LitNet Akademies-resensie-essays | Reviews

 
LitNet Akademies-resensie-essay: Mag die jeug oor ontheiliging praat?

 

 
Die Arkvaarders
Anne Provoost
Vertaal deur Daniel Hugo
Uitgewer: Protea Boekhuis (2012)
ISBN: 9781869194611
Prys: R160
Klik hier en koop Die Arkvaarders nou van Kalahari.com.
 
 

 

Godsdiensleiers die wêreld oor raak omgekrap as hulle die indruk kry hulle heilige boeke word ondermyn. Isak Burger laat hom só uit oor die boek Die Arkvaarders van Anne Provoost in ’n berig wat in Rapport verskyn het: “[Dit] ontheilig die heilige boek van die Christene. Dis onverantwoordelik om so ’n boek aan skoolkinders voor te skryf.” In die Weekend Post word Errol Naidoo van die Family Policy Institute aangehaal: “Christians view publications of this nature as an attempt to undermine and blaspheme the sacred texts of the faith. Children of school-going age must never be exposed to such sexual depravity especially when it manipulates the sacred scriptures of a major faith group.”

Burger en Naidoo het dit dus nie net teen heiligskennis nie, maar ook oor die feit dat Die Arkvaarders as jeugliteratuur bemark word.

Daar is meningsverskil oor wat die term jeugroman impliseer. ’n Nederlandse doktorale proefskrif deur Maayke Jansma (2007) is ’n poging om - onder andere - hierdie kwessie aan te spreek. Die titel, “Uitverkiezing: geen geluk om mee te koop te lopen. Een geloofscommunikcatief perspectief op de adolescentenroman ’De arkvaarders’ van Anne Provoost”, maak al klaar ’n klein onderskeid: sy noem dit ’n roman vir adolessente. In hierdie skryfstuk gaan ek nie op die verskille in nie, maar gebruik jeug en adolessent as wisselterme, met dien verstande dat ek daarmee ouer tieners in graad 11 en 12, en ook naskools, bedoel.

Nou, hoekom word ’n boek as ’n jeugroman bemark? Is die hoofkarakters in die boek jeugdiges? Is dit uit die oogpunt van ’n jeugdige geskryf? Mag daar eksplisiete seks in voorkom? En moet die goeie ouens altyd wen?

Ek kry die idee, ook in gesprekke met uitgewers, dat die klassifikasie dikwels meer te doen het met bemarking as met ’n objektiewe genre-beskrywing. ’n Voorbeeld is The Clan of the Cave Bear deur Jean M Auel, waar die verhaal konsekwent uit die oogpunt van ’n jong kind/meisie vertel word. Nogtans word dit nie as jeugliteratuur bemark nie, vermoedelik omdat so ’n klassifikasie outomaties ’n groot deel van die volwasse teikenmark sou ontmoedig het om dit te lees.

Cavebear

Die verhaal van die arkvaarders word uit die oogpunt van ’n jong meisie, Re Jana, vertel, en in dié opsig kan dit wel gerig wees op ’n adolessente teikenmark. Maar die ander karakters dra baie gewig, en hulle is nie jeugdiges nie: Re Jana se pa en ma, en Noag en sy gesin. Gam word as ’n adolessent voorgestel, maar verder het die temas wat aangeraak word, min te doen met adolessensie, en eerder met filosofie en teologie. Jansma (2007:64) kom tot die gevolgtrekking dat die benaming “jeug- of adolessenteroman” misleidend is, omdat die jeug nie as ’n groep of persoon in hierdie situasie domineer nie.

Of die goeie ouens altyd moet wen in ’n jeugroman? Dit word aanvaar dat ’n groter gewig aan etiek in jeugromans toegeken word as in ander romans waar die estetika allesoorheersend is (Jansma, bl 35).

Ek onthou ’n lesing van wyle Elsabe Steenberg by die ATKV-herfsskool van 1995 in Potchefstroom: sy het gesê ’n jeug-/kinderboek moet hoop gee. Jansma haal Provoost aan wat die teenoorgestelde sê: “Als moeder, als kunstenaar … voel ik een noodzaak om … dat parapluutje van de troost dicht te klappen en het kind bloot te stellen aan de volle waarheid … en die is: heel dikwijls is het leven goed … maar er bestaat ook zoiets als zinloosheid en pech …” (Jansma, bl 37). Hierdie sinloosheid word uitgebeeld in die voorlaaste hoofstuk van Die Arkvaarders: die boumeester jaag vir Gam weg, en Re Jana kies om saam met hom te gaan. Dan sê die boumeester: “Ja, gaan maar. Julle sal sien wat gaan gebeur. Julle kind sal ’n kneg van knegte word” (306). Re Jana voel dat die vloek die onskuldigste een tref – sinloos; onverdiende ongeluk; hooploos.

Identifikasie met ’n immorele persoon of keuse kan as ’n etiese probleem in jeugboeke gesien word. Jansma reken egter dit kan juis leersaam wees, want sodra die leser die gevolge van die immorele gedrag of keuse afwys, sê hy sy identifikasie op en verkry sodoende morele insig (Jansma, bl 38). Volgens haar sê Provoost self dat ’n mens nie te maklik in ’n persoonlikheid in haar boeke moet kan instap nie. Dit laat die leser dan toe om hom los te maak van die persoon, en dwing hom om die probleem onder oë te sien.

arkvaardersdutch

Miskien is dit hoekom ek so moeite gehad het om met Re Jana te identifiseer. Dikwels moes ek ’n deel herlees om uit te vind hoekom sy iets doen, en soms het ek dit bisar gevind, soos toe sy Tanesis help om die dodo en ander diere dood te maak. As ek na Provoost luister, is dit nie onbeholpenheid nie, maar het sy dit juis met voorbedagte rade so geskryf.

’n Beswaar wat dikwels die klassifikasie van ’n jeugboek beïnvloed, is hoe seks daarin hanteer word. Hannelie Booyens se resensie lui soos volg: “Die beskrywing van seks is nie grafies nie en voel geregverdig met inagneming van die historiese konteks.” Met haar eerste oordeel is nie fout te vind nie, maar die begrip historiese konteks is so wyd as die heer se genade: die sekssituasies wissel van sensualiteit tot groepsverkragting tot lesbiese seks.

Estetiese oorwegings moet egter swaar weeg as ’n jeugboek gelees wil wees. Die eerste wat my opgeval het in Die Arkvaarders, is die ingehoue styl. Ek het skaars ’n uitroepteken raakgelees! Vir Afrikaanse lesers, ongewoond aan Nederlandse gereserveerdheid, sal dit ’n hekkie wees om oor te kom.

In ’n boek met humoristiese aanhalings kom ek op hierdie kortresensie af: “Mr Clarkson, the wig-maker, on being asked his opinion of a great Shakespearean production, declared it to be superb. ’You couldn’t see a join,’ said he”(Jarski 2010:168). Naatlose oorgang tussen hoofstukke is die kenmerk van ’n meestervakman. Maar in Die Arkvaarders ís daar lasplekke. Die aanloop en motivering van insidente ontbreek soms, soos toe Re Jana as ’n seun vermom word. Zaza, Noag se vrou, pleeg uit die bloute selfmoord deur oorboord te spring. En ek lees byna bo-oor Gam en Re Jana se eerste sekstoneel, so onverwags duik dit op en so gou is dit verby.

Aan die ander kant is daar liriese beskrywings in Die Arkvaarders wat poësieliefhebbers sal aantrek. Re Jana beskryf haar verlange na Gam: “Die res van die dag sien ek oral sy vel: in die gladde klippe wat oral teen die rant lê, by die oopsny van wit vrugte waaruit die vleis peul, en saans as ek my ma se rug met olie insmeer. Ek sien sy hare in die gras en sy naels in die spanspek se pitte. Niks daarvan behoort aan my nie, ek weet dit, maar die verlange is onblusbaar” (131).

Daar is meer sulke virtuose beskrywings. Die aankoms van die diere beslaan ’n byna een bladsy lange paragraaf, dig met begrippe. Paradoksaal maak dit Die Arkvaarders ookminder toeganklik. Die lang Victoriaanse woordprente kan maklik oorgeslaan word. Ook Jansma (2007:28) sê dat Provoost wel die sondvloedverhaal nader aan die huidige leef- en ervaringswêreld bring, maar haar teks is kompleks en verg inspanning.

Eties én esteties gesproke sou ek Die Arkvaarders eerder op die rak tussen historiese romans verwag het. Ek vermoed dit word hoofsaaklik as jeugroman bemark omdat dit ’n nismark is waarin Provoost vir haarself ’n plek oopgeskryf het.

Dus, as leesstof waartoe tieners instinktief aangetrokke sal voel: nee.

Maar as literêre voorgeskrewe boek is dit ’n goudmyn van idees. Hierdie idees kan as opbouend of afbrekend gesien word, afhangend van die leser se perspektief, en dit bring my by die beswaar van ontheiliging. Toe hierdie woord in berigte oor Die Arkvaarders gebruik is, het dit my opgeval dat dit in dieselfde register is as die uitsprake van godsdienstige Moslems oor The Satanic Verses. Terminologie wat met “blasphemy” en “incredibly sacrilegious” in Engels omskryf is, is gebruik om die fatwa teen Salman Rushdie te motiveer.

Satanic

Salman Rushdie verduidelik in ’n onlangse BBC-onderhoud met Andrew Marr dat dit alles ’n reuse-misverstand was. In die eerste plek het die boek gegaan oor “investigating identity”, oor ’n migrant uit Indië wat sy weg moet vind in ’n nuwe land. Die profeet is nie Mohammed nie; die godsdiens is nie Islam nie. Die hele intrige was alles ’n droom; die hoofkarakter (Gabriël) wat dit droom, is ’n man wat eers sy geloof verloor het en as gevolg daarvan sy verstand. “[O]bviously there are direct parallels intentionally,” gee hy toe, maar “I thought I had made enough distancing devices.”

As ’n nie-Moslem is dit darem vir my verstaanbaar dat die “nie-Mohammed-profeet” en die “nie-Moslem-godsdiens” ’n Moslem wat die teks nié baie nougeset lees nie, kan ontstel. Die resensent Eliot Weinberger verdedig die boek breedweg in die Boston Review in 1989, maar hy deel ook ’n paar klappe na Rushdie uit – na aanleiding van Rushdie se verdediging van die boek (dat die mense wat protesteer, nie eens die boek gelees het nie) sê hy: “Of course, as Rushdie well knows, had they read it they would have been even angrier.”

Hoe behoort diegene wat die Bybel as ’n heilige boek beskou, te oordeel nadat hulle Die Arkvaarders mét die nodige aandag gelees het?

Jansma vra in haar (teologiese) proefskrif of die oorvertelling van ’n ou Bybelverhaal ’n nuwe manier is om met jongmense oor geloofsake te praat. Ouers vind dit moeilik om met hulle kinders oor God en geloof te praat, sê sy. Die herinterpretasie van die sondvloedverhaal maak dit moontlik om vrae te vra, en so begin ’n gesprek. “Ik hoop dat ze daarna zoals ikzelf, niet veel langer met de mond vol tanden staan … tijdens … het co-regulerende opvoeden van hun ego, hun kinderen en elkaar” (Jansma 200:83).

Om die herinterpretasie na waarde te skat, moet ’n mens die oorspronklike Bybelverhaal in Genesis 6-10 lees. Dit lui kortweg soos volg: Die Here was bedroef oor die boosheid (omskryf as korrupsie, geweld en bederf) van die mensdom en het besluit om alles – diere ingesluit – uit te wis. Noag is die uitsondering. Hy is opreg, die enigste onberispelike persoon, iemand wat God se wil uitleef. God sê vir Noag dat hy alle lewe op aarde met ’n vloed gaan uitwis, want dis as gevolg van die mensdom dat die aarde vol geweld is. Noag moet ’n ark bou. God gee die presiese mate, en beveel hom hoeveel en watter diere om saam te neem, asook kos. En Noag het presies gemaak soos die Here beveel het. Uiteindelik het die vloed gekom, en dié wat saam met Noag aan boord gaan, is sy vrou, hulle drie seuns en dié se vroue. Hulle en die diere het vir tien en ’n half maande op die boot oorleef volgens Genesis. Om uit te vind of daar al droë grond is, laat Noag eers ’n kraai, en later ’n duif los. Toe hulle uiteindelik die boot kan verlaat, lê God ’n paar basiese wette neer en sluit ’n verbond (waarvan die reënboog ’n teken is) met Noag. Nadat Noag wyn van sy nuutaangeplante wingerd gedrink het, word hy dronk en raak sonder klere aan die slaap. Gam vertel sy broers daarvan, en hulle gooi hom toe sonder om na hom te kyk. Noag “kom agter wat sy jongste seun gedoen het” en vervloek Kanaän, Gam se seun. Daarna volg ’n lys van die nakomelinge van die drie seuns. Gam het vier seuns: Kus, Egipte, Put en Kanaän. Put het klaarblyklik nie nakomelinge nie, maar die ander drie kleinseuns se nageslag word uitgelê.

Jansma (2007:27) sê in haar proefskrif: “[W]are vertellers eerbiedigen de historische context … Ze houden ook de bedoeling van het verhaal nauwlettend voor ogen.”

Ek vind dit ’n werkbare riglyn vir evaluasie van hierdie oorvertelling. Daarom kyk ek eerstens hoe die boek ooreenstem met die Genesis-verhaal. Daarna kyk ek hoe dit verskil, en ek deel dit in twee tipes op: byskrywes binne die aanvaarbare konteks van ’n historiese roman, en fundamentele veranderings van die oorspronklike verhaal.

Noah

Ooreenstemming met Genesis
 
Noag word die boumeester genoem. Hy het ’n vrou, drie seuns genaamd Sem, Gam en Jafet, en vir elkeen van hulle is ’n vrou uitgesoek. Provoost benoem die vroue: Zaza is Noag se vrou; Tanesis hoort by Jafet, Zedebab (een van ’n identiese tweeling) by Sem, en Neelata by Gam. God is die Onnoembare wat almagtig en alwetend is. Die ark word gebou en die diere kom vanself uit die heuwels na die ark. ’n Skrikwekkende storm laat die water styg, en Noag-hulle gaan aan boord. Die vloed vind plaas soos voorspel. Uiteindelik oorlewe almal op die ark. Gam het ’n seun Kanaän. Hoe fyn Provoost die Genesis-verhaal navolg, blyk ook uit die karakter van Put. In die lys van die nageslagte in Genesis 10 het hy geen nageslag nie, en Provoost skryf in haar herinterpreteerde lys dat hy tydens ’n speletjie met sy broers gesterf het voor hy volwasse was.

Verskille: byskrywings

Provoost bou ’n hele alternatiewe prehistoriese wêreld op met twee groepe mense: die nomadiese Rratikas, waartoe Noag behoort, en die bootbouers. Sy skep met klein verwysings dwarsdeur die boek die omvang van ’n geloofwaardige kulturele botsing.

Verder koppel sy mediese navorsing en verbeelding: Gam se asem piep en hy het slym op die longe. Die boumeester het een of ander afkeerwekkende velsiekte wat in besonderhede beskryf word. Re Jana se ma ly aan ’n ekstreme geval van inkluissindroom en kan net met oogknippery kommunikeer.

Die storie word uit die oogpunt van Re Jana, ’n jong moerasbewoner, vertel. Op Re Jana se ma se aandrang trek hulle weg van die moeras na waar ’n enorme boot gebou word. Re Jana se pa word dadelik in diens geneem, omdat Gam besef dat hulle sy vakkennis nodig het om ’n dryfbare boot te bou.

Een van die belangrikste “byskrywes” is die menigte mense wat help om die ark te bou. Vanuit ’n kinderbybelagtergrond het ek dit aanvanklik as ’n rasionalisering van die Bybelverhaal gelees, totdat ek Genesis herlees het. Daar word geen woord gespreek oor hóé of wié die boot gebou het nie. Die kinderbybelprentjies – Noag en sy gesin as alleenbouers – is self ’n interpretasie.

Re Jana word uitgebeeld as ’n omgeemens. Sy en Gam raak verlief op mekaar en word verder in mekaar se arms gedryf deur Neelata, wat niks met Gam te doen wil hê nie.

Die enigste gruwelike sonde deur die “mensdom” wat uitgespel word, is die verkragting van Re Jana se verlamde ma deur ’n groep mans. Sem en Jafet laat dit toe, en dit is net Gam wat daaroor in opstand kom. Nadat Jana se ma verkrag is, dring sy daarop aan om te sterf. Haar pa bou ’n papirusboot vir haar om haar daarin te veras, soos hulle gewoonte is, maar sy weier om weer op ’n boot te wees en hy moet haar noodgedwonge direk op die takke neerlê en verbrand in ’n geval van bystand-selfmoord.

Re Jana word deur Gam op die boot versteek, maar Sem en Jafet ontdek haar en misbruik haar om die beurt. Hierdie skildering van Sem en Jafet as verkragters kan baie mense onthuts. Noag word immers as ’n opregte man in Genesis beskryf, en dis ’n redelike afleiding dat ook sy seuns goeie mense sou wees. ’n Mens kan egter aanvoer dat ook dit ’n toelaatbare byskrywe is. Nêrens in Genesis word daar spesifiek iets oor die seuns gesê nie, en die Bybel is bekend met godvresende ouers met slegte kinders: Eli se twee seuns Hofni en Pinehas is byvoorbeeld deur God veroordeel; Samuel se twee seuns is onaanvaarbaar vir die volk; en Dawid se seun Amnon verkrag sy halfsuster Tamar.

’n Sekstoneel speel af wanneer Re Jana en Neelata ’n lesbiese liefdesverhouding aanknoop. In die oorverhitte literêre dryfgang van politieke korrektheid is dit seker te verwagte. Omdat hulle karakters egter nie in die Bybel voorkom nie, kan die skrywer hulle manipuleer soos sy wil.

 

Verskille: fundamentele verandering van die oorspronklike verhaal

Die Arkvaarders ondermyn die Genesis-verhaal op verskeie maniere. Die ander mense (“die mensdom”) word nie uitgebeeld as boos, korrup en vol geweld soos daar in Genesis staan nie. Daar is selfs ’n deernisvolle storie oor die blinde ma wat haar dogtertjie Camia se angs vir die vloedwater probeer besweer.

Niemand weet hoekom die reusagtige boot gebou moet word nie. Gam soebat sy pa om te verduidelik waaroor dit gaan en eindelik spreek die boumeester die skare toe. Hy verduidelik dat die Onnoembare met hom praat en hom beveel het om ’n skip vir die opregtes van hart te bou, want die wêreld gaan deur ’n vloed vernietig word. Die skare begin juig voordat hy verder kan praat: “Lank lewe die redder van die aardse lewe!” (114). Die verbaasde boumeester verduidelik nie verder dat daar net vir hom en sy gesin plek op die skip is nie. Provoost se inspirasie hiervoor kom waarskynlik uit 2 Petrus 2:5, waar daar staan dat Noag vir die mense gepreek het oor hoe hulle reg voor God moet lewe en oor hoe Hy regverdig straf. In Provoost se byskrywe preek hy hoegenaamd nie.

Oor die algemeen word die boumeester onsimpatiek geskilder. As Re Jana se pa probeer plek beding op die boot, sê die boumeester: “[E]k kan nie mense toevoeg nie. Baie voel geroepe, slegs enkeles is uitverkies” (181). Re Jana verwyt Gam: “As julle opreg van hart was, sou julle jul plekke afgestaan het. Julle sou dit afgestaan het aan die kinders, die lammes en die swaksinniges!” (108). Die enigste “onberispelike” persoon volgens Genesis – Noag - word dus die selfsugtige, lafhartige en onbarmhartige boumeester. Dit is ’n direkte ondergrawing van die arkverhaal in Genesis.

Toe Re Jana en haar pa besef dat hulle nie kan saamgaan op die ark nie, bou hulle in die geheim hulle eie boot. Hulle steel planke, spykers en gereedskap. “As iemand ons betrap en wil keer, dreig ons hulle. Ons is diewe en leuenaars. Binne ’n kort tydjie het ons deel van die slegte mense geword vir wie die onheil van die Onnoembare bedoel is” (129). Hulle “slegtheid” is dus die gevolg van die uitverkiesing soos Provoost dit verstaan, nie die oorsaak daarvan soos in Genesis nie.

Re Jana se pa glo dat hy ook gered kan word: “Net dié wat opreg van hart is, word gespaar, het die boumeester gesê … Het ons nie die hele tyd vir jou ma gesorg nie? Het ons nie ’n weeskind onder ons vleuels geneem nie, ’n onopgevoede swerfkind daarby? Is ons nie hardwerkende mense wat tevrede is met wat ons betaal word nie?” (126). Provoost beeld hom uit as die argetiepe goeie mens wat – onregverdiglik - nie gekies word om te oorleef nie.

Nog ’n fundamentele afgewyking van die teks: dit is toe nié net Noag en sy uitgebreide gesin wat die ramp oorleef nie. Re Jana word deur Gam aan boord gesmokkel, en Put deur Neelata. Re Jana se pa oorleef op ’n papirusboot (oorspronklik gebou as die verassingsboot), en wanneer die kos op die boot opraak, is hy die een wat die arkvaarders laat oorleef deur vir hulle vis te gee.
Kort na hulle stranding gee Re Jana geboorte aan Kanaän, wat voor die vloed deur Gam verwek is. (Hulle is dus nie tien en ’n half maande op die boot soos in Genesis nie.) Provoost probeer sin maak van Noag se vervloeking van die onskuldige kleinseun Kanaän deur ’n seëntoneel vir die seuns in te skryf voor die vervloekingsvoorval.

Ander afwykings, kortliks: Die duif en kraai word nooit uitgestuur nie: die duif word geoffer deur ’n sinistere Taneses. Die reënboog word bloot terloops vermeld. Die boumeester drink gereeld van die wyn wat Neelata maak om sy pyn te verlig, en hy word dronk daarvan voordat die eerste wingerdstokke nog geplant is.

Is al hierdie afwykings “ontheiliging van die heilige skrif”? Een man se ontheiliging is ’n ander man se historiese kritiek. In hierdie geval kom daar nog die dogmatiese mynveld van die uitverkiesingsleer by.

Daar is waarskynlik grade van heiligskennis. Om God uit te beeld as ’n seniele skelm engel soos Philip Pullman dit doen in His Dark Materials, is waarskynlik op die ekstreme punt van die kontinuum. Dan Brown se insinuasie in The Da Vinci Code dat Jesus en Maria Magdalena ’n vrugbaarheidskultus met rituele orgieë geïnspireer het, is nie ver hiervandaan nie.

books

In vergelyking met hierdie voorbeelde is die uitbeelding van Jafet, en veral Sem, as uitvaagsels, betreklik laag op die ontheiligingmaatlyn. Die Bybel is immers aanmekaar gesit van goor mense wat deur God gebruik word: Juda wat by sy skoondogter slaap onder die indruk dat sy ’n prostituut is; Dawid wat owerspel en moord pleeg; die fundamentalistiese Saulus wat die Ajatolla Khomeini ’n les of twee sou kon leer.

Om meer mense te laat oorleef, lyk soos ’n poging van die skrywer om rasionele sin van ’n onbegryplike gebeurtenis te maak. Skrywers van historiese romans “buig” dikwels die gegewe om die storielyn vlot te laat verloop, en ook hier hou die aanklag van heiligskennis nie steek nie.

Die dogma van die uitverkiesing word trompop geloop. Via die boumeester probeer Re Jana se pa met die Onnoembare in gesprek tree. “[Hy moet] duidelik maak wat hy verwag. Sy riglyne moet helder wees, sy wens ondubbelsinnig. Dan eers kan hy straf” (185) Volgens Jansma herinner dit aan die chutzpah van Job, wat ook vir God bevraagteken (Jansma 2007:75).

In ’n onderhoud met Bill Moyers van PBS Video vra hy vir Provoost of sy ’n ander god sou gekies het as sy in daardie tyd geleef het en besef het dat hierdie god van plan was om haar te verdrink. “I certainly would have,” sê sy. Sy verduidelik dat dit nie daarom gaan dat God ten minste party mense van die vloed red nie, maar dat dit juis God is wat in die eerste plek die vloed as straf veroorsaak.

 

Provoost sit hiermee die Onnoembare in die beskuldigdebank.

Wat om hiermee te maak?

Dit lyk vir my dat iemand wat die Nuwe-Testamentiese Romeine 9:14-15, 20 ernstig opneem, bepaald ongemaklik met die bevraagtekening van die uitverkiesing sal wees. Hierdie verse lui: “Is God onbillik? Beslis nie! Hy sê tog vir Moses: ’Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm, en Ek sal deernis betoon teenoor wie Ek dit wil doen.’” En: “Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: ’Hoekom het jy my juis só gemaak?’”

Dit sou egter onbillik wees om iemand wat die dogma bevraagteken, van ontheiliging te beskuldig. Provoost lug ’n vraag wat oor eeue gevra word. Die feit dat Paulus dit beantwoord, bewys juis dat dit 2 000 jaar gelede reeds ’n brandende kwessie was.

Hóé Provoost hierdie debat aan die gang sit, bring egter dissonansie mee vir iemand wat met die Bybel grootword. ’n Fundamentele vektor gaan verlore as sy die “boosheid van die mensdom” uit die storie skryf en Noag verander in ’n mislike ou man. Dit voel na opsetlikheid as sy die gehoorsame Sem en Jafet verander na skynheilige gatkruipers en die dislojale Gam tot ’n wyse en deernisvolle protagonis omskep. Die hele dinamika van die verhaal verander.
Om Jansma se riglyne te gebruik: die historiese konteks word ondermyn; die bedoeling van die verhaal is omgekeer. In hierdie opsig dop sy dus die toets vir “ware vertellers”.[1]

Maar om terug te keer tot die oorspronklike probleemstelling van heiligskennis aan die hand van die rumoer oor The Satanic Verses: Weinberger skryf: “Rushdie clearly felt … that an all out parodic assault on the basic tenets of Islam was long overdue.” Vir my gevoel is nie een van die merkers vir heiligskennis wat Rushdie in die moeilikheid laat beland het, by Die Arkvaarders aanwesig nie: Provoost voer nie ’n vendetta teen die “basic tenets” - die bestaan of almag van God nie. Sy parodieer nie op disrespekvolle wyse die uitverkiesing of die arkverhaal nie. Sy misbruik nie “afstandskeppers” nie.

In ’n paragraaf oor die betekenis van verhalende literatuur vir godsdienstige sosialisering word verduidelik dat ’n storie soos Die Arkvaarders as ’n gedagte-eksperiment beskou kan word (Jansma 2007:23). Anne Provoost se gevolgtrekking uit die eksperiment is radikaal anders as dié van evangeliese Christene. Maar niks keer die kerkvaders – of die jeug - om die eksperiment se hipotese, metodologie en resultate op ’n beredeneerde wyse teologies of literêr te evalueer nie.

 

Bibliografie

Booyens, Hannelie. 2012. Dramatiese oorvertelling van Bybelse storie vir oopkop-lesers. Beeld Boeke, 17 Januarie 2012.

Die Bybel. Nuwe Lewende Vertaling. 2006. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
Jansma, Maayke, 2007. Uitverkiezing: geen geluk om mee te koop te lopen. Een geloofscommunicatief perspectief op de adolescentenroman “De arkvaarders” van Anne Provoost. Doctoraalscriptie vrije studierichting Zingeving en Hulpverlening, Theologische Faculteit van de Universiteit van Tilburg.

Jarski, Rosemarie. 2010. The Funniest Thing You Never Said 2. The ultimate collection of humorous quotations. UK: Ebury Press.

Malan, Marlene. 2012. Christene kriewel oor Noag-boek. Rapport, 4 Maart 2012.

Marr, Andrew. 2012. Start the week. Salman Rushdie. BBC Radio 4, Monday, 17 September 2012.

Mayers, Bill. 2006. Faith and Reason. David Grossman and Anne Provoost. PBS Video, 14 Julie 2006.

Provoost, Anne. 2012. Die Arkvaarders. Pretoria: Protea Boekhuis. Vertaal deur Daniel Hugo.

Stander, Yolande. 2012. Outrage over proposed setwork. Weekend Post, 10 Maart 2012.

Weinberger, Eliot. 1989. The month of Rushdies. Boston Review, 15 Maart 1989        

 


[1] Jansma kom tot ’n ander (onverklaarbare) gevolgtrekking op bl 47 van haar proefskrif: “Het verhaal van de arkvaarders is in hoge mate kritisch en lijkt soms een tegenovergestelde boodschap te verkondigen. Toch denk ik dat er goede redenen zijn om te stellen dat het precies daarom ruimte schept voor een interpretatie die volledig recht doet aan de bijbelse traditie, deze nieuw leven inblaast en jong en oud anno 2007 kan inspireren.”



Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Thomas van der Walt
2012-11-16 @07:18
"Oorverhitte literêre dryfgang van politieke korrektheid" – die allerlaaste ding waarvan mens Anne Provoost kan beskuldig!!
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address