Kettinggesprek: In Niemandsland

  • 0

KOOS en STEF praat KAK

Koos Kombuis en Stef Bos voer 'n bisarre tweegesprek ... oor feitlik alles behalwe hulle konsert Niemandsland

Koos

Hallo Stef

Dit is die jaar van Onse Here 2013, die jaar waarin die wêreld moes geëindig het volgens die Majas, en jy, die popster van die Lae Lande, het ‘n Afrikaanse meisie getrou en ‘n gesin begin in Kaapstad se City Bowl in ‘n huis met ‘n houtspiraaltrap na God daar bo.

Waarom Kaapstad? Waarom nou? Is dit veilig hier? Gaan die wêreld inderdaad eindig?

Die ou beskawings sien juis nou almal hulle gat: Griekeland, oeroorsprong van Westerse denke, is bankrot! Die pad na Damaskus is besaai met wrakke en lyke – wat sou Paulus daarvan dink? Die Persiese Ryk bou atoombomme – is daar skrif aan die muur? Venesië sink onder die golwe, en Dan Brown voorspel nog ‘n plaag in Europa! Intussen slinger die Britte en Amerikaners dronk rond tussen ekonomiese probleme en onsekerheid, terwyl Japan oorstroom word deur tsunami’s en Sjina grom soos ‘n siek beer!

Ek dink ek begin verstaan wat jy in Kaapstad maak! Is die noordelike halfrond besig om te sink? Is Europa werklik “die kontinent van ydelheid”, soos jy sing in die lied “Avondland”? Kan ons maar hier ons huise bou, ons liedjies skryf, ons liefde maak?

Stef

Beste Koos

Jou opsomming van dinge in die wêreld wat verkeerd gaan, laat my dink aan die onheilsprofete in die Ou Testament.

En ja, jy is reg ... Hierdie planeet sien sy gat vanuit ‘n menslike verwysingsraamwerk, maar ek het die laaste jare baie moed geput uit die boeke van die Poolse joernalis Richard Kapuchinski wat soos geen ander die nie Afrika-kontinent kon beskryf. In een van sy boeke kan jy lees: “Pessimisme is om te kyk na die werklikheid op '‘n te kort termyn.”

Wanneer jy verder kyk dan die huidige kak en hare op hierdie aardbol ... Kyk op ‘n langer termyn na dinge, dan verander elke negatiewe spiraal vroeg of laat in een positiewe opwaartse spiraal. 

Ironies genoeg in die huidige tyd met die woelinge in die Midde-Ooste is daar ‘n Egiptiese spreekwoord wat sê: “Aan die einde sal alles regkom; dus, wanneer dit nog nie reg is nie, is dit nog nie die einde nie.”

Ek dink die vlam van optimisme het ek van my ma gekry wat in die Tweede Wêreldoorlog in Europa ‘n meisie van sestien was toe sy die mensheid in ‘n orgie van geweld het sien ondergaan. Dis nog altyd die deel van my wat oorwin oor die ander kant wat net soos jy net donker wolke sien aan die horison van die historie.

Jare terug het ek in ‘n Hollandse koerant ‘n onderhoud gelees met een filosoof van Engeland wat my laat ophou het koerante te lees. Sy stelling was dat ‘n mens “in die daaglikse vloed aan nuusfeite die werklike kontak met sy tyd verloor”.

Jy lees jou tyd beter deur op straat na mense te kyk en die Zeitgeist daar te voel.

Ons word voortdurend blootgestel aan nuusfeite wat eintlik nie regtig betrekking het op ons persoonlike lewe, maar waaroor ons wel begin dink en opinies moet vorm. Die verkoopwaarde van negatiewe nuus maak ook dat ons beeld van hierdie tyd dikwels donkerder word as wat dit werklik is. Ek sien nog altyd baie skoonheid in die wêreld waarin ons lewe.

Die feit dat Wes-Europa nou sy gat sien is nie ‘n donderwolk wat soos ‘n Egiptiese plaag ons tref nie, maar die logiese gevolg van die materialisme en hebsug wat in die jare negentigs die mag gegryp het in ons koppe daar. Almal was slegs nog besig met sy finansies en nou betaal ons daarvoor de prys.

Ek dink ‘n krisis is ‘n goeie ding. So was dit ook dikwels in my sielkundige lewe – dis nie lekker wanneer jy in die middel daarvan is nie, maar wanneer jy dit reg in die oë kyk, dan laat jou dit groei na ‘n volgende level van verligting en insig.

Die probleem in Europa is dat ons nog altyd vashou aan wat ons besig is om te verloor in plaas van om dit los te laat en te groei na ‘n andere werklikheid en te dink oor ‘n ander sisteem.

En wat hierdie land aangaan: ja, ek het gekies my kinders moet hier grootword en skoolgaan omdat ek dink dat hulle in hierdie komplekse en dikwels chaotiese land meer skills moet ontwikkel om te oorleef. Dis miskien die voordeel van al die Oud-Testamentiese kak wat ons omring en wat die ander kant in my so kan ontstel soos jy dit beskryf, maar ... “Die wêreld is soos ons dit wil sien” (Tolstoi).

Koos

Hallo Stef

Soos altyd wanneer jy met my praat, spin my kop in allerhande rigtings. Dis soos daardie keer toe ek en jy gaan uiteet het en jy my ‘n uur lank uitgevra het oor my familie! Ek sien hulle sedertdien deur ander oë, met meer deernis en minder minagting!

En Egipte! Jy praat van die vloek van Egipte. Ek het vergeet van Egipte!

Dis inderdaad ’n versoeking om die wêreld te beskou deur ’n apokaliptiese bril. Maar dalk is selfs hierdie “realistiese pessimisme” ’n oorblyfsel van ons Calvinistiese opvoeding. God roep baie mense, maar het hy al ooit werklik ’n profeet geroep? Sê nou maar die profete van die Ou Testament is vir God net moerse irriterend? Al hierdie mal fans wat voorgee om namens jou te praat?

Wat jy sê oor opvoeding vir jou kinders: daar is twee geheime waaroor nie ’n enkele “liberal” vandag ’n woord spreek nie. Die eerste geheim is die vreeslike geheim (sover nog net ’n gerug – ek weet nie hoe waar dit is nie) van ’n geslag opkomende suksesvolle swart boere in Zimbabwe. O goeiste, beteken dit Mugabe se grondhervorming was die regte ding! Ek is bang om aan sulke dinge te dink! Dis makliker om saam met daai bejaarde Fransman op’n trein na nêrens te klim en slegs deur ’n wit bril te kyk na die sogenaamde “native problem”.

Die ander geheim is dit: ons nuwe opvoedingsisteem in Suid-Afrika, ten spyte van die logistieke probleme, is actually beter as die oue. My kinders leer nie meer van Calvyn nie, hulle marsjeer nie rond in kadet-uniforms nie, niemand maan hulle teen die gevare van masturbasie nie, en vir die eerste keer kry hulle ’n groter prentjie van die geskiedenis van die kontinent waar hulle grootword. In die outyd het ons net van die Voortrekkers geleer – die Voortrekkers wat kwansuis deur ‘n leë en verlate landskap gereis het tot hulle die bloeddorstige Dingaan raakloop. Fok, hier’s die gangsters, wat nou?

Ek moet byvoeg dat my kinders in ‘n privaatskool is. As Cosatu hul sin kry, sou privaatskole afgeskaf word, ten spyte van die feit dat hierdie skool baie meer kultureel divers is as die staatskool waaruit hulle ontsnap het.

Ja, daar is baie korrupsie in die ANC – nie heeltemal so baie soos wat die koerante beweer nie, but enough to go around. Maar eendag gaan ons dalk agter Zuma se rokpante wegkruip om van Malema te ontsnap. Dit sal wees soos om ‘n Kurt Darren-liedjie te neurie sodat jy Juanita du Plessis uit jou kop kan kry.

The horror, the horror ...

Ns: Dankie dat jy my gewys het op my Oud-Testamentiese-profeet-denkfout. Maar ek voorspel nog steeds dat Venesië gaan sink. En dat die Cheetahs volgende jaar die Super 15 gaan wen.

Wat voorspel jy?

Stef

Beste Koos

Ek voorspel dat die Hollanders nog baie geld gaan maak wanneer die seespieël verder styg.

Ons het die nuwe waterafweersisteem in New Orleans ontwikkel wat by die laatste storms in die VSA sy waarde gewys het teenoor die swak kusverdediging in New York, waar hulle vergeet het die Kaaskoppe om hulp te vra. Kyk, ons is nogal direk en rof en onbeskof, maar ons weet in elk geval wat te doen met water.

En om ’n vinnige sypaadjie te bewandel af van die voorspellings ... Die mooiste omskrywing van die verskil tussen Hollanders en Engelse het ek gehoor in Kaapstad ‘n paar jaar gelede: "The English are too polite to be honest, the Dutch are too honest to be polite."

Wat voorspel ek nog ...

Ek voorspel dat die wêreld gaan oorleef, maar dat die mensheid besig is soos ‘n kamikaze-pilot homself te pletter te vlieg.

Dis die snaakse ding van die groen politicians in Europa dat hulle sê dat ons besig is die planeet op te fok terwyl in die gedagte nog altyd die arrogansie aanwesig waarin ons ons bo die natuur plaas ... terwyl ons hoegenaamd nie in staat is om die planeet te vernietig nie; ons kan die planeet wel so onbewoonbaar maak dat ons nie meer hier kan lewe nie. Kortom, ons kan maar net onsself vernietig; die natuur kyk noord en gaan voort en laat die mensheid agter soos ‘n fossiel in ’n klip.

Ek voorspel ook dat Afrikaans gaan hou tot die einde van die mensheid wanneer Engels al miljoene jare verdwyn het, of beter gesê, opgelos het in ander tale. Want dit het ek geleer by biologie op die hoërskool: klein organismes kan vinnig muteer en oorleef; dis die grotes wat hulle gat sien. Kyk na die mammoete in die Ystydperk: hulle kon nie
vinnig genoeg voortplant om die Ystydperk te oorleef nie, terwyl allerhande muskiete en eendagsvliegies dit gemaklik oorkom het.

Latyn was ‘n taal wat almal gepraat het en nou weet niemand nog hoe dit regtig geklink het nie.

Klein tale soos Katalaans, Gaelic, Baskisch, Fins, ens bestaan nog altyd, want hulle kon vinnig aanpas by veranderende omstandighede en hulle het ‘n sterk identiteit gehad. Die enigste ding wat ’n taal moet doen om te oorleef is homself uitdiep en dieper wortel skiet om meer outentiek te word. 

Afrikaans het die potensiaal, maar dan moet hulle nie so baie kla oor die posisie van die taal nie. Gebruik liewer die tyd om befokte goeters te skep in die taal.

Maar oor die algemeen is ek nie in die voorspellende deel van my lewe nie. Die kinders gooi my heen en weer in my kop. Ek lewe van dag tot dag en is al bly dat ek soos nou ’n uur lank die tyd vind om jou te skryf. 

Waar ek vroeër die rus gevind het by die huis na ’n heavy teatertoer overseas, voel dit nou of ek in ’n hangmat hang op ‘n Karibiese eiland wanneer ek op die verhoog is. My voorspellende gawe is nie sterk op hierdie oomblik nie.

Wanneer ek my gedagtes soos ‘n kudde opjaag oor die steppe van die toekoms, gooi my dogter heel vinnig ’n drol in die drinkwater en voor ek my Nostradamus kan waan, staan ek al weer met ’n doek in my hande.

Dus, kom ons praat kak, want kak is wat ek ken soos geen ander op hierdie moment.

Maar ernstig nou.

Jou familie, ja ... dit was vir my ‘n voorreg om jou te ondervra oor jou voorvaders. Ek was ook regtig geïnteresseer omdat hulle deels aanwesig is in jou wanneer ek met jou gesels. Nie soos spoke nie, maar nogal tasbaar in jou fisiese voorkoms en
jou gedagtes, stem, taal, ens. Dit fassineer my eindeloos, die idee dat ons "ek" maar ’n klein stukkie is van wie ons is – die grootste deel van ons genetika en angste en drome was al ingeplant voor ons die maag van ons ma verlaat het.

En kyk, ons is alletwee meesters in die maskerade van taal en personas skep as dele van onsself van waaruit ons kan sing.

David Kramer het dit nog verder gevat en regtig personas geskep, soos ook Randy Newman dit dikwels gedoen het.

David sê op ‘n bepaalde moment na ’n show van my dat hy waardeer dat ek so persoonlik is op die verhoog, waarop ek geantwoord het dat hy miskien nog meer persoonlik is in sy songs wanneer hy tussen die reëls van sy karakters die primal scream raak boor.

So is ons heel verward oor wat ons sing en wie ons is en wat ons wil wees en wat ons ontwyk, en ek ken natuurlik op my manier hierdie probleem, en daarom wou ek ‘n bietjie hoor oor jou voorvaders om meer die Andre Letoit of Du Toit te leer ken agter die Koos Kombuis, sodat ek ook in die dressing room met jou kan gesels – want ek is mal oor gesels, soos jy weet. So mal dat dit ander mense mal kan maak.

So far so good.

Ek gaan nou slaap, want môre neem ek my seuntjie skool toe!

En moet ek my oë oop hê, want elke oggend ry ons langs die see en kyk ons of daar seerowers is op die horison!

Groete

Die vlieënde Hollander.

Koos

Stef, ek hoor jou! Die Vlieënde Hollander was baie dapper om ten spyte van sy dol program tuis steeds ‘n uur af te staan aan hierdie gesprek! ‘n Uur waarin jy eerder in ‘n hangmat sou wou lê! Ek dink ons moet die woordewisseling afsluit – dis al amper so lank soos my gesprek met David Kramer ‘n paar jaar gelede!

Jy kan nog een keer antwoord, then I’ll wrap it up. Hoe voel dit om ‘n vader te wees, behalwe die feit dat jou huis soos ‘n oorlogsone word? Hoe was Kolya se dag by die skool? Is jy trots dat jou kinders eendag sal kan sê: “My vader was ‘n musikant”? Sou jy dat hulle in jou voetspore volg, of voel hulle dalk oor musiek soos jy as kind oor jou pa se besigheid in die juwelierswinkelbedryf gevoel het? Maak dit saak?

Ek stem saam: Afrikaans sal bly bestaan, want onkruid vergaan nie. Vergete is die veertig jaar in die woestyn toe die Afrikaners die taal in ‘n eksklusiewe wit taal probeer verander het. Mens kan nie ‘n bruinbrood verander in ‘n witbrood nie, en raai wat is gesonder?

“Dus kom ons praat kak want kak is wat ek ken soos geen ander op hierdie moment,” skryf jy.

Dit laat my dink aan die keer toe jy vir my die paragraaf oor daardie Franse filosoof gelees het waarin hy sê die aarde is die heelal se toilet – was dit Voltaire?

Benewens filosofie en politiek en vaderskap sou ons ook nog ’n bietjie kon praat oor godsdiens, maar dit doen ons genoeg op stage in die konsert! Om religieuse gedagtes te probeer verwoord in ‘n geskrewe teks is soos om ‘n skoenlapper te probeer vang met ‘n wasgoedmandjie: die konsepte en die taal verloor mekaar, en op die ou end klink alles na tweedehandse teorieë, iemand anders se dirty laundry.

Op die ou end is dit alles ‘n paadjie na die niemandsland van die hel. En na verlede week se spoorlyn-ramp in Europa kan ek al klaar nie die liedjie “Spanish Train” uit my kop uit kry nie.

Die lewe gaan voort. Die aarde gaan voort. Jy is reg. Al bly daar niemand oor nie. Maar ek dink daar sal iewers nog ‘n klein Bos rondhardloop in die strate van Kaapstad, tussen die onvoltooide flyovers en die gangster-alleys en die onkruid. Jy het ‘n dinastie begin. Ek weet dis ‘n voltydse job, maar veels geluk. Eendag sal jy terugdink aan hierdie tyd as die gelukkigste van jou lewe, al is alles nou verberg agter baba-stront en dummies en slapelose nagte.

Dankie vir die gesprek!

Die Stuitige Troebadoer

Ns: Enige laaste kommentaar?

Stef

Ja, nog ‘n paar sinne!

Ek sit hier nou in die Civic Centre in Kaapstad en lees jou en my berigte oor die tyd waarin ons lewe ... Hier in die tou as ‘n slaaf van die administrasie dink ek meteens: Miskien is anargie die enigste pad na vryheid ... Geen reëls, geen binnelandse sake, geen vorms ... Die noodlot kan ons lewe tref, Koos, en wanneer jy in Sirië geboren is het jy bad luck op hierdie oomblik, maar die ergste ongeluk is dié wat ons self veroorsaak ... En hierdie Kafka-kak is deel daarvan.

Ek groet jou vanuit die hel van burokrasie .... Jou Kaaskop-kameraad en verhoog-kollega.

Stef Bossies.

Koos Kombuis en Stef Bos se konsert Niemandsland het op 23 en 24 Augustus in die Baxter-teater, Kaapstad plaasgevind.

Niemandsland word ook op Woensdag 4 September by die Namibiese Woordfees in Windhoek gehou.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top