LitNet Akademies-gespreksruimte | Seminar Room

 
In gesprek met ... Eddy Van Der Borght

Carina van der Walt gesels met akademici uit verskillende dissiplines uit die Lae Lande, wat hulle onvermoeibaar besig hou met Afrikaans of met Suid-Afrika. Wie is die man of die vrou agter die boek, die projek, die navorsing of op die leerstoel? Waaroor gaan die boek, die projek, die navorsing? Hoe geïnspireerd sit ’n wetenskaplike op ’n leerstoel vir bande met Suid-Afrika?

 

Eddy Van der Borght beklee sedert Oktober 2009 ’n Desmond Tutu-leerstoel aan die Vrije Universiteit (VU) in Amsterdam. Hy is verbonde aan die Fakulteit Teologie. Die fokus van sy betrokkenheid met Suid-Afrika is teologiese refleksie. Teologiese refleksie is ’n instrument vir interne kritiek in alle geloofsgemeenskappe. Volgens Van der Borght behoort daar nog steeds interne kritiek op rassisme te wees in ons Suid-Afrikaanse kerke, ondanks demokrasie van byna 20 jaar. Ras is ’n identiteitsmerker in Suid-Afrika, net soos taal ’n identiteitsmerker in België – Van der Borght se geboorteland – is. Hy woon nog steeds daar. Die stryd om eenheid in die kerk ten spyte van diversiteit in sosiokulturele identiteitsmerkers soos ras en taal is vir Van der Borght die gemene deler tussen Suid-Afrika en België. Hy herken soortgelyke probleme. Juis dít maak van hom ’n geskikte kandidaat vir die Desmond Tutu-leerstoel.

Die titel van Van der Borght se intreerede op 7 Oktober 2009 was “Sunday Morning – The Most Segregated Hour: on Racial Reconciliation as Unfinished Business for Theology in South Africa and Beyond”. Dit is nogal ’n gewaagde titel, totdat mens besef dit was grotendeels Barak Obama se woorde tydens sy verkiesingsveldtog in 2009.

Die Amerikaanse media het probeer om van ras ’n probleem te maak. Obama het dit geïgnoreer. Hy het homself voorgestel as “the right man for the job”. Die media het egter begin om emosionele uitsprake in preke van eerwaarde Jeremy Wright, Obama se predikant, te vertoon. Op daardie punt moes Obama na vore tree. Die woede in Wright se stem het hy toegeskryf aan die waarheid van rasseskeiding in Amerikaanse kerke. Van der Borght dra hierdie waarheid oor op Suid-Afrikaanse kerke.

In die subtitel van die intreerede herinner die woorde “racial reconciliation” aan Suid-Afrika se Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) van 1995. Van der Borght wys daarop dat daardie kommissie nie in die eerste plek oor ras gegaan het nie, al was baie mense slagoffers van rassistiese geweld sonder aantoonbare politieke betrokkenheid by die daders.

Die WVK se taak was beperk tot ’n tydperk van net meer as 30 jaar (1960–1993) waarin growwe menseregte-skendings voorgekom het. In die voorwoord van die WVK se verslag het aartsbiskop Desmond Tutu as die voorsitter van die WVK egter gesê: “Racism came to South Africa in 1652” – nóg so ’n gewaagde uitspraak! Tog was dit nie so ver van die waarheid af as wat mens graag wil dink nie.
 

Waar kom rassediskriminasie in Suid-Afrikaanse kerke vandaan?

“Dit begin by die VOC wat net één georganiseerde religie aan die Kaap toegelaat het – die Gereformeerde Kerk, onder verantwoordelikheid van die klassis Amsterdam. Daar was nie eintlik belangstelling vir sendingwerk nie. Tog kon lede van die inheemse bevolking soos die Khoikhoi wat wél bekeer is, agter in die kerk of op die vloer sit. Hulle het saam nagmaal gebruik. Met die koms van die Engelse het ’n nuwe Afrikaner-identiteit begin ontwikkel as reaksie teen Britse oorheersing. Taal, ras en geloof was die drie identiteitsmerkers. In ’n oorwegend Khoikhoi-gemeente het ’n klein groepie wit gemeentelede in 1857 by die sinode aangeklop. Hulle wou apart nagmaal gebruik. Die sinode het toestemming daarvoor gegee. Met hierdie toestemming is die deur na die toekoms vir afsonderlike gemeentes en sinodes op basis van ras oopgemaak. Dit was presies 91 jaar voordat apartheid in 1948 amptelik deur die Nasionale Party ingestel is.”
 

Waar kom taaldiskriminasie in Belgiese kerke vandaan?

“België het eerstens ’n geografiese tweedeling. In die noorde woon die Vlaminge. Hulle praat ’n ander soort Nederlands as Standaardnederlands en noem dit Vlaams. Die trotse Vlaminge gebruik hulle taal as ’n identiteitsmerker teen die suiderlinge. In die suide van België woon die Walloniërs. Hulle praat Frans. Daar is nog ’n ander groot identiteitsmerker tussen Vlaminge en Walloniërs wat ’n rol speel: geld. Tans lê die rykdom in die hande van die Vlaminge. Vroeër was dit juis omgekeerd. Saam veroorsaak taal- en inkomsteverskille eindelose rusies in die land. Die spanninge kom soms ook bo dryf in die geloofsgemeenskappe. Nie net in die grootste kerk, de Rooms-Katolieke Kerk nie, maar ook byvoorbeeld in ’n minderheidskerk soos die Verenigde Protestantse Kerk in België (VPKB). In hierdie kerk was ek meer as tien jaar lank predikant.”

Van der Borght het ’n bykomende voordeel uit sy persoonlike geskiedenis wat hom in staat stel om goed na te dink oor kerke en teologies daarop te reflekteer. Hy self is in die Rooms-Katolieke Kerk gebore, maar het as jong volwassene daarvan afstand gedoen. Op sigself is dit geen vreemde verskynsel nie, want baie lidmate in België en in Nederland skryf hulle al dekades lank uit die kerk uit en koers soos herte in dorre streke op ongeïdentifiseerde bestemmings af. Die grootste rede hiervoor is miskien toenemende onverskilligheid. Die vraag bly hang: Hoeveel van dié mense tree weer toe tot ’n kerk?

By Van der Borght het dit anders gegaan. Al soekende het hy afgekom op ’n tydelike oase by ’n pinkstergemeente. Die groot dors het hom egter voortgedryf. Hy het hom ingeskryf by die Protestantse kerk. Hy het hier gevind waarna hy op soek was.

Op sy talle reise na kongresse, simposiums en lesings in Suid-Afrika ervaar Van der Borght telkens dieselfde ding: daar word openlik gepraat oor menseregte en religie, maar moeisaam oor kultuurverskille. Kultuur omvat dinge soos taal, geloof en verbondenheid met land en geskiedenis. Dis nou juis die dinge wat mense as identiteitsmerkers gebruik en wat Van der Borght sosiokulturele identiteit noem.

Binne die eenheid van die kerk moet daar volgens Van der Borght ruimte wees vir hierdie sosiokulturele identiteit van sy lidmate. Dit mag nie die eenheid van “een heilige, algemene, Christelike (apostoliese) kerk” verbreek nie. Dit is presies hier waar teologiese refleksie onontbeerlik raak. Vir Van der Borght lyk dit asof dit vir Suid-Afrikaners te gevaarlik is om daaroor te praat; dat hulle nie die moed het vir selfkritiek nie; dat hulle bang is hulle beland weer op ’n glyskaal van diskriminasie.
 

Is dit wat u die meeste getref het in die teologiese wêreld van Suid-Afrika?

“Miskien. Ek sal dit toelig aan die hand van ’n voorbeeld. In 2010 het ek drie lesings aan die Universiteit van Pretoria vir vyfdejaar-teologiestudente gegee. Dit was dus lesings vir predikantstudente van die NG Kerk en die Hervormde Kerk. Ek het hulle gevra om teologies te reflekteer op tekste van hulle eie kerke uit die sewentiger- en tagtigerjare waarin die kerke apartheid probeer regverdig het. Die studente was baie onseker. Hulle het geen woorde daarvoor gehad nie; geen konsepte wat hulle kon gebruik nie. Ek verstaan dat hulle kinders is van ’n geslag wat ’n groot oorgang na demokrasie moes verwerk. Hulle ouers het miskien nie daaroor gepraat nie, maar eien hierdie jongmense nou vir hulleself ’n onnodige ‘eis’ van die nuwe samelewing toe om te swyg? Waarom?”

Van der Borght begelei met groot entoesiasme die doktorale studies van sy drie Suid-Afrikaanse studente. Dit is een student meer as wat die Desmond Tutu-leerstoel van hom vereis. Ongelukkig vind daar nog nie die beoogde uitruiling van voorgraadse en MA-studente plaas nie. Dit is nog een van die doelwitte van die DTP, wat trouens ook leerstoele in vier ander fakulteite van die VU het en met dieselfde doelwitte voor oë werk.

Die skreinendste is egter ’n doelwit van die DTP waaraan nog nie voldoen is nie, naamlik kursusse vir die professionele ontwikkeling van personeel op histories minder bevoorregte kampusse. Die VU se DTP het ’n “Memorandum of Understanding” (MoU) met sewe universiteite in Suid-Afrika: UNISA, NWU, UP, UJ, Wits, UKZN en SUN. Van hierdie universiteite het net die NWU so ’n “histories minder bevoorregte kampus”, naamlik die Mafikeng-kampus. Universiteite wat dit werklik nodig het, soos die Universiteit van die Noorde en die Universiteit van Zoeloeland, staan buite hierdie professionele hulp.
 

Waarom?

“Fondsverskaffers van groot besighede en ander belangegroepe wat die DTP van die VU ondersteun, stel net belang in bekende universiteitsname in Suid-Afrika waar alreeds ’n groot mate van sukses met ander programme behaal is. Die Fakulteit Teologie aan die UWK het gelukkig oorgeskuif na Stellenbosch toe, waar hulle nou binne bereik is van die DTP se kursusse.”

Ten spyte van moeilike tye waarin universiteite soos die VU afhanklik is van ekstra fondse uit die sakewêreld vir sy DTP, bly Van der Borght optimisties. Hy gesels met sy hande. Dis sy tweede natuur om na te dink. Hoe kan die kerk teologies reflekteer op die eis van diversiteit in samelewings waarin lidmate se sosiokulturele identiteit ’n belangrike rol bly speel? Dis ’n vraag wat wêreldwyd geld. Kennis en kerk les elke dag sy dors. Hy dra graag nuwe konsepte of ’n toepaslike woordeskat aan vir oënskynlik monddood teologiestudente.

 

Prof. Eddy Van der Borght

Lees Carina van der Walt se vorige artikel in die reeks, In gesprek met ... Willy Martin.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address