Lorrietjie se flenter band

  • 0
Bron: mainautorepairandscooter.com

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Mnr Hickey van die destydse Suid-Rhodesië (dis nou in die dae toe Noord- en Suid-Rhodesië en Njassaland nog 'n federasie gevorm het) was 'n motorwerktuigkundige wat sy eie diensstasie gehad het. Vroeg in die 1960’s was hy gelukkig genoeg om 'n gedaan lorrietjie op 'n plaas naby sy tuisdorp raak te loop. Die boer was maar te gewillig om dit te verruil vir mnr Hickey se 30 Rhodesiese pond (R60). Hickey se plan was om dit te restoureer en later as 'n insleepvoertuig vir sy diensstasie te gebruik.

Intussen het 'n vriend die vragmotor by hom kom leen om 'n vrag hout te vervoer. Mnr Hickey het dit met plesier vir sy goeie vriend beskikbaar gestel, maar die enigste voorwaarde was dat die vriend die vragmotortjie “deur die toets" moes kry en laat lisensieer. Dit het hy gedoen. Maar die toetsinspekteur het nie mooi gekyk na die lorrietjie se bande nie. 'n Week later het mnr Hickey se vriend dit weer gebruik om hout te vervoer. Een van die bande van die vragmotor was heeltemal gedaan en in die ry het dit onder die swaar vrag meegegee. Die vragmotor het woes oor die pad begin swaai en met die voertuig van ene mnr Donald wat van voor af gekom het, gebots.

Mnr Donald het daarna 'n skadevergoedingseis in 'n magistraatshof teen die eienaar van die vragmotor, mnr Hickey, ingestel. Die hof het die eis toegestaan, waarna mnr Hickey geappelleer het na die federale hooggeregshof.1 Mnr Hickey het aangevoer dat hy as eienaar nie aanspreeklik was nie, aangesien die vragmotor tydens die voorval nie onder sy beheer was nie. Hy het dit gratis en verniet aan sy goeie vriend uitgeleen en dit was sy vriend se plig om te sorg dat die vragmotor in 'n goeie padwaardige toestand was.

Die hof het beslis dat enige redelike mens sou sien dat die betrokke band van die voertuig net 'n plek gesoek het om te bars. Al voor die ongeluk was daar 'n duidelike kraak op die loopvlak sigbaar. Trouens, iemand het êrens in die gryse verlede probeer om die loopvlak met naald en gare aanmekaar te hou. En dít, het die hof opgemerk, kon enige aap gesien het.

Die hof het beslis dat dit nie die manier was waarop mnr Hickey se vriend die vragmotor bestuur het wat die botsing veroorsaak het nie. Die bestuurder was, met ander woorde, in geen opsig nalatig nie. Wat wel die botsing veroorsaak het, was die feit dat iemand toegelaat het dat die vragmotor met daardie flenter band op die pad gaan. En daardie iemand was die eienaar van die vragmotor, mnr Hickey.

Mnr Hickey se advokaat het geargumenteer dat dit darem eintlik die bestuurder van die vragmotor – mnr Hickey se goeie vriend – se plig was om die band te inspekteer voordat hy daarmee op die pad gegaan het. Die gedagte agter hierdie argument was dat die kousale ketting verbreek is. Hoewel dit vasgestaan het dat mnr Hickey nalatig was deur nie behoorlik aandag aan die vragmotor se bande te gee nie, is daar geargumenteer dat dit eintlik die nalatigheid van die bestuurder was wat die botsing veroorsaak het, want die bestuurder was die eintlike man op wie die plig gerus het om te kyk of die vragmotor padwaardig was. Die bestuurder het egter getuig dat hy volle vertroue in die ou lorrietjie gehad het, want dit het immers aan 'n garageman, wat meer van meganiese sake as hy geweet het, behoort. Die hof was bereid om hierdie argument te aanvaar en het beslis dat dit nie weg geredeneer kon word dat die eienaar van die vragmotor 'n kundige persoon was nie.

Mnr Hickey was dus vas en hy moes maar mnr Donald vir sy skade vergoed.

Hierdie uitspraak hou vir alle eienaars van motorvoertuie 'n belangrike les in: 'n mens kan nie jou onpadwaardige voertuig aan iemand uitleen en dan die verantwoordelikheid op daardie persoon afskuif as daar 'n ongeluk gebeur wat veroorsaak is deur die onpadwaardige toestand van jou voertuig nie. En weet jy, dit is verstommend hoeveel botsings veroorsaak word juis as gevolg van bande wat lankal vervang moes gewees het. Hierdie duur les het mnr Hickey te laat geleer.

1 Hickey v Donald and Another  1960(4) SA 451 (FC)

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top