Kunsresensie: Fear & Loss – Industrial Karoo

  • 0

Fear and loss

Oliewenhuis Kunsmuseum
Bloemfontein
Tot 31 Augustus,
'n Verdere uitstallingtydperk in Pretoria word beplan

 

Katie Barnard du Toit se uitstalling Fear and loss verteenwoordig prominente Suid-Afrikaanse kunstenaars se kommer oor die bedreigde ekologie van die Karoolandskap. Onderliggend aan die uitstalling is die verwysing na ’n tydsgees waar sowel finansiële vooruitgang as ’n verbruikerskultuur nagestreef word ten koste van alles wat weerloos is. Dit herinner aan ’n muurskrif wat eenmaal in Amsterdam te lese was: “Wat waarde heeft, is weerloos.”

Katie Barnard du Toit vertel dat haar werk ontstaan het uit ’n liefde vir en persoonlike band met ’n gedeelte van ons land wat dikwels misken of misgekyk word. Ten spyte van universele etiese vraagstukke waarmee Suid-Afrikaners gekonfronteer word, maak Barnard du Toit ons ook bewus van die weerlose individu wat in afhanklikheid van die Karoolandskap leef. Haar werk is intens persoonlik, omdat sy en haar familie deel vorm van ’n Karoogemeenskap.

Die langtermyngevolge van breking op gemeenskappe en die vrees vir verlies aan ’n bestaan bly die sentrale tema. Barnard du Toit skep ’n beeld van die Karoo teen 2052, 400 jaar nadat die eerste Hollandse nedersetting aan die Kaap gestig is en 40 jaar nadat daar begin word om fossielbrandstowwe te ontgin. Sy trek ’n verband tussen die Hollandse nedersetting en die feit dat Shell van Hollandse oorsprong is. Hierdie verwysing word deur Sandra Hanekom se "Delft, Delving and other Disasters" en Ingrid Coerlin se "Double Dutch" versterk.

"Delft, Delving and other Disasters" deur Sandra Hanekom

"Double Dutch" deur Ingrid Coerlin

Kunstenaars ondersoek die effek van breking in uiteenlopende media: skilderye, beelde, werke op papier, fotografie en multimedia. Daar word melding gemaak van die direkte gevolge van breking op die ekologie en geografie sowel as die politieke en sosiale impak van ’n suiwer kapitalistiese ingesteldheid. Die kwesbare en weerlose ekosisteme van die Karoo word beklemtoon. Kunstenaars het die tema baie uiteenlopend benader. Visuele beelde verwys sowel na persoonlike ervarings en getuienisse as na historiese gebeurtenisse. Kunstenaars soos Ben Botma, Guy du Toit, Strydom van der Merwe en Brahm van Zyl skep beelde van ’n postapokaliptiese landskap. Die spoor van menslike handeling en verwoesting laat ’n kulturele omgewing agter: die kwesbare aard van die Karoo word uitgebeeld in gefragmenteerde landskappe. Die mistieke aard van die natuur as deel van die heelal en die landskap as ’n soort vel waarmee die aarde bedek is, word aangeraak deur Shany van den Berg, Loni Drager en Elize Jooste. Lyn Smuts se "Divining/Waterwys" simboliseer die mens se aanspraak op besetting/inname van grond en ’n oormaat tegnologie wat lei tot die verlies aan stilte, geskiedenisse en groei.

"Divining/Waterwys" deur Lyn Smuts

Barnard du Toit vestig kykers se aandag op die bedreiging van inheemse gemeenskappe. Daar kan ’n parallel getrek word tussen die landskap as Moeder Aarde en die mense wat in simbiose met die landskap leef en van haar gawes vir ’n bestaan afhanklik is. Sy verwys na die emosionele aspekte van die verwoesting van grond. Vrees en verlies vind metafories uitbeelding deur haar keuse van materiaal. Viltwerk en handdrukkuns simboliseer die dokumentasie van persoonlike geskiedenisse. Skaapwol is ’n ekonomiese hulpbron, maar het ook betrekking op die gemeenskappe wat met mekaar verweef is. Wol is mense se beskerming en beskutting.

"Doring in die vlees" deur Kay Fourie

Barnard du Toit se installasie sluit ’n video-animasie en ’n handgemaakte plaashut uit viltwerk wat tot ooghoogte gelig word, in. Videomateriaal verbeeld ’n verhaal van kinders wat in ’n lugspieëling rondhardloop op soek na water. Die animasie beeld kinders uit wat rondskarrel op ’n klimraam, gebou volgens die molekulêre strukture van giftige chemikalieë wat gebruik word om fossielbrandstowwe te ontgin. Haar klankbaan is geskep uit die verlate klanke van wind wat waai, ’n krakerige windmeul en ’n hidrouliese boorpomp.

Die vloer van die galery is bedek met ’n stensilpatroon uit sand wat gebaseer is op San-uitbeeldings van medisinale Karoo-flora. Besoekers beweeg oor hierdie vloerlandskap en laat hulle spore van verwoesting in die sandpatrone agter. Die galeryvloer word dus in sigself ’n kulturele oppervlak waarop mense hulle geskiedenisse skryf, uitvee en herskryf.

Fotografiese detail van Katie Barnard du Toit se installasie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top