Mediavryheid op NWU se Potchefstroomkampus

  • 3

PEN Afrikaans, ’n groepering skrywers, joernaliste, uitgewers, akademici en ander woordpraktisyns wat hul onder meer vir mediavryheid beywer, vind die sluiting van die Noordwes-Universiteit se studentekoerant, Die Wapad, ongerymd en betreurenswaardig.

Ironies genoeg hou PEN Afrikaans oor minder as twee weke sy jaarvergadering op die Potchefstroomkampus van NWU. Ons sou dit graag wou doen in die wete dat dié universiteit die beginsel van media- en spraakvryheid, wat ons en ons internasionale sambreelorganisasie so hoog op prys stel, onderskryf.

Uit nuusberigte wil dit blyk  dat die vryhede van studentemedia op dié kampus op ongehoorde wyse ingeperk word. In dieselfde week dat Kevin du Plessis, die studenteredakteur, aangerand is oor sy “gebrek aan koshuistrots”, berig Beeld gister in ’n voorbladberig dat die koerant se gedrukte én digitale uitgawes summier gestaak is deur die departement van bemarking en kommunikasie, waaronder die koerant val.

Dit is ondenkbaar dat ’n eersteklas universiteit soos NWU sonder ’n studentekoerant bestaan. Die koerant en die universiteit se mediadepartement is een van die voorste opleidingsarenas vir joernaliste in die land (en spesifiek Afrikaanse joernaliste).

Ons betwyfel die juistheid van bewering dat die publikasie diep in die skuld is. Dit word weerspreek deur mnr Edohan Burger, verteenwoordiger van bemarking en kommunikasie, wat aan die redaksie die versekering gegee het dat die publikasie se geldsake in orde is.

Theo Cloete, direkteur van bemarking en kommunikasie op die Potchefstroomkampus van die NWU, se stellings dat bemarkers nié besig is om die studentekoerant te muilband nie, sal hol geluide bly tot tyd en wyl die koerant weer toegelaat word om te verskyn.

Dat die bemarkings- en kommunikasie-afdeling die reg het om die koerant summier te sluit, lyk ongesond. Dit blyk dat daar geen sprake van konsultering met die redaksie was nie. Was daar konsultering met die fakulteit en senaat? Die werk van die bemarkingsafdeling kan nie bo die waghondfunksies van die studentemedia gestel word nie. Dit is daarom ook sorgwekkend dat daar, onder die dekmantel van “mediakonvergensie”, met die beplande nuwe nuusdiens wat onder die wakende oog van ’n “toesighouer” van die universiteit sal funksioneer, ander pogings is om die nuusinhoud te beheer.

PEN Afrikaans wonder wat is dit wat die bemarkers en beeldpoetsers nie in die koerant wil sien nie? Is dit kritiek in Die Wapad oor dooppraktyke in ’n koshuis soos Veritas? Dit is die reg en plig van ’n studentekoerant (soos van media in die algemeen) om moeilike vrae te vra.

PEN Afrikaans vra dat NWU die sluiting van Die Wapad dringend in heroorweging neem. Ons hou die verwikkelings met belangstelling dop.

Navrae: Sonja Loots (PEN Afrikaans: Voorsitter)
Kontakbesonderhede: 082 867 7946

  • 3

Kommentaar

  • Johan van Zyl
    Verklaring:
     
    Dit word betreur dat onder die naam van media- en spraakvryheid 'n debat onstaan het oor die sogenaamde sluiting van die studentekoerant, Wapad. Ook in 'n skrywe soos hierdie van PEN Afrikaans, wat uitsprake lewer sonder dat die universiteit genader word vir kommentaar of reaksie. 
     
    Die studentekoerant Wapad, is nie "summier" deur die Departement Bemarking en Kommunikasie gesluit nie. Die redaksie van die koerant is alleen ingelig dat hulle uitgawes bykans R80 000 beloop sonder gelyklopende advertensie-inkomste. Verder is dit protokol by die universiteit dat alle studente-organisasies aan die einde van hul termyn, hul finansies moet konsolideer alvorens 'n nuwe bestuur kan oorneem. So is die Wapad ook nou aan die einde van sy termyn. Dit is in die lig van hierdie protokol en goeie korporatiewe bestuur dat die Wapad ingelig is dat hulle uitstaande advertensie-inkomste moet invorder voordat verdere uitgawes aangegaan kan word.
     
    In dié verband is die Wapad aangemoedig en word deur die departement Bemarking en Kommunikasie ondersteun, om  hierdie advertensie-inkomste so vinnig as moontlik in te vorder. Daar is ook met die Wapad ooreengekom dat indien genoegsame advertensie-inkomste ingewin is, of skriftelike ondernemings van adverteerders bekom is dat hulle sal betaal, die Wapad weer kan verskyn. Dié kan binne enkele dae plaasvind. 
     
    Die koppeling met die Wapad wat eers kan verskyn sodra die nodige fondse ingesamel is, met die ongelukkige aanranding van die redakteur hou geen verband met mekaar nie.
     
    Vir die Departement Bemarking en Kommunikasie van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus is mediavryheid en vryheid van spraak ononderhandelbaar - ook goeie finansiële bestuur. Beide moet ook deel van studente se opleiding en vorming wees. Naas hierdie beginsels plaas ons nét so 'n hoë premie op regverdige, gebalanseerde beriggewing.
     
    Departement Bemarking en Kommunikasie
    Noordwes-Universiteit
    Potchefstroomkampus
     
  • PEN Afrikaans volstaan met die standpunt dat dit onwenslik en onnodig drasties is/was om die publikasie te sluit. Selfs indien die publikasie in die skuld is, regverdig dit nie die sluiting van ’n amptelike studenteblad nie. Ons volstaan met ons standpunt dat die gebeure sorgwekkend is en herhaal ons beroep dat die blad sonder verdere oponthoud toegelaat word om te verskyn.

    Sonja Loots
    Voorsitter: PEN Afrikaans

  • Johannes Froneman

    Dit gaan nie oor die uitstaande advertensiegeld nie; dis net 'n rookskerm. Die eintlike kwessie is die inmenging deur die bemarkingsafdeling (BEK) in die Wapad se sake en die moontlikheid van deurlopende sensuur. Volgens die reglement van die blad is dit op geen manier aan BEK onderhorig nie. Die rektor sal nou moet besluit of gehou is by die reglement wat twee jaar gelede hersien is juis om die blad los te maak van  BEK. Ja, vryheid van spraak is ter sake.

    Dankie vir PEN se morele ondersteuning. As joernalistiekdosente waardeer ons dit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top