggendson vaardig oor die Krakadouw
en groei die skare, soos bougainvilleas oor die kerkmuur,
in die smalle hoofweg, wat breë borskaste winduit druk
en skouers bloedsweet om den brode skuur
tussen prokureur, geneesheer en bankier

Voor St John, waar ou-ou bome doop in skaduwees
(van die preekstoel tot die galg!)
en sonkolle verblindend op die kerk se klipmuur skryf
trek die middag week in die geur van rooibos
en riemknoop Wupperdal-sendingvellies veters
agter skape wat dorstig teen Karookop kraal toe blêr

In die reukwerk van aandkoeltes bokant sitrusboorde 
prys die werke van hul hande pelgrims uit die voortyd
en as die nag rivierbosse insypel en tarentale hul sit kry
raak dit stil in die wete: ‘n vaste Burg is onse God –
ook hier, op Clanwilliam.

 

Verheldering:
Krakadouw – gedeelte van die Sederberg, oos van die dorp
Blomkerk – Ou Nederduitse Gereformeerde kerk
St John – Anglikaanse kerk
Wupperdal – Duitse sendingstasie waar ‘n velskoenfabriek tot kort gelede in bedryf was

  • 4

Kommentaar

  • Pragtig gekunsteleer! Het naweek in Clanwilliam gekuier vir die eerste keer. Kon myself vind in jou gedig. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top