Skryfsake | Writing matters

 
Leer die kuns van gedigte skryf by twee bekende digters



LitNet bied met trots die SkryfNet aanlyn-poësieslypskool vir hoërskoolleerders aan. Gedurende hierdie slypskool sal vyf belowende jong digters die geleentheid kry om deur twee bekende digters in die skryfproses begelei te word.


SkryfNet word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust en onderskryf deur LitNet Akademies Kuberklas.

 

Wie kan inskryf?

Enige leerder wat in 2013 in graad 10, 11 of 12 is, kan per e-pos inskryf. Vyf deelnemers sal uit die aansoeke gekies word.

Hoe werk dit?

Die slypskool sal van Februarie 2013 tot April 2013 duur. Die hele slypskool vind in die kuberruim plaas.

Vyf deelnemers sal uit die aansoeke gekies word om aan die aanlyn-slypskool deel te neem. Twee gedigte deur elke deelnemer sal op LitNet geplaas word.

Die twee inwonende digters, Danie Marais en Jasper van Zyl, sal dan elkeen ’n verslag skryf oor die gedigte wat op LitNet gepubliseer is. In die verslag sal hulle raad gee oor hoe die deelnemers hul gedigte kan verbeter.

Deelnemers kry dan die geleentheid om verbeteringe aan te bring, waarna die tweede weergawe van hulle verse op LitNet gepubliseer word. Die inwonende skrywers skryf elkeen ’n tweede verslag na aanleiding van die gewysigde gedigte.

Deelnemers slyp nog ’n maal aan hul gedigte op grond van die twee skrywers se raad, en dan word die finale weergawes van die gedigte op LitNet gepubliseer.

Lesers kan die skryf- en skaafproses en ook die keurders se kommentaar deurlopend op SkryfNet volg.

Wie is die inwonende skrywers?


Danie Marais is ’n bekroonde digter en die skrywer van twee bundels: in die buitenste ruimte en al is die maan ’n misverstand. Marais het sy debuut in Nuwe Stemme 3 gemaak en was die medesamesteller van Nuwe Stemme 4. Hy is ook ’n joernalis en aanbieder van radioprogramme soos The Wrong Rock Show en The Unhappy Hour op Bush Radio. Lees hier meer oor Danie.

 

Jasper van Zyl debuteer reeds as hoërskoolleerder in Nuwe Stemme 3. In 2011 verskyn sy eerste bundel, Die lewe tussen pikkewyne, wat baie positief deur resensente ontvang word. Jasper is ’n mediese student en een van die dae ’n gekwalifiseerde dokter. Lees hier meer oor Jasper.

Wat kos dit?

Dit is heeltemal gratis!

Hoe skryf jy in?

Stuur jou voltooide aansoekvorm aan skryfnet@litnet.co.za en heg jou vyf gedigte in één Word-dokument aan jou e-pos aan.

Die aansoekvorm is hier beskikbaar.

Vir enige verdere inligting, kontak die slypskool-organiseerder, Bibi Slippers, by skryfnet@litnet.co.za.

Algemene reëls

  • Gedigte oor enige tema en onderwerp word verwelkom.
  • Gedigte moet nie langer as 30 versreëls wees nie.
  • Daar is geen minimum-lengte vir gedigte nie.
  • Gedigte moet die leerder se eie werk wees.
  • Slegs leerders wat in 2013 in graad 10, 11 of 12 sal wees, mag deelneem.
  • Inskrywings moet van ’n volledige inskrywingsvorm vergesel word.
  • Elke leerder mag net een keer inskryf (maksimum vyf gedigte per leerder. )

SkryfNet word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust en onderskryf deur LitNet Akademies Kuberklas.

 

 


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address