Hulp by selfdoding

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Die ritse en ritse speurstories wat ons op die kassie sien, skep partykeer ’n verkeerde indruk by die kyker oor wat die regsposisie eintlik is. Neem byvoorbeeld baasspeurder Colombo se moordstories wat ’n dekade of twee gelede so gewild was. Colombo – sal ouer lesers onthou – was baie lief om uit ’n veeltal verdagtes dié ouens wat ’n motief vir die moord gehad het, te sif. As hy eers agterkom dat iemand ’n motief gehad het om te moor, het hy soos ’n bloedhond op daardie spoor langs geloop totdat hy die moordenaar kon vastrek.

Maar dit was televisie. Die werklikheid is anders: die blote motief om te moor help die staatsaanklaer absoluut niks om die saak in ’n hof te bewys nie. Wat die aanklaer moet bewys, is die opset om te moor, niks minder nie. ’n Hof sal nie, as bewys word dat ’n beskuldigde ’n motief gehad het om iemand te vermoor, hom enkel en alleen op daardie getuienis skuldig bevind nie.

Aan die ander kant kan die verdediging ook nie getuienis dat iemand die opset gehad het om ’n misdryf te pleeg, as’t ware goedpraat deur te bewys dat die beskuldigde eintlik ’n rein motief gehad het nie. Robin Hood – daardie Engelse karnallie wat die rykes beroof het en die skatte onder die armes uitgedeel het – het dalk ’n lofwaardige motief gehad, maar sy dade was steeds krimineel.

Dit bring ons by vandeesweek se saak. ’n Sekere mnr Peverett van Durban het in die winter van 1939 ’n warrelwind-verhouding met ’n getroude vrou, ene me Saunders, gehad – natuurlik toe mnr Saunders nie tuis was nie. Met haar man se terugkeer het die liefdesdriehoek waarin sy beland het, vir haar te veel geword en het sy besluit om haarself om die lewe te bring deur gif te drink. Haar minnaar van ’n paar weke, mnr Peverett, het van haar voorneme te hore gekom en haar in sy klein Opel-motortjie gaan oplaai om die ding uit te praat. En pleks dat hy haar uit haar selfdodingsplanne kon uitpraat, het sy hóm óók in selfdoding íngepraat. Hulle het besluit dat die Opeltjie die aangewese plek sou wees, en mnr Peverett het ’n rubberpyp met die motor se uitlaatpyp verbind en dit in die kajuit ingebring. Hy het nogal baie moeite gedoen om seker te maak dat die motor dig sou wees ten einde soveel as moontlik uitlaatgas in die kajuit te laat ophoop. Daarna het hy die enjin aangeskakel, en die twee het teruggesit en op die einde gewag. Op ’n stadium wou mnr Peverett die masjien afskakel, maar me Saunders het sy hand van die sleutel weggedruk. Kort daarna het albei hul bewussyn verloor.

Vroeg die volgende oggend het ’n verbyganger die Opeltjie met sy luierende masjien opgemerk en alarm gemaak. Die bewustelose paartjie is inderhaas hospitaal toe geneem waar mnr Peverett gou herstel het. Me Saunders was egter vir etlike dae op die gevaarlys, maar gelukkig het ook sy sonder ernstige nagevolge herstel.

Mnr Peverett is daarna van poging tot moord op me Saunders aangekla en deur die hooggeregshof skuldig bevind en ’n boete van – destyds – dertig pond opgelê. In vandag se geldwaarde sou ek reken dat dit minder as R10 000 is; dus nie ’n te swaar straf nie.

Die regter het egter getwyfel of hy reg was in sy uitspraak en het die regsvraag – dit wil sê, of mnr Peverett wel op die feite voor die hof skuldig was aan poging tot moord – na die appèlhof verwys.1

Namens mnr Peverett is aangevoer dat me Saunders te alle tye vry was om te maak soos sy wou. Mnr Peverett het haar nie gedwing om in die gasgevulde motor te bly nie. Sy kon enige tyd die ruit afgedraai het, die enjin afgeskakel het, of die deur oopgemaak en uitgeklim het. Gevolglik, so is geargumenteer, kan nie gesê word dat as sy sou gesterf het, haar dood deur mnr Peverett veroorsaak sou gewees het nie. Hiermee het die hof nie saamgestem nie. Die rede waarom mnr Peverett die rubberpyp aan die uitlaatpyp gekoppel het en dit toe na die binnekant van die voertuig gelei het, was om te verseker dat sowel hy as me Saunders giftige uitlaatgasse sou inasem – wel wetende dat dit hul albei se dood kon veroorsaak. Sy maatreëls was ’n middel tot ’n doel en dit het verder gegaan as blote voorbereidingshandelinge.

Die tweede argument wat namens mnr Peverett geopper is, het gegaan oor sy motief, waarna ek hier bo verwys het. Hy was immers lief vir haar, so het die argument gelui, en hy het in werklikheid geen begeerte gehad om haar dood te maak nie. Daarom kon nie gesê word dat hy die opset gevorm het om te moor nie. Ook hierdie argument is deur die appèlhof verwerp. In die reg, het die hof beslis, moet onderskei word tussen wat ’n mens begeer en wat jy wil. Die gevolge wat iemand voorsien as hy op ’n sekere wyse optree, is wat hy wil; nie wat hy noodwendig graag sou wou sien gebeur nie. Tussen mnr Peverett se motief om nie te moor nie en sy opset om die motor met giftige gasse te vul was daar ’n hemelsbreë verskil. En dáárdie verskil het beteken dat ook die appèlhof van mening was dat hy wel skuldig was aan poging tot moord.

Terwyl motief irrelevant is by die vraag of ’n persoon die opset gehad het om ’n misdryf te pleeg, kan dit wel ’n rol speel by die vonnis wat die hof hom ná skuldigbevinding kan oplê. ’n Goeie voorbeeld is die saak van die mediese dokter wat sy sterwende vader ’n dodelike dosis narkose ingespuit het om sy lyding te beëindig. Die hof het nie een oomblik getwyfel dat hy slegs die beste belange van sy vader op die hart gedra het nie, maar wat hy gedoen het, was om moord te pleeg.2 Tog het hy slegs ’n opgeskorte vonnis vir hierdie uiters ernstige misdryf ontvang en is beveel dat hy in hegtenis gehou moes word totdat die hof sou verdaag – wat ’n paar sekondes later gebeur het. Sekerlik het sy motief ’n oorheersende rol by vonnisoplegging gespeel.

1R v Peverett 1940 AD 213

2S v Hartmann 1975 (3) SA 532 (C)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top