Kleurkodes

  • 0

Bruin mense / kleurlinge / coloureds (om nou dié ongemaklike en onpresiese voor-gedurende-en-na-apartheid en ook vulgêre rassistiese terme te gebruik) se denk- en geesteswêreld oor die politiek en veral oor ras (?) behoort verruim te word om hul in staat te stel om die fundamenteel-politieke rotasies beter te kan lees. Ook om dit uit te rafel om hul polities strategies beter toe te kan rus.

Om my bostaande stelling tussen hakies genuanseerd te kwalifiseer wil ek graag die volgende realisme verhelder: bruin mense / kleurlinge / coloureds het nie ’n eie taal of kultuur – die kode vir etnisiteit – nie. Daarom is daar nie ’n bruin etnisiteit nie en is dit rassisties om van bruin mense te praat.

(Voor ek nou weer beskuldig word dat ek ’n aanval op my “eie mense” loods, laat my tog die volgende sê: ek probeer nie om ’n simplistiese morele egtheid of politieke geloofwaardigheid aan swartwees te heg nie. Inteendeel, die verskillende eiesoortigheid van bruin ervarings is ook deel van die inklusiewe aard van swartwees wat ’n uitvloeisel en verskansing van ons as swart mense is – en ek gebruik “swart” nou hier in sy generiese sin soos ons medemenslike kredo dit altyd beoog – se kollektiewe politieke-onderdrukkingservaring.)

Vir die doeleindes van die rubriek gebruik ek dié identiteite wat nog steeds vir baie sogenaamde bruines as ’n onmenslike belediging en gereduseerdheid beskou en ervaar word. Vir andere word “bruin” nog steeds aan die “apartheidsvoordeel” van “bruines is ’n lekseltjie beter as swartes” gekoppel, uitgeleef en dus sosiaal geïmmuniseer.

’n Stelling deur die reaksionêre joernalis en historikus Leopold Scholtz in een van sy onlangse rubrieke het weer eens die naïewe politieke realisme van die meerderheid bruines voor en na apartheid beklemtoon. Oor die politieke posisie van bruines voor 1994 het hy geskryf: “Bowendien was bruin mense gedoem tot ewige onderhorigheid.”

Andere sal regverdiglik (?) sê dit is nog steeds vandag bruines se posisie – polities en ekonomies. Asseblief tog, laat ons tog nie net die huidige en vorige regerings daarvoor blameer nie. Hand in eie boesem steek sal bruines geen skade berokken nie. Sou ’n mens ’n regverdige saak, indien enige, kon maak uit die renons uit swart geledere jeens die “dwase” (?) politieke “verskeidenheid” van bruines sedert 1994 en ook in 1984 en 1989 tydens die Driekamer parlementêre verkiesings? Miskien moet ons ons tot ’n sorgvuldige “verlof” stem omdat bruines se “alternatief” hul reeds tot die politieke en ekonomiese periferie verketter het.

Die gesegde “politiek is die kuns van die moontlike” is duidelik nie deur bruines voor, gedurende en na apartheid benut nie.

Wat onrusbarend is, is sommige bruines se denke oor ras, indien daar enigiets soos ras of rassuiwerheid is. Ras is in elk geval tot oppervlakkigheid gedoem, omdat dit nie intellektueel en wetenskaplik begrond kan word nie.

’n Ongesofistikeerdheid wat afbreuk doen aan vernuwende en verruimende denke en omgang met rasidentiteite van die verlede is nog by sommige bruines aanwesig.

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche het ’n outentieke begrip verwoord toe hy gesê het – wat hy die chaos van die mens se verbeelding noem – dit is belangrik om ruimte in jou denke te maak.

Ons wat gereeld voorbrand maak vir die herleef en uitleef van die ou begrip van nierassigheid, word dikwels tot verbysterdheid en skigtigheid gestamp met die aanhoor van die idioom waarin sommige bruines oor/van swart mense praat. Die “k-woord” word skaamteloos tot ’n Namakwalandse riel gekwint. Dan wonder ons hoeveel van ons weet of besef dat “nierassigheid” as ’n Suid-Afrikaans-ontwikkelde politieke term en samelewingskonsep ’n direkte uitvloeisel is van die ervaring van alle niewittes se rasse-onderdrukking? Hoekom sou bruines hul rûens op dié samelewingskonsep draai? Om die ANC of President Jacob Zuma te blameer sou tekenend van kortsigtigheid wees.

Bruines – ook Afrikaners en swartes – moet “chaos” in ons apartheidsoorgeërfde ruimtes vir "apartheidsoorgeërfde" vernuwing toelaat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top