'n Aandjie in die Food Fox se kombuis

  • 0

Food lover extraordinaire”. Dit is hoe Ilse van der Merwe haarself beskryf, en sy kán maar.

Ek het onlangs een van dié gewilde kosblogger se kookdemonstrasies gaan bywoon en ek kan bevestig dat die Food Fox se kos ook 'n ervaring extraordinaire is. Jy het nie eers 'n spesiale uitnodiging nodig om so sessie by te woon nie, want Illse is só lief vir kook en onthaal dat sy haar eie huis oopstel vir vreemdelinge en mede-foodies. R200 waarborg jou plekkie om die etenstafel en 'n vol maag.

By die Food Fox se huis aangekom, word ons na die kombuis en eetvertrek genooi. Die plekkie is knus, maar spog met 'n goedtoegeruste kombuis waarvan ek en my woonstelmaat net kan droom. Waarmee sou ons eerste weghardloop as ons kon? Die voedselverwerker en pastaroller!

Ilse staan 'n volle 1,9 m lank en jy kan haar deur 'n ring trek. Ons wonder hoe sy so slank bly. Some just have it all, don't they.

Al wat kort, is 'n TV-produksiespan om die magic op kamera vas te vang. Ilse is immers bekend in die vermaaklikheidswêreld, want sy was voorheen 'n musiekbestuurder, maar sy het haar loopbaan in 2011 vir die kospotte verruil. Intussen het sy ongelooflike sukses behaal en werk onder andere nou saam met die Pretty Blog, vir wie sy weekliks resepte saamstel. Sy droom al lank daarvan om haar eie resepteboek en televisiereeks van stapel te stuur en dinge lyk belowend.

Dis 'n intieme aand om die tafel saam met vreemdelinge, maar gou gesels ons lekker, want almal het iets gemeen: 'n onblusbare lus vir lekker eet. Eerste op die spyskaart is Ilse se bekende slaai bestaande uit courgette, eiervrug en bocconcini (klein bolletjies mozarella kaas), wat bedien word met vars brushetta-brood, olyfolie en balsamiese asyn. Ilse deel met ons haar geheime: dis is lankal nie nodig om eiervrug eers te laat sweet nie, aangesien dié berugte groentesoort al 'n geruime tyd gekweek word om nie bitter te wees nie. Sy braai die papierdun repies net so en dit is heerlik.

Ilse in aksie.

 

So lyk 'n ordentlike slaai.

My woonstelmaat is in die sewende hemel ...

Kliek hier vir die resep

Die kos is onpretensieus, maar tog sou ek twee keer dink voor ek hierdie disse voor 'n klomp vreemdelinge sou voorberei. Ilse het mooi beplan, en alhoewel sy sommige elemente van die disse reeds vooraf gemaak het, verg dit 'n meesterkok om kop te hou.

Ek het nog nooit vantevore vars pasta gemaak nie, en Ilse se demonstrasie laat dit dalk makliker lyk as wat dit is. (Moenie pasta sonder 'n pastaroller probeer maak tensy jy Popeye-arms het nie!) Die gaste maak verwoed notas op die resepte wat sy aan elkeen uitgedeel het. Vir die hoofgereg vul sy die pastakussinkies (ravioli) met 'n driekaasmengsel. Dis ryk, maar hemels! Ons leer om bruinbotter te maak (die souttande sal hiervan hou) en die dis word met salie en denneneute afgerond. Daar was seconds.

Ilse demonstreer hoe om pastadeeg in die voedselverwerker voor te berei.

Versigtig rol sy die pastavelle.
 

Die vulsel word ver genoeg van mekaar geplaas, sodat sy perfekte ravioli-sakkies kan maak.

En die eindproduk is goedvoelkos soos jy nog nooit geproe het nie!

Kliek hier vir die resep

Ilse bedien 'n sjokolade-oliekoek vir nagereg saam met 'n aarbei-coulis en room. Op hierdie stadium neem my kulinêre instinkte oor en ek vergeet skoon van my kamera en die artikel wat ek moet lewer, en skryf nie 'n enkele aantekening verder neer nie ...

Kliek hier vir die resep

Die volgende kookdemonstrasie by The Food Fox Kitchen sal op 12 Desember plaasvind. Besoek Ilse se Facebookblad of www.thefoodfox.com vir meer inligting en resepte. Let wel dat kostes slegs vir die Kersfeesete R250 beloop.

  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top