JM Coetzee as volwassene

  • 0

JM Coetzee se derde outobiografiese boek, anders as die vorige twee, is gepubliseer nadat hy die Nobel-prys ontvang het. Die titel is Summertime: Scenes from Provincial Life (London: Harvill Secker, 2009, 266p). Die teks is langer as in die geval van die vorige twee en die struktuur is meer ingewikkeld maar word vernuftig aangewend. Aan sowel die begin as einde is daar uittreksels wat aangebied word as komende uit die outeur se aantekeningboeke. Die veronderstelling is dat Coetzee reeds oorlede is. In die res van die teks probeer ’n fiktiewe Britse biograaf, Vincent, om tydens onderhoude inligting oor Coetzee te bekom. Dit dek veral die tydperk 1972 tot 1977, dus nadat Coetzee uit Engeland na Kaapstad teruggekeer het. Hierdie vyf episodes vorm die substansie van die boek. Soos in die vorige twee boeke is Coetzee as die "ek" dus ook hier afwesig. Selfs in groter mate as voorheen lyk dit asof hy dit geniet om krities en selfs geringskattend oor homself en sy familie te skryf.

Die inskrywings uit die aantekeningboeke is sekerlik funksioneel maar herhaal in groot mate wat in die twee boeke wat ek reeds bespreek het, staan, bv politieke onrus in Suid-Afrika en die diskreditering van Afrikaners en Afrikaans. Die Pollsmoor-tronk word selfs "the South African gulag"genoem (p 15). Die geïsoleerdheid van die outeur word weereens beklemtoon: "His father has no friends. Nor has he" (p 245). Daar moet in gedagte gehou word dat die werklike Coetzee Suid-Afrika verlaat en hom in Australië gevestig het; ’n land wat nie juis bekend staan as ’n opvanggebied vir verligte uitgewekenes uit Suid-Afrika nie. Volgens die teks is hy daar oorlede (p 209).

Die eerste onderhoud is in 2008 met die karakter Julia Frankl, ’n mediese terapeut wat in Kanada praktiseer, gevoer. Die selfversekerde en selfregverdigende psige van hierdie Jodin word uitstekend uitgebeeld in taal wat meesterlik gestereotipeer is. Coetzee het glo van homself gesê: " I’m not clever ... neither rich nor handsome nor appealing" (p 24). Frankl het haarself afgevra: "Does this cold fish have feelings after all? (p 64). Sy bestempel hom as "radically incomplete" (p 59). Sy vra: "What are books for if not to change our lives?" (p 34). "A book should be an axe to chop open the frozen sea inside us" (p 61). Suid-Afrika noem sy "this strange country" (p 42). "I lost interest in white South Africans" (p 53). Coetzee het glo nie van die Britte gehou nie: "The English stifled him" (p 54). Frankl: "Sometimes I imagine flying back to South Africa, the new, longed-for, democratic South Africa" (p 73).

Die tweede onderhoud is in 2007 met Margot Jonker, Coetzee se niggie-karakter, in Somerset-Wes gevoer. Sy is in woord en daad ’n Afrikaner wat talle Afrikaanse woorde gebruik. Om die aanbiedingstyl af te wissel, bestaan die teks uit ’n geredigeerde en ietwat aangedigte weergawe van haar gesprek met die biograaf Vincent. Tydens ’n tweede byeenkoms in 2008 word die teks met Jonker bespreek. Die werklike outeur gryp die geleentheid aan om die spot met homself en sy familie te dryf. "He doesn’t have plans. He is a Coetzee, Coetzees don’t have plans, they don’t have ambitions, they only have idle longings. He has an idle longing to live in the Karoo" (p 128). Daar word dikwels na die familieplaas Voëlfontein verwys. "The world may be God’s world, but the Karoo belongs first of all to the sun" (p 121). Jonker: "To pass as an Afrikaner nowadays you need at the very least to vote National and attend church on Sundays. She can’t imagine her cousin putting on a suit and tie and going off to church" (p 95). Soos in van die ander hoofstukke word die vraag gevra: "Is he a moffie?" (p 100) maar die gevolgtrekking is grootliks ontkennend.

Coetzee sê: "I am a difficult person to live with. My difficulty consists in not wanting to live with other people ... I want to be able to be alone when I choose" (p 133). "I try to do things myself ... because of the country we live in ... Because of our long history of making other people do our work for us" (p 111). "What future do I have in this country, where I have never fitted in? Perhaps a clean break would have been better after all. Cut yourself free of what you love and hope that the wound heals" (p 132). "Best not to haunt old sites and come away from them mourning what is for ever gone" (p 134). Maar daar is baie wat die Coetzees aan die Karoo en die land bind: "bind them to this place, bind them with rivets through the heart" (p 140).

Die derde onderhoud is in 2007 in Brasilië met ’n ballerina-karakter, Adriana Nascimento, gevoer. Hoewel sy nie so goed met Suid-Afrika bekend is nie, word hierdie Portugeessprekende Katoliek se sterk opinies oortuigend uitgebeeld. Haar gesin het uit Angola na Kaapstad gevlug waar haar man na ’n rooftog weens ’n bylhou in sy gesig dood is. Suid-Afrika word beskryf as "this strange country ... on a continent where we should never have come" (p 158), "this cruel land" (p 179), "this atrocious earth of South Africa" (p 179). "I never liked Afrikaners ... I didn’t even like tot listen to the language" (p 157). Haar pad het met Coetzee gekruis toe sy ’n onderwyser gesoek het wat haar dogter Engels kon leer. "I do not want her in a class where the teacher is not a proper teacher, he has no qualification, he is not even English, he is a Boer" (p 187).

"I could see at once he was no God" (p 160). "He is a weak man ... A weak man is worse than a bad man" (p 168). Hy het van haar verwag om hom te leer dans. "He had no feeling for dance, no aptitude. I could see that from the first moment, from the way he walked. He was not at ease in his body" (p 182-183). "He is simply a bad presence" (p 184). "He was not anybody. He was not a man of substance" (p 195). "From such a man no good can come" (p 199). "As for homosexual, no, I do not say he was homosexual ... No, not sexless. Solitary. Not made for conjugal life. Not made for the company of women" (p 171). "He may have been full of romantic nonsence, but he was too Dutch to be reckless" (p 191).

Vierdens is ’n heelwat korter onderhoud met Martin J, ’n oudkollega-karakter, in 2007 in Engeland gevoer. Hy het ’n pos as dosent bo ’n ander kandidaat, Coetzee, aan die Universiteit Kaapstad gekry. Later het hy Coetzee as kollega in dieselfde departement in ’n mate leer ken. "I can’t say I knew him intimately" (p 216). Martin se antwoorde het onmiskenbaar ’n duidelike akademiese inslag. Oor Suid-Afrika: "Our presence was grounded in a crime, namely colonial conquest, perpetuated by apartheid" (p 209). Oor Coetzee: "His ancestors ... has toiled away, generation after generation, to clear a patch of wild Africa for their descendants" (p 210). Coetzee word beskryf as "a perfectly adequate academic ... but not a notable teacher ... he should have been a librarian" (p 212). "The ranks of the teaching profession are ... full of refugees and misfits ... He was a misfit" (p 214-215). Daar is "a strain of secretiveness ... ingrained in him" (p 212). Die biograaf Vincent meen "in biography one has to strike a balance between narrative and opinion" (p 216). Maar Martin is skepties oor sy werkwyse. Die keuse van kandidate vir die onderhoude "sounds a peculiar way of selecting biographical sources" (p 217).

Die vyfde en laaste onderhoud is in 2008 in Frankryk met Sophie Denoël, nog ’n oudkollega-karakter, gevoer. Die akademiese toon is weer onmiskenbaar. Sy was ’n dosent in Frans aan die Universiteit Kaapstad toe Coetzee daar Engels gedoseer het. Hulle het mekaar leer ken toe hulle saam ’n kursus oor Afrika-literatuur aangebied het. "He taught the Anglophone writers, I the Francophone" (p 221). Oor Suid-Afrika: "How insular it was" (p 222). Oor Coetzee: "He was not a militant ... he was not political at all" (p 228). "He accepted that the liberation struggle was just ... but the new South Africa toward which it strove was not Utopian enough for him" (p 230). "He had no feeling for black South Africans" (p 232). "He was happiest in the role of outsider" (p 239). "Under the gaze of history he felt there was no way in which he could separate himself off from the Afrikaners while retaining his self-respect" (p 238). Hy het rassevermenging soos in Brasilië voorgestaan (p 233).

Oor Coetzee as dosent: "He was good. Not spectacular but competent" (p 223). Die biograaf Vincent: "A great writer becomes the property of all of us." Denoël: "A great writer? How John [Coetzee] would laugh if he could hear you? The day of the great writer is gone for ever, he would say" (p 226). "He was just ... a man of his time, talented, maybe even gifted, but, frankly not a gaint" (p 242).

Ek dink JM Coetzee se werk, in so verre ek dit gelees het en kan beoordeel, is ongetwyfeld goed maar nie groots nie. Wanneer John Kannemeyer se laaste biografie eersdaags gepubliseer word, sal dit interessant wees om te sien hoe hy feit en fiksie in Coetzee se lewe ontrafel.

Johannes Comestor

Naskrif: Op 21 deser het ek verkeerdelik Coetzee se voorname as John Michael aangegee. Dit was na aanleiding van wat in Andrew Michael Roberts se Bloomsbury Guides to English Literature: The novel (London: Bloomsbury, 1993) staan (p 117). Talle ander bronne meld dat sy voorname John Maxwell is. Ek vra om verskoning.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top