US Woordfees | Festivals

 
Musiek gegrond op die tema van gebed

AMEN
’n ATKV- en US Woordfees-produksie

9 Maart 20:30 | Spier Amfiteater | 70min | R150, R120, R90

 

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

 

Rina Hugo en Zanne Stapelberg tree op in die ATKV-musiekproduksie by US Woordfees 2013. AMEN – ’n musikale reis van Mozart tot Madonna.

AMEN is ’n ATKV-produksie, met Ilse Schűrmann as uitvoerende vervaardiger namens die ATKV. Naomi Meyer het haar oor die produksie gevra.

Hallo Ilse, dankie vir die geleentheid om te kan gesels. Wat het as inspirasie gedien vir hierdie produksie, wat alles handel oor gebedsliedere?

Daar bestaan ongelooflik wonderlike musiek gegrond op die tema van gebed. ’n Goeie vriendin van Danabaai het my eendag gebel oor so ’n stuk musiek ... en toe kom die idee. Ek het die ATKV in verband met die konsep genader en toe het die produksie AMEN ontstaan. US Woordfees het daarvan te hore gekom en besluit om in vennootskap met die ATKV hierdie produksie by vanjaar se fees aan te bied.

 

 

Hoe het jy gekies watter liedere vir die item gebruik sal word – en ook watter kunstenaars om te gebruik?

Daar was van die begin af geen twyfel dat Ockie Vermeulen die regte musiekregisseur hiervoor is nie, want hierdie produksie sou ’n "cross-over"-produksie word, maw ligte musiek en klassieke musiek gemeng. Ockie is ’n orrelis met ’n aanvoeling vir ligte musiek – hy was al by heelwat produksies betrokke, en het oa saam met die bekende Christa Steyn en die jazz-pianis Charl du Plessis gewerk; en was ook die musiekregisseur van die ATKV-produksie Ave Maria / Halleluja, wat die afgelope twee jaar baie goed gevaar het. Ek en Ockie het toe saam-saam besluit oor watter kunstenaars betrokke moet wees en hoe die orkes moet lyk, en ook na baie musiek geluister om die repertorium saam te stel.

Wat beteken ’n gebed in ’n liedkonteks – is dit meditasie, is dit spiritueel, is dit bedoel vir ’n gehoor, of is dit ’n privaat gesprek tussen die een wat bid en die een tot wie gebid word?

AMEN is nie ’n gospelproduksie is nie. Ons gebruik slegs die tema van gebed, maar in ’n wye konteks. Die musiekrepertorium bestaan uit vanaf Mozart tot Madonna! Gebed in ’n liedkonteks – eintlik enige konteks – is wat my betref baie persoonlik en gaan wissel van mens tot mens. Dus in antwoord op hierdie vraag: die ATKV wil met AMEN bloot vermaak verskaf en gehore die betrokke musiek laat geniet.

Is hierdie item ’n gewyde geleentheid, amper soos ’n kerkdiens? Of val die klem eerder op die musiek? Wat kan mense in die gehoor verwag?

AMEN is gerig op vermaak en mooi musiek. Die gehore kan uitsien na stukke vanaf vertolkings van “Magaliesburgse Aandlied” en“Katedraal”, geskryf deur Coenie de Villiers, na “Bring Him Home” uit Les Misérables", tot “Like a Prayer” uit die tagtigerjare deur Madonna.

Is daar enige ander items op die Woordfeesprogram waarby jy betrokke is of enige ander items waarna jy uitsien om by te woon?

Wat spesifiek vanjaar se Woordfees-program betref, bied ATKV ook daagliks Skilder met Woorde III in die Sasol Kunsmuseum aan, 1–10 Maart 2013, 08:00–18:00.

Ons is ook weer eens betrokke by die toeken van die Woordtrofees – dis waar die uitblinkers van vanjaar se fees vereer word. Dit vind eers in April plaas.

Die ATKV is ook vanjaar vir die vierde agtereenvolgende jaar ’n trotse borg van die US Woordfees se taalbemagtigingsprojek, Woorde Open Wêrelde (WOW). WOW fokus op leerders uit hoofsaaklik voorheen benadeelde gemeenskappe en word reeds sedert 2003 suksesvol in die Wes-Kaap bedryf. Dit brei jaarliks uit, en duisende leerders word elke jaar deur die projek bereik. Die gevierde skrywer Elias P Nel is namens die ATKV aktief by WOW betrokke deur onder meer die reël van skrywersgesprekke. ’n Spelfees, skryfskool, verf-en-vers-werkswinkels, ’n skoolkoerantwerkswinkel en -projek, debatswerkswinkels en ’n debatfees, en ’n graad 8-letterkundeprojek is nog van die kreatiewe maniere waarop WOW-leerders betrek word.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address