Michelle nog al die jare by my
Ek het klererekeninge gehad wat min vroue gehad het of kon bekostig het: Edgars / Jets / Pages / sales house / Woolworths / Judy's pride / Foschini's / Topics ... ek het amper byna gewerk net om die rekeninge te betaal, ek het mal gegaan as ek in ’n winkel ingaan. Ek het onbeheerste besluite geneem, dinge waaroor ek later spyt gekry het. En dis nog nie eers wat ek kontant gekoop het nie. Ek kry toe verblyf by vriende, hoekom ek dit weer gedoen het weet ek nie, maar gou is ek gefrustreerd, ek is gebind en ingehok en die frustrasies jaag my en ek kry toe ’n woonstel in maar tog het daar steeds iets gekort, ek weet nie wat nie maar ek het dit geweet, ek kon nie wag om by die huis te kom na werk nie, ek kon nie wag om my werksklere uit te trek nie om verenig te wees met michelle nie.
Dan wag ek tot almal tot ruste kom die bure, en laat vanaand dan vaar ek en Michelle die strate in, aangetrek van kop tot tone in vroueklere, make-up, naels, als.
Dan loop ons tot laatnag, partykeer tot byna sonsopkoms (dit was nog veilig daai jare om dit te doen, so in die vroeg-90’s).
Ek raak so ontspanne – rustig – kalm ek voel & is ’n ander mens, ek is vry vryer as ’n voël, dis ’n onbeskryflike gevoel,’n gevoel wat mens nie in woorde kan uitlê nie, nie eens op skrif nie, jy kan daai gevoel net uitleef as jy iemand het om dit mee te deel. Soos Michelle. Kalmte – ontspanne – rustigheid - vrede.
Ek het besef ek moet iemand gaan sien want die stemme in my kop raak erg, mense praat met my dis soos ’n gezoem van bye – ek word oral agtervolg – as ek loop, dit voel of almal weet wat ek doen, mense kyk my uit, staar na my – as ek loop dan voel dit of ek opdraende loop – erge hoofpyne, frustrasies, ongeduldigheid, woede - en ek sien my dokter praat bietjie en hy stuur my na ’n sielkundige (no3) maar hy speel net tapes met onspanningspraatjies op. Later sien ek ’n maatskaplike werkster (no2), sy verwys my na ’n psigiater. Dinge het daar beter gegaan, ek was op medikasie wat my baie gehelp het, ek was ’n tyd lank by hom met medikasie en terapie.
Toe trek ek en ek kon nie by hom uitkom nie dus stop die medikasie ook.
Ek dink ek moet van Michelle ontslae raak, en ek doen dit, dit was ’n hartseer dag in my lewe, asof ek iemand moes begrawe, al haar klere alles is weg, ek begin oor.
’n Skoon lewe. Ek baklei hard om nie aan haar te dink nie.
Ek trek weer weg, en ’n ruk gaan verby, dit word ’n struggle ek raak geïrriteerd - ongeduldig - woede - angs en alles verniet. Die stemme het teruggekom en die wat ek deur karre en mense agtervolg word ek sien dinge wat ek later betyfel of dit werklik daar was. Na ’n tydjie besluit ek weer ek is ok ek het nie dokters nodig nie ek kan na myself kyk net solank Michelle daar is by my, dis asof niemand kan begryp wie en wat Michelle is nie, ek vat Michelle weer terug in my lewe met nuwe outfits, ek besef ons kan nie sonder mekaar nie. Daar is ’n hegte band tussen ons, dis asof ons onafskeidbaar is. Party keer dink ek baie aan selfmoord maar ek besef ek weet nie of ek regdink nie maar miskien hou sy my vas om aan te gaan met my lewe maar sy was hoeveel jaar by my,
Ek trek terug na my tuisdorp en bly eers by mense, toe weer in 'n woonstel en daar het ons weer ons laaste jare saam gedeel. Ek gaan toe weer aan net soos voor ek na die ander stad toe getrek het.
Toe word ek op 'n blind date voorgestel aan die vrou (min mense het ooit geweet van my dubbellewe & kluisenaarsbestaan & natuurlik van Michelle).
Ek het dit 'n go gegee - die date - want al die familie het my begin vra hoekom trou ek nie? Is ek gay?
Leon