'n Boom het geval: Gabriel Garcí­a Márquez

  • 0

Uiteindelik het die nuus gekom wat ons al lank te wagte was, maar wat nietemin soos die einde van ’n wêreld gevoel het: Gabriel García Márquez is nie meer daar nie. Ek het die boek op my rak gaan haal en die woorde gelees wat by elke wêreldeinde na my terugkom. Miskien die grootste openingsparagraaf wat in die afgelope eeu geskrywe is:

Muchos años despues, frente al pelotón de fusilamiento, el coronel Aurealiano Buendía había de recordar aquella tarde remota en que su padre lo llevó a conocer el hielo. (Baie jare later, voor die vuurpeloton, moes kolonel Aureliano Buendía daardie vervloë middag onthou waarop sy pa hom geneem het om met sneeu kennis te maak.)

Hiermee word die strategie onthul waarmee Márquez die hele verstommende tydstruktuur in die roman aankondig: niks gebeur sommer maar net en kry klaar nie, maar elke enkele moment word eers aangebied soos en wanneer dit gebeur, en daarna herhaal in die herinnering. Niks in die wêreld se romankuns sou daarna weer dieselfde wees nie. En dit is maar net één van die ontelbare maniere waarop hy sy roman verdig tot een van die grootste prosawerke van die moderne tyd. Dit is ook maar net één van die talle verhale waarmee hy vir goed die grense van die roman verlê en herskryf het – hoewel nie een van sy talle ander prosawerke, lank of korter, die merkwaardige rypheid en rykdom van daardie eerste worp, Cien años de soledad (’n Honderd jaar eensaamheid) sou kon ewenaar nie – en dit sê ’n mondvol!

Dit is die verhaal van ’n man, die bogenoemde kolonel Aureliano, omgewe van sy groot familie in die klein dorpie Macondo hoog in die gebergte van die Andes in Suid-Amerika, waar alles uit die staanspoor gekenmerk is deur die feit dat die alledaagse en die doodgewone konsekwent voorgestel word as iets heeltemal merkwaardigs (soos ys doer bo in die magtige gebergte), terwyl die buitensporige aangebied word as alledaags en banaal (soos kinders wat gebore word met varksterte, of groen skoenlappers wat soos Bybelse (of helse) plae oor en oor terugkom). Tussen dié twee pole word die kernverhale van die roman oor en oor herhaal, elke keer met nuwe wendings en moontlikhede. Partykeer is dit wonderbaarlik, of anders amper onhebbelik komies – maar tog ook skrikwekkend, omdat daar in elke herhaling iets vreesaanjaends voorkom, ’n soort oerangs wat oor en oor terugkeer met ’n soort noodlottige onafwendbaarheid. Die komiese en die skrikwekkende raak onskeidbaar, net soos talle ander gegewens wat normaalweg as teenstellinge beleef word: goed en kwaad, manlik en vroulik, gister en môre, verlede en toekoms.

Hierdie prosesse van herhaling word nie net as ’n grap aangebied nie, maar ook as ’n verskrikking. En dit gebeur opnuut, as deel van ’n volgehoue narratiewe strategie, as onontkombare mengsel van goed en kwaad, van vergeet en onthou, van hoop en vrees, van enigiets wat tradisioneel of gebruiklik beleef word as teenstelling.

Dit alles loop daarop uit dat die verhaal self uiteindelik nie maar ontwikkel vanuit ’n verlede via ’n hede na ’n toekoms nie: die hede verander sélf in iets wat lankal voorspel is en eintlik nou eers gebeur. Die sigeuner Melqiades beliggaam die onmoontlikheid dat gister se rampe eers in die verre toekoms gaan gebeur, en dat ons vrese oor môre al lank voor gister besweer is. Wat lyk soos epiese vertelling oor die verlede, is dus in werklikheid (maar wát is “werklikheid”?) snaaks? Natuurlik ja! Wónderlik snaaks. Maar juis daarom ook des te meer skrikwekkend – onder meer omdat ons gerusstelling oor gister eers môre gaan gebeur!

Een van die merkwaardighede van dit alles lê daarin dat niks maar sommer afgemaak kan word as “verbeelding” nie – want van die mees ontstellende en gruwelooslike waarvan vertel word, word juis ontmasker as episodes uit betreklik onlangse historiese gebeurtenisse uit die oorgelewerde geskiedenis van die Suid-Amerikaanse herinnering – gebeurtenisse wat vir die Suid-Amerikaanse leser so bekend en onthoubaar moet wees as, sê, die Boereoorlog by ons.

En in Márquez se daaropvolgende prosawerke word hierdie gegewens en tekens opnuut tot lewe gewek – nie maar net as herhalinge of herbesoeke nie, maar as núwe meditasies oor, of herontdekkings van, vroeër onvervulde moontlikhede. Op hierdie manier word elke bestaande teks uit Márquez se vorige werk in elke nuwe publikasie weer besoek, gerelativeer, verruim of vermenigvuldig. Dit onthul dadelik weer nuwe vergesigte, soos in ’n teleskoop wat ’n mens lit vir lit oopvou, op wat reeds in vroeër werk ontdek en herontdek is. So kom die leser van Herfs van die Patriarg af op nuwe moontlikhede van die verhouding mag/onmag, apokalips/versoening/vergifnis, begrip/onbegrip of duur/vervlugtigheid; of in Blaarstorm op herontwerpe en herverbeeldings van heerser en slagoffer, uitbuiting en onderdrukking, uitwissing en nuwe begrip; of in Vreemde pelgrims op vroeër onvermoede avatare van omtrent alles wat ons in ander tekste van dié skrywer as “bekende aarde” leer betrag het. Oor en oor word “doodgewone situasies” omgedop tot in die diepste binneste van die skokkende wat skuilhou binne-in die oënskynlik voorspelbare (soos in die storie van ’n vrou wat onderweg na Barcelona maar net iemand se telefoon wil gebruik en nie besef tot watter onvoorsienbaarhede dit kan lei nie: dit is telkens presies wanneer die wêreld op sy voorspelbaarste en ordinêrste lyk dat die gans ónvoorsienbare of ondenkbare sy opwagting maak.

Sekerlik is die verwikkeldste en verrassendste konfrontasie met hierdie gegewe wat ná ‘n Honderd jaar eensaamheid weer in Márquez se langer werk opduik, in Liefde in die tyd van cholera, die verhaal, tegelyk oereenvoudig en ongelooflik fyn en verwikkeld, van die liefde. En reeds op die eerste bladsy word die leser gewaarsku: “In een venster was die heerlikheid van die dagbreek net besig om die bedrukkende, oorvol kamer te verlig wat moes dien as sowel slaapkamer as laboratorium, maar daar was genoeg lig sodat hy onmiddellik die gesag van die dood kon herken.” Selfs in iets so eenvoudig en mooi as die daglumier word ons gewaarsku oor die heerskappy van die dood. En tot aan die einde van die boek sal ons nooit toegelaat word om dit weer te vergeet nie. Dit kom tot ’n hoogtepunt in daardie magistrale slot waar die twee geliefdes vervaard op die magtige stroom van die groot rivier heen en weer (tot in alle ewigheid?) moet aanhou vaar. En te midde van die grootse slottoneel skuif die perspektief oop na ’n nuwe begrip van ruimte: “liefde as ’n staat van grasie: nie ’n manier om êrens uit te kom nie, maar die alfa en omega, ’n einde in sigself”.

Op ’n manier is dit ’n antwoord op, en afronding van, daardie manjifieke onvoltooide liefdestoneel aan die einde van Flaubert se Madame Bovary,waar die twee minnaars soos ’n paar gedrewe besetenes in hul dig geslote koets kruis en dwars deur die strate van Rouen kletter, op reis na nêrens, en die agterste luik van die koets deur die hand van Emma Bovary op ’n skreef oopgetrek word sodat ons net kan sien hoe die fyn flenters van ’n opgeskeurde brief in die holderstebolder straat uitgestrooi word. Alles word hier bymekaar gebring – en tegelyk daarmee moet die slot vir ewig oop bly. Afsluiting en ooplating is vir Márquez net soseer as destyds vir Gustave Flaubert ’n ewig onbeantwoordbare vraag, en ’n ewig oopgelate raaisel.

Maar Márquez se ooplating is ook nie ongekwalifiseerd nie, ewe min as wat dit, soos die aarde aan die heel begin, “woes en leeg” was. Daar is iets onmiskenbaar feesteliks daaromtrent: ’n viering wat sedert die openingsparagrawe van ‘n Honderd jaar eensaamheid Márquez se stempel van egtheid was: ’n bevestiging van die lewe. As hy ten slotte soos Van Wyk Louw kon bely: “Mooi is die lewe en die dood is mooi”, dan sou hy ongetwyfeld ook soos die digter van ganser harte kon bely dat ín die samespel van lewe en dood albei hierdie dimensies eintlik bevestigings van die lewe is: dit is wat Macondo uit die staanspoor in ‘n Honderd jaar eensaamheid verteenwoordig en ewe seer emblematies is van die heel laaste hawe wat hulle op hul laaste reis aandoen:

So het die Nuwe Trou teen dagbreek die volgende dag die anker gelig, sonder enige vrag of passasiers, en sonder die geel choleravlag wat uitbundig aan die hoofmas wapper. In Puerto Nare het hulle teen sononder ’n vrou opgelaai wat selfs frisser en groter as die Kaptein was, ’n buitengewone skoonheid wat nog net ’n baard nodig gehad het om deur ’n sirkus gehuur te word. Haar naam was Zenaida Neves, maar die Kaptein het haar “my wilde meisiekind” genoem: ’n ou vriendin wat hy gerieflik in een hawe kon oplaai en in ’n ander een af, en wat aan boord gekom het in een hawe en weer vort is in die ander, en wat aan boord gekom het met die winde van haar blydskap in haar rug, en daar was ’n Amasoniaanse reënbui wat met weinig onderbrekings sou aanhou dwarsdeur die res van hul reis. Maar niemand het omgegee nie: die drywende fiësta het sy eie dak gehad.

Bedags het hulle kaart gespeel, geëet tot hulle nie meer kon nie of tot hulle kon bars, en teen sononder het hulle anysbrandewyn met salm geniet totdat hulle nie meer kon eet of drink nie. Dit was ’n vinnige vaart: die boot was lig en die wind gunstig, en selfs aangehelp deur die vloedwaters wat oor hulle neergedruis het wat in daardie een week meer aangeswel het as gedurende die hele res van hul vaart. Party dorpies het vriendskaplike kanonne afgevuur om die cholera te verdryf, en hulle het hul dank betuig met ’n droewige gebulk. In die dorpie Magangué het hulle genoeg hout aan boord geneem vir die hele res van die tog.

Nóg Florentino nóg Fermina het besef hoe goed hulle mekaar al leer verstaan het: sy het hom gehelp met sy enemas, sy het soggens voor hom opgestaan om die valstande te borsel wat hy in ’n glas gehou het terwyl hy slaap. Daarteenoor het Florentino Ariza op sy beurt begin om ou herinneringe op te tower met ’n viool wat hy van die orkes geleen het, en aangehou speel totdat hulle hom stilgemaak het. Die droom van ander reise saam met Florentino het op die horison verskyn: waansinnige reise sonder boomstompe in die water, sonder sosiale verpligtinge: liefdesreise.

Die aand voor hul aankoms het hulle ’n groot party gereël, met papierlanterns en gekleurde liggies. Die reën het opgehou. Hulle het mekaar styf vasgehou en die eerste bolero’s begin dans wat destyds net begin het om mense se harte te breek. In ruil daarvoor was al wat hy wou hê net dat hy sy hand bak maak oor haar seer rug. Hy het selfs voorgestel dat hulle weer ’n keer hul private wals dans, maar dié het sy geweier. Nogtans het sy bly tyd hou met haar kop, en daar was ’n pouse waarin sy selfs sit-sit begin dans het sonder om dit te besef, terwyl die Kaptein van voor af begin aanlê het by die wilde jong vrou in die skaduwees van die bolero.

Sy het soveel anysbrandewyn gedrink dat sy by die trap boontoe gehelp moes word en daar het sy so begin skaterlag dat dit naderhand in huil omgeslaan het. En tog, toe hulle haar oplaas in die geparfumeerde tuin van haar kajuit terugbesorg het, het sy al haar selfbeheer herwin en rustig en bedaard voortgegaan met liefde maak met die gesonde beheersing van ’n ervare oupa en ouma, wat vir haar die beste herinnering aan die hele waansinnige reis geword het, asof hulle bo-oor die hele moeisame lydensweg van huweliksliefde gespring het tot binne-in die hart van die ware liefde. Doodstil was hulle, ’n ou egpaar geskool in die liefde anderkant hartstog, of die spoke van desillusie, selfs anderkant liefhê. Want teen dié tyd was hulle al lank genoeg saam om te besef dat die liefde liefde bly, altyd en enige plek, maar digterby en meer solied hoe nader dit aan die dood kom.

En dít is die sin van hul tuiskoms:

Teen sesuur het hulle wakker geword. Sy het hoofpyn gehad, gegeur met anysbrandewyn, en haar hart was verlam deur die indruk dat dr Juvenal Urbino na haar teruggekom het, molliger en jonger as toe hy destyds uit die boom geval het, en dat hy daar in sy rystoel voor die deur van hulle huis sit en wag. Maar sy was tog helder genoeg om te besef dat dit nie die gevolg van die anysbrandewyn was nie maar van die nabyheid aan haar terugkeer.

En uiteindelik is hulle dan gereed vir die tuiskoms:

Die wind van die Karibiese See het begin stoot teen die vensters, tesame met die rumoer van die voëls, en in haar bloed kon Fermina Diaz die wilde geklop van haar vrye wil hoor. Regs van haar het die modderige, vrugbare monding van die Groot Magdalenarivier uitgestrek gelê tot teen die oorkant van die wêreld.”

Net ’n paragraaf later word die situasie in ’n gans nuwe lig gestel, op ’n wyse wat waardig sou gewees het aan die vertelprosesse van ‘n Honderd jaar eensaamheid:Die wilde geklop van haar vrye wil” is natuurlik ’n sleutel tot die hele toneel, want dit stel op die voorgrond die manier waarop die leser se “vrye wil” deur die verteller se manipulering van die verhaal breek. En hiervandaan kan die leser dan sáám met die verteller voortwerk tot aan die einde namate die “realiteit” van die situasie deur die fiksie van die vertelling sigbaar word.

Só lui dit in die Engelse vertaling:

Florentino Ariza, in fact, was surprised by the changes, and would be even more surprised the following day, when navigation became more difficult and he realized that the Magdalena, father of waters, one of the great rivers of the world, was only an illusion of memory. Captain Samaritano explained to them how fifty years of uncontrolled deforestation had destroyed the river: the boilers of the riverboats had consumed the thick forest of colossal trees that had oppressed Florentino Ariza on his first voyage. Fermina Diaz would not see the animals of her dreams: the hunters from the tanneries in New Orleans had exterminated the alligators that, with yawning mouths, had played dead for hours on end in the gullies along the shore as they lay in wait for butterflies. The parrots with their shrieking and the monkeys with their lunatic screams had died out as the foliage was destroyed. The manatees with their great breasts that had nursed their young and wept on the banks in a forlorn woman’s voice were an extinct species, annihilated by the armoured bullets of hunters for sport.

André P Brink (Bron: Times LIVE)

Die enigste lewende wese op hul vaart is ’n vrou in wit klere wat hulle met misleidende sinjale in maalgate probeer inlei – en sy, blyk dit, is ’n opgeefsel van die verbeelding. Weldra kan Florentino self skaars nog onderskei tussen werklikheid en fantasie en op die boot.

So vorder hulle deur die “vast silence of the ravaged land”, aan die gang gehou deur “the simple joy of being together”, totdat hulle uiteindelik by hul bestemming aankom – maar of dit werklikheid of verbeelding is, sal hulle nooit weet of hoef te weet nie. Al wat ter sake is, is dat hulle oënskynlik loshande bo-oor “the arduous calvary of conjugal life” gespring het “and gone straight to the heart of love. They were together in silence like an old married couple wary of life, beyond the pitfalls of passion, beyond the brutal mockery of hope and the phantoms of disillusion: beyond love. For they had lived together long enough to know that love was always love, anytime and anyplace, but it was more solid the closer it came to death.”

Opnuut is droom en werklikheid versoen – maar op ’n manier wat oneindig subtieler en meer verwikkeld is as wat mens ooit vantevore vermoed het: ons het ’n hele lywige roman nodig gehad om iets daarvan te kon (of te durf) begryp.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top