Menings | Opinions

 
Koos Kombuis: Daar is 'n hel
Daar is party mense wat sê die hel, as daar so ’n plek bestaan, is ’n enorme poel van vuur waar sondaars vir alle ewigheid brand.

Ek dink nie so nie. Ek dink die hel is ’n baie lang tou in my plaaslike munisipaliteit.

Onlangs, toe daar een van daardie onverklaarbare dinge met ons gebeur wat mens op óf die Noodlot óf die Allerhoogste kan blameer, is ek weer gedwing om een van my grootste vrese te konfronteer en my voete te wend na die ondeurgrondelike doolhof van ons munisipaliteit.

’n Waterpyp het ondergronds gebars langs ons huis. Omdat die gebarste pyp presies ’n millimeter aan ons kant van die erfgrens was, moes ek dit op eie koste laat herstel en toe ’n verslag aan die munisipaliteit stuur per e-pos om aansoek te doen om afslag te kry van ons waterrekening, wat as gevolg van die breuk hemelhoog was.

Ons het al die dokumentasie gereed gekry: die verslag van ons loodgieter (sy naam is Tiny), afskrifte van ons ID-dokumente, die gewraakte waterrekening wat beweer het ons skuld die munisipaliteit duisende rande, asook ’n lys name en geboortedatums van al ons troeteldiere, sommer net vir ingeval hulle dit benodig, en toe die munisipaliteit geskakel om te hoor na watter e-pos-adres ons dit kon stuur.

Ons was toe natuurlik nog onder die wanindruk dat die munisipaliteit bereid is om sake per e-pos af te handel en sodoende die lang toustanery te voorkom. Ha! Dit was voordat ons besef het: die munisipaliteit hóú daarvan as mense in lang toue staan. Dit is waarvoor hulle lewe. As mense vir hulle kom kuier in daardie vaal kantore, voel hulle minder eensaam. Hulle verkies mens-tot-mens-interaksie bo vervelige e-pos-boodskappe of gesiglose telefoongesprekke.

Dis natuurlik hoekom dit so moeilik is om hulle telefoonnommer in die hande te kry.

Wanneer ’n mens die plaaslike telefoongids oopmaak, word jy in die gesig gestaar deur ’n abstrakte kleurskets met die onderskrif “CITY OF CAPE TOWN”. By nadere ondersoek blyk die abstrakte skets ’n vereenvoudigde kunstenaarsvoorstelling van Tafelberg te wees. Onder aan die logo staan in vet letters: “THIS CITY WORKS FOR YOU.” Is dit ’n tipe Zen-mantra? Is dit ’n dreigement? Of is dit bloot ’n verduideliking van wat hulle graag met my ekstra duisende rande gaan doen? (Aangesien hierdie ouens vir my werk, word dit tog seker van my verwag om handjie by te sit met die betaal van hulle salarisse!)

Is die regte nommer onder “MAYOR’S OFFICE”? “FRAUD HOTLINE”? “EMERGENCIES”? “EVENTS ENQUIRIES AND PERMITS”?

Eindelik vind ons die regte nommer (op die plek waar ons dit die minste verwag het: “ACCOUNTS”!). ’n Vriendelike dame aan die ander kant van die telefoonlyn bevestig dat die betrokke afdeling wel ’n e-pos-adres het, maar voeg by dat ons nie die stapel dokumente kan stuur voordat ons nie ’n Baie Belangrike Vorm ingevul het wat dit moet vergesel nie.

“Waar kan ons hierdie Baie Belangrike Vorm kry?”

“Ons sal dit vir julle stuur per e-pos!” sê die vriendelike dame. (Sy was nuut daar, sou ons later agterkom.)

Helaas! Twee dae gaan verby, later drie, later vier, en geen Baie Belangrike Vorm daag op in ons IN-doos nie. Hoe ons ook al soek tussen die gemorspos, advertensies vir penisvergrotings, vals boodskappe van Microsoft en briewe van jong digters deur, ons kry niks!

Eindelik ten laaste skakel ons weer die gawe dametjie, maar sy werk blykbaar nie meer daar nie. (Is sy afgedank omdat sy te vriendelik met ons was? Niemand weet nie!) Iemand anders beantwoord die telefoon. Hy klink norserig.

“Waarom het ons nog nie die Baie Belangrike Vorm van julle af gekry nie?” vra ek.

“Die Baie Belangrike Vorm is so Baie Belangrik dat ons dit nie per e-pos kan stuur nie,” antwoord die nors stem.

Ek gee die foon vir my vrou aan, bang dat ek dalk my humeur gaan verloor.

“Nou hoe moet ons dan die Baie Belangrike Vorm in die hande kry sodat ons dit kan invul?” vra my vrou.

Daar is ’n kort stilte. Dan bars die bom.

“Julle sal die Baie Belangrike Vorm persoonlik by ons moet kom haal om dit in te vul,” sê die stem gewigtig. “Daar is geen ander manier om so ’n Baie Belangrike Vorm in die hande te kry nie.”

Ék! Ék moet sélf ingaan na die munisipaliteit toe en in ’n tou gaan staan! Vir moontlik ’n paar uur lank, sonder lugreëling! In ’n vaal kantoor sonder enige ambience! En wanneer ek voor in die tou kom, moet ek die gesiglose nors mens (of ’n replika van hom) van aangesig tot aangesig ontmoet! Dis soos die Finale Oordeel! Dis waar die manne van die muise geskei word, die bokke van die skape, die jin van die jang!

Hierdie ervaring kan my maak of breek!

Maar ek doen dit, want ek is lief vir my vrou. Ek doen dit, want ek kan nie ons waterrekening van etlike duisende rande bekostig nie. Ek doen dit vir my volk, my vaderland, en vir ons loodgieter, Tiny, wat per slot van rekening al die moeite gedoen het om daai moerse gat in ons tuin te grawe en die stukkende pyp te vervang en die verslag te skryf wat ek nou persoonlik by die munisipaliteit gaan indien sodra ek die Baie Belangrike Vorm in die hande gekry het.

“Bel my as jy in lewensgevaar is,” sê my vrou voor ek in die kar klim.

“Ek is lief vir jou,” sê ek vir oulaas, met ’n snik in my stem, en ry na die munisipaliteit.

In daardie oomblikke voel ek baie klein en alleen. Ek voel soos ’n mikroskopiese en nietige molekule in ’n magtige en chaotiese heelal.

Maar uiteindelik kry ek my kar geparkeer in die munisipaliteit se parkeerarea, waar ’n man met ’n helder baadjie wat sê “SOLID WASTE” belowe om dit vir my op te pas teen ’n geringe fooitjie. (Natuurlik, hy is een van die ouens wat vir my werk.)

Na ’n lang soektog tussen baie vaal mure en gange vind ek die korrekte kamer waar ek die Baie Belangrike Vorm moet invul.

My moed sak in my skoene.

Daar is natuurlik reeds mense in die kamer. Sowat veertig mense, in ’n kamer effens groter as ons badkamer. Gelukkig hoef jy nie te stáán in die tou nie, jy kan sit. Die hele plek is vol stoele. Maar omdat die kamer te klein is vir die sowat veertig mense om reguit in ’n ry te sit, is daar ’n baie ingewikkelde hiërargie. Die ry stoele loop soos ’n slang wat heen en weer krul om homself (dis ’n metafoor wat ek uit ’n Barry Ronge-rubriek gesteel het, want ek kon nie aan iets beters dink nie). Dis duidelik dat om te verstaan hoe die slang werk, jy ’n hele ruk in die deuropening moet rondstaan en hulpeloos lyk voordat dit geleidelik tot jou deurdring wat jou plek in die hiërargie is. Dan weet jy op watter stoel jy die res van die dag gaan deurbring. Met ’n termosfles vol koffie en ’n piekniekmandjie vol toebroodjies, as jy slim genoeg was om vooruit te dink.

Wel, jy kan dit so doen, of jy kan doen wat ek toe doen: maak ’n man in uniform wakker wat buite in die gang agter ’n toonbank sit en dut, en vra hoflik: “Ek wil baie graag een van die Baie Belangrike Vorms hê wat hulle aanhou in daardie kantoor, maar ek wil nie twee keer in die ry kom sit nie. Is dit moontlik dat jy vir my een kan kry sodat ek dit solank kan invul?”

Wonder bo wonder werk die taktiek. Dalk omdat niemand in die geskiedenis dit nog ooit probeer het nie. Binne sekondes is ek die trotse besitter van die Baie Belangrike Vorm!

Wat toe net bestaan uit twee reëls waarin jy jou naam en erfnommer moet invul. Inligting wat in elk geval aangedui word in die hopie dokumente wat ek by my het!

Ek ontplof. En ek doen die ongehoorde. Ek storm na die voorpunt van die tou, verby al die stoele vol wagtende mense, en praat reguit met die gesiglose persoon! Uit my beurt uit! Hier kom ’n moles ongeëwenaard in die geskiedenis van die munisipaliteit!

Of so het ek gedink.

Die gesiglose persoon is verdiep in sy rekenaarskerm, sy vingers kletterend op die klawers. Hy ignoreer my! Hy hou aan tik, en staar na sy skerm met ’n intense gefokuste uitdrukking, geheel en al onbewus van my wat staan en skree en my arms swaai. Ek gee moed op, en bly stil. Wat tik hy daar? wonder ek. Sy lewensverhaal? Sy vingers gly en kletter oor die klawers van sy keyboard vir etlike minute voordat hy eindelik bewus word van ’n effens steurende anomalie op die periferie van sy bestaan: ek, wat nog steeds my oningevulde Baie Belangrike Vorm rondswaai.

Halleluja! Daar is oogkontak!

Ek vind eindelik weer my stem. “IS DIT DIE BAIE BELANGRIKE VORM WAT JULLE NIE PER E-POS KON STUUR NIE?” vra ek. “HOEKOM OM HEMELSNAAM NIE?”

Naskrif
Ek kan nie sy presiese antwoord onthou nie. Dit was asof alles eensklaps om my swart geword het. Ek weet dat ek in die daaropvolgende dae niks anders kon inkry as koue roosterbrood en flou tee nie. Eindelik het my vrou die Baie Belangrike Vorm ingevul – beide die besonderhede wat hulle benodig het – en het ek sterk genoeg gevoel om weer die munisipale kantore aan te durf.

Met my tweede besoek het ek verskeie moontlike strategieë oorweeg om die lang tou te vermy. Een daarvan was om ’n helikopter te huur wat my op die dak sou aflaai, waarna ek myself met ’n lang tou kon inlaat deur die venster net agter die plek waar die gesiglose mens aan sy lewensverhaal sit en tik. Die ander was om die hele nag lank uit te kamp voor die gebou in die parkeerarea in ’n twee-man-tentjie (teen ’n geringe footijie aan die man met die “SOLID WASTE”-baadjie), sodat ek die heel eerste mens kon wees wat die volgende oggend deur die deur kon storm om die beste plek op die hiërargie van beskikbare stoele te deps.

Op die ou end het ek, ten einde raad, my gewend tot gebed. En my gebed is verhoor! As gevolg van een van daardie baie rare kwantum-fluktuasies wat net een keer in die bestaan van die heelal voorkom, het dit so gebeur dat ek by die kantoor instap op ’n oomblik toe daar nie veertig sittende mense was nie!1 Om die waarheid te sê, daar was niemand nie! Net die gesiglose persoon wat nog steeds druk besig was met sy lewensverhaal.

En hierdie keer het ek die stapeltjie papiere, insluitend die Baie Belangrike Vorm (nou volledig ingevul), Tiny se verslag, die afskrifte van ons ID-dokumente, en die lys name en geboortedatums van ons troeteldiere, ingelewer sonder verdere insident! Wonder bo wonder!

Vanoggend het ’n baie vriendelike persoon aan die voordeur geklop. Hy het verduidelik hy is die water-inspekteur, en hy wil die gat sien wat Tiny gegrawe het en intussen weer toegemaak het. Ek wys toe vir hom Tiny se gat. Die gat was ongelukkig nie meer daar nie, maar daar het darem nog grondjies rondgelê soos Tiny-hulle gegrawe het. Die inspekteur het ’n peinsende, veraf uitdrukking in sy gesig gekry, toe lank staan en skryf op sy clipboard (gedigte? haikoes? sommer net los gedagtes? ek wou nie vra nie), en toe in die kar geklim en gery. Ek het instinktief geweet dat ek hom nooit weer sou sien nie, maar ek het my emosies onder beheer gekry.

Mettertyd het daar ’n soort berusting in my siel gekom.

Ek is nou tevrede. Die munisipaliteit weet nou van ons. Hulle is besig met ons saak. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om uitsluitsel te kry oor ons aansoek, al neem dit weke of maande, selfs jare. Ek voel soos iemand wat homself oorgegee het aan die ewige zen. Die heelal is misterieus en ingewikkeld, maar daar is magte aan die werk wat sal sorg dat die goeie beloon word en die kwade gestraf word. Ek vertrou my munisipaliteit. Wat het Paulus nou weer oor geloof geskryf? Dis soos ’n mosterdsaadjie!

Ek is in goeie hande. Ek weet dit in my hart. Ek weet dit, want dit staan so geskrywe. In my telefoongids. “THE CITY WORKS FOR YOU.”

Amen.


1 Wel, ek het gedink dit was ’n kwantum-fluktuasie, maar sou later uitvind ek het blykbaar die presiese oomblik gekies toe die Proteas op ’n baie spannende stadium van een van hul wedstryde was, en al wat leef en beef was vasgenael voor hulle TV’s.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

Comments 5 Reaksies | 5 Comments
Delete Comment
avatar
Henning
2013-02-21 @11:02
Voorwaar inspirasie uit 'n onverwagte oord - die stad werk inderdaad vir Koos. Ek het heerlik gelag. Briljant! En wie weet, dalk is alle vorms eendag op die internet beskikbaar en kan per e-pos aangestuur word. Hei, geloof, hoop en liefde.  
Delete Comment
avatar
Dok Dirk
2013-02-21 @13:54
Koos, ek het vir jou selgte nuus - daar is inderdaad 'n hel - 'n vurige poel vuur waarin almal sal brand wat nie vir Jesus Christus as persoonlike saligmaker aangeneem het nie.

Ek sien jy bid darem, maar vir wie?
Delete Comment
avatar
Amelia Burger
2013-02-21 @17:30
Dae laas so lekker gelag! Dis presies soos ek voel as ek daai gange en toonbanke-agter-glas aandurf. Selfde met verkeersdepartemente. Werk die mense daar omdat hulle so gebore is of word hulle so omdat hulle daar werk?
Delete Comment
avatar
Ollie
2013-02-21 @17:59
Daar was eens 'n Kombuis genaamd Koos,
maar Kombuis se een pyp raak toe voos.
Oor Kombuispyp het hy
met die stadsraad gestry
-- en die vagevuur brand hom toe broos.
Delete Comment
avatar
donald
2013-02-22 @11:39

Ons leef in 'hel'. Dis rondom ons. Daar is nie 'n Bybelse hel nie.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address