Musiek | Music

 
Mavis Vermaak stel ’n album van RUMI-komposisies bekend
Mavis Vermaak is ’n Kaapstadse skrywer, musikant en beeldende kunstenaar. In 2008 is haar gelyknamige, 5-snit debuutalbum, vervaardig deur Juan Penguin, vrygestel en met lof ontvang deur resensente.

Tydens 2010 en 2011 het Mavis weer kragte saamgespan met Juan Penguin, en haar eerste vollengte album – ’n versameling komposisies van Afrikaanse vertalings van die werke van die 13de-eeuse mistiese digter, Rumi – voltooi.

Mavis Vermaak verleen ’n hipnotiese klankbaan aan die dag. Sy is die onderbewuste en bewussynstroom van die Moederstad, maar sy oorbrug ook generasies, tale, eras en landskappe en klink soms so Europees soos die verenigde kleure van Benetton.

Haar evokatiewe woorde rol oor die rand van die oggend, haar emosie is gestroop en onapologeties. Hierdie vreemde musiek vind neerslag in jou sentrale senuweestelsel en bly in jou binne-oor weerklink. Dis atmosferies, meng in met jou asemhaling en ruk prentjies oop. Dit huiwer in die agtergrond maar maak ’n sterk aanspraak. Die snitte is innoverend en resoneer met egtheid, daardie onvervalsbare kommoditeit. Die musikale verwerking is intelligent, onvoorspelbaar en dinamies.
 
Daar is nie juis ’n jashaak om Mavis aan op te hang nie, haar musiek weerstaan definisie. Sit dit aan, gee jou oor die diastoliese ritme en kort voor lank sal jy smeek vir nog.

Kry ‘n gratis aflaaisnit van die snit "Orals", vanaf die album Rumi hier.Vir meer inligting oor Mavis Vermaak, kontak info@mavisvermaak.com
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment