|
Hermann Giliomee is by die ABSA KKNK aangehaal: “Die Afrikaners het al van ’n baie vroeë stadium die idee van ’n volkskerk gehad. Die kerk moet gaan kyk wat die verhouding is met die volk waarin hy geplaas is. Is hy ’n volkskerk of is hy nie ’n volkskerk nie?” Naomi Meyer het hom gevra hoe wenslik die begrip van 'n "volkskerk" is in die godsdiensdiskoers van ons tyd en oor die verhouding tussen die kerk en die volk waartoe sy lidmate behoort. Wat is die rol van sulke faktore soos taal, kultuur en politiek in 'n geloofsgemeenskap? |

|
Herman Giliomee: Iets oor myself Ek is in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk, voortaan NGK) gedoop, aangeneem en getroud. Ek was in my volwasse lewe tot dusver nooit aktief in die kerk nie en is vandag ’n onbetrokke maar welwillende lidmaat. Ek beskou die kerk as ’n uiters belangrike instelling. ’n Goedgemotiveerde kerk met ’n duidelike begrip van sy besondere geskiedenis, sy geloof en geestelike waardes en sy maatskaplike funksie is ’n kragbron in enige gemeenskap en enige samelewing. |
1. Inleiding
Ek glo nie dit is bekend wanneer die term volkskerk vir ’n Afrikaanse kerk die eerste keer gebruik is nie. Die rede is dat die NGK nie op ’n bepaalde oomblik op ’n sinode bewustelik gekies het om “volkskerk” te word nie. Wat ’n historikus wel kan doen, is om lig te werp op twee sakevrae wat onlosmaaklik met die ontstaan van ’n volkskerk verbind kan word.
Kort gestel is daar hierdie vrae:
- Wanneer en hoekom het die Afrikaners se kerk wit geword?
- Wanneer en hoekom het die kerk nasionaal geword?
Sonder ’n kerk wat wit en nasionaal is, kon die Afrikanernasionaliste nie praat is.
Dit het weens bepaalde historiese omstandighede ’n kerk geword wat feitlik net wit Afrikaanssprekendes bedien het. En dit was die omstrede band met die Britse Ryk wat die kerk nasionaal gemaak het.
Die ontwikkeling onder die Afrikaners tussen 1915 en ongeveer 1985 van Afrikaanse kerke wat nasionaal was, somtyds eksplisiet nasionalisties, en in die praktyk ’n volkskerk, het verskil van die ontwikkeling in die Protestantse kerke in Duitsland gedurende die 1920’s en 1930’s. Daar het ’n beweging met die naam van Deutsche Christen (die naam is deur Hitler self gekies) ontstaan wat sterk “bloed” en “ras” beklemtoon het. Dit het Karl Barth genoop om die Bekenntniskirche, wat die gesag van die Skrif bo enige ander gesag beklemtoon het, te stig.
So ’n diep skeuring was daar nooit in die Afrikaanse kerk nie.

2. Waar kom die term en begrip volkskerk vandaan?
Gedurende die 17de eeu het die Gereformeerde Kerk in Nederland, gebaseer op die Calvinistiese leerstellinge, amptelik voorrang onder die kerke geniet. Dit was egter nie die staatskerk nie en slegs die helfte van die bevolking was lidmate. Die staat het die kerk noukeurig dopgehou en daarop gestaan dat dit hom nie moet kritiseer nie. Dit was ook die geval aan die Kaap, waar die Kompanjiesbewind die predikante besoldig het en hulle soos regeringsamptenare behandel het.
Die Kompanjiesbewind het die belang van die Nederlandse taal en die Gereformeerde godsdiens met ewe veel klem verkondig. Die amptelike gebede van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie en die instruksies wat dit aan onderwysers uitgereik het, het spesiaal melding gemaak van die plig om die Gereformeerde godsdiens in die Nederlandse taal te bewaar. Toe Brittanje in die 19de eeu probeer het om die Kaap te verengels, het De Zuid-Afrikaan gewaarsku dat die verdwyning van die Nederlandse taal ook sou lei tot die ondergang van die Gereformeerde godsdiens. Taal en geloof was dus elemente wat maklik in ’n nuwe nasionale bewussyn in die kerk en in die politiek geïnkorporeer kon word. Dit sou egter eers in 1915, na afloop van die Rebellie, gebeur dat hierdie drade saamgetrek sou word.
Hoewel die NGK vanaf die begin van die Kaapse nedersetting oop was vir alle rasse en klasse, het die kerk nooit groot entoesiasme daarvoor getoon om groot getalle gekerstende nie-Europeërs deur aanneming op te neem nie. Slawebesitters het ook nie, soos in ander wêrelddele, van vroeg af die slawe aangemoedig om hul eie kerk te stig nie. In ’n kolonie met weinig soldate of polisiemanne buite die hoofstad was die eerste vraag hoe beheer oor slawe gehou kon word. Daar is gevrees dat ’n slawekerk beheer kon ondermyn.
Hoekom het die Europese bevolking in die eerste 150 jaar hoofsaaklik wit gebly? Die antwoord moet in die kerk gesoek word.
Die kerk het die Europeërs in die kolonie almal as “gebore Christene” beskou wat as suigelinge gedoop moes word. Volgens die doopteologie was hulle reeds in moederskoot Christene. In teenstelling daarmee kon almal wie se ouers nie Christene was nie – in die Kaapkolonie was dit in die praktyk alle slawe – gedoop word eers as hulle by ondervraging kon toon dat hulle op hoogte van die Christelike geloof was.
’n Predikant kon die deur toehou deur gewoon slawe of vryswartes wat hulle wou laat doop of aanneem af te wys wanneer hulle getoets is oor hulle kennis van die Gereformeerde geloof. Die kerkraad van Stellenbosch het vroeg in die 19de eeu verklaar dat “terwyl daar slawe mag wees wat God in hul harte vrees, hulle te dom is om baie te memoriseer.”
Boere was traag om hul slawe te laat doop. Die Kaap was van die weinige kolonies waar daar buite die hoofstad feitlik geen polisie- of militêre mag was nie. Op hul plase moes boere self dissipline oor hul slawe handhaaf. Daar is heelwat aanduidings dat ook diep gelowige boere nie kans gesien het om hul slawe te laat doop en aanneem nie, omdat hulle bang was dat hulle hul werksvolk nie meer sou kon beheer nie.
Dit was wit vroue wat die leiding geneem het in die proses wat die kerk omtrent heeltemal wit gemaak het. Teen 1770 was 90% van die volwasse Europese vroue in die Stellenbosch-gemeente bevestigde lidmate van die kerk teenoor net een derde van die manlike burgers. Hubare Europese vroue of hul ma’s het daarop aangedring dat ’n vryer in die kerk bevestig moes word voordat hulle hul toestemming gee. Getroude paartjies het aanvaar dat dit hul plig was om hul kinders te laat doop. So het ’n kerk ontstaan wat omtrent heeltemal wit was.
Vanweë die aanvanklike tekort aan Europese vroue was daar ’n kans dat groeiende getalle hubare slawevroue aangeneem kon word en dat die kerk op hierdie manier sy wit identiteit kon verloor. ’n Groot struikelblok was egter die regulasies oor huwelike. Dit is ’n opperste ironie dat hoewel slawe die laagste kategorie op die sosiale leer was, sommige slavinne in werklikheid te duur was om mee te trou. ’n Aantreklike slawevrou kon maklik ’n prys van 800 riksdaalders haal – die prys van sommige plase wat in die buitedistrikte op die mark gekom het.
Waarom het die Europese vroue aan die Kaap soveel klem gelê op lidmaatskap van die kerk? Die belangrikste rede was dat dit kompetisie met nie-Europese vroue, en veral met slawevroue, uitgeskakel het. Die egskeidingswet onder die Romeins-Hollandse Reg, wat in die grootste gedeelte van Nederland en ook aan die Kaap toegepas is, het ’n Europese vrou teen mededinging met slawevroue vir die guns van haar man beskerm. Die regstelsel het voorsiening gemaak vir etlike gronde vir egskeiding of skeiding van bed en tafel, wat effektief die huwelik ontbind het.
Van die redes was egbreuk, kwaadwillige verlating en erge fisieke mishandeling. In die geval van egskeiding het die vrou die helfte van die boedel ontvang. Die vrou kon ook die roerende eiendom wat die man aan ’n minnares (houvrou) gegee het, terugkry. Openlik rondspeel met ’n slavin kon vir ’n man ernstige finansiële gevolge hê.
Die sterk en byna onafhanklike posisie wat die Afrikanervrou en veral die Boervrou op die plase geniet het, het Olive Schreiner in die 1890’s genoop om te skryf dat hierdie vrou haar eweknie in Europa in die bereiking van die feministiese ideaal ver voor is. As daar ’n seksie in die Afrikaanse gemeenskap is wat vir die Britse bewind moet kwaad wees, is dit die vroue. Hierdie bewind het teen die einde van die 19de eeu die Romeins-Hollandse erfreg vervang met die Engelse reg wat die manlike geslag uitermate bevoordeel.
Aan die Kaap onder Kompanjiesbewind het gemengde huwelike vanaf die 1730’s begin afneem. Mans wat nie ’n Europese vrou kon kry nie, het verkies om nie te trou nie. ’n Studie van die 1731-sensus het getoon dat 59% van Kaapstad se Europese mans en 51% op die platteland van die Wes-Kaap nooit getrou het nie.
In 1807 het net vyf persent van ’n steekproef van 1 063 kinders wat in daardie jaar in die Gereformeerde en Lutherse kerke gedoop is, ’n grootouer gehad wat deur genealoë as “Nie-Blank” (sonder uitsondering ’n vrou) geklassifiseer is. In daardie stadium was die persentasie huwelike wat kennelik gemengde huwelike was, in die Tulbagh- en Graaff-Reinet-distrik tussen een en drie persent. Die kerk was nou vir alle praktiese doeleindes wit en Europees.
Van die laat 18de eeu was daar onder die Kaapse koloniste ’n sterk afkeer van wat hulle “gelykstelling” met slawe of die kinders van slawe genoem het. Hierdie teenstand teen gelykstelling sou tot die 1970’s voortduur. Dit het ook die kerk beïnvloed en was een van die faktore wat daartoe gelei het dat die kerk in 1857 besluit het dat Nagmaal gesegregeerd bedien kon word (1857) en dat ’n aparte kerk vir bruin mense, die nasate van slawe, gestig kon word (1881).
Die NGK was egter geen volkskerk nie. Vir ’n groot deel van die 19de eeu en die vroeë 20ste eeu was veral die Kaapse NGK ’n evangeliese kerk met ’n sterk klem op bekering, die Bybel as bron van die waarheid, en die noodsaak van sendingwerk.

3. Verhouding tussen die kerk en die volk waartoe sy lidmate behoort
Die wit of Moederkerk was nooit “nasionaal” voor die Rebellie van 1914–15 nie. In Januarie 1915 is ’n konferensie van NGK-predikante in Bloemfontein gehou om te besin oor die kerk se optrede teen die rebelle. Sekere leiers het hier gevra dat die rebelle onder sensuur geplaas word. Slegs wyse optrede sou ’n kerkskeuring verhoed. Dr DF Malan, op daardie stadium NGK-predikant in Graaff-Reinet, het geglo dat ’n kerkskeuring onberekenbare gevolge vir die Afrikaners sou hê. Hy het ’n voorgestel gemaak wat die vergadering feitlik eenparig aanvaar het. Dit het oor die NGK die volgende verkaar:
Dat ons kerk behalwe haar algemene roeping as Christelike kerk ook ’n besondere roeping het teenoor die Hollands-sprekende Afrikanervolk, met wie se bestaan die kerk op so ’n innige wyse verbonde is, en daarom dit altyd as sy plig beskou het om self nasionaal te wees en te waak vir ons besondere belange en om aan die volk te leer om in sy eie geskiedenis en wording en om by die Afrikanervolk ’n besef van ’n nasionale roeping en bestemming lewend te hou, waarin die geestelike, sedelike en stoflike vooruitgang van ’n volk geleë is.
Die vergadering het verder besluit dat geen besluit geneem kon word voor daar nie ’n volledige ondersoek na die oorsake van die rebellie gedoen is nie. Daarmee het die aandrang op sensuur effektief in die doofpot beland. Die redakteur van De Kerkbode het die gees van die besluit opgesom met die woorde: “God is in ons geskiedenis, ons kerk is nasionaal.”
Die term apartheid in sy moderne betekenis het die eerste keer in 1929 in druk verskyn. Dit is veelseggend dat dit in ’n publikasie van die NGK was. Ná ’n konferensie van die Vrystaatse NGK oor sendingwerk wat op Kroonstad gehou is, is ’n boekie met die toesprake uitgegee, getitel Die NG Kerk van die OVS en die Naturellevraagstuk. Ds Jan Christoffel du Plessis van Bethlehem het gesê:
In die grondbegrip van sendingwerk en nie rassevooroordeel nie, moet die verklaring gesoek word vir die gees van apartheid wat ons gedragslyn nog altyd gekenmerk het, en wat sommige deur misverstand in ons laak. Die verwyt word ons dikwels gemaak dat ons Kerk uit rassevooroordeel die vader is van die kleurlyn, deurdat ons nooit wou toelaat dat bekeerlinge uit die heidene in ons kerklike en sosiale samelewing met ons blanke lidmate sou meng nie.
Met apartheid het Du Plessis enersyds bedoel dat die swart mense geëvangeliseer moet word met behoud van hul “eie rasse-identiteit”, en in hul eie gemeentes en eie selfstandige kerk opgeneem moes word. Andersyds het hy ’n eksklusiewe NGK bepleit om die aparte en “suiwere” voortbestaan van “’n handjievol blankes te verseker”.
Volgens Du Plessis se beskouing het apartheid nie op wit vooroordeel berus nie, maar was dit “slegs ’n ander woord vir die konsentrasie van alles wat die eie is, en alles wat die ’selfsyn’ bevorder”. Implisiet in sy argument was die aandrang dat slegs ’n vereenselwiging met die volksgemeenskap eg is. Du Plessis se “apartheid” was bedoel as ’n teenvoeter vir die integrasiebenadering van die Engelse sendelinge, wat na sy mening bekeerlinge probeer kry het deur hulle die Westerse beskawing en godsdiens te laat naboots.
Op ’n vergadering in 1935 van die gefedereerde NG Kerk van Suid-Afrika is ’n gemeenskaplike sendingbeleid vir die kerk geformuleer. Hier verklaar die kerk dat die Bybel dit verkondig dat daar verskillende volkere en “kleur-, kultuur- en taalgroepe” bestaan. Onderwys moet volgens die Bybelse eise aangebied word en moet gegrond wees op die groep se kultuur met die klem op sy taal, geskiedenis en gebruike. Kleurlinge en swart mense moet ontwikkel tot “selfrespekterende Christelike volke”, wat hul eie ekonomiese samehorigheid” moet opbou, “so ver moontlik apart van die blanke”.
Soos Johann Kinghorn tereg in Die NG Kerk en apartheid aandui, is hier verskeie aspekte wat nuut is. Vir die eerste keer word gepraat van “kleurlinge”, net soos in die geval van swart mense, as ’n aparte volk. En die kerk laat nou die klem val op die gelykwaardigheid van alle selfrespekterende volke en nie dié van individue nie. Voor 1935 het die kerk die gelyke waarde van alle individue voor God beklemtoon. In die verklaring van 1935 is daar geen poging om die uitsprake skriftuurlik te grond nie. Die “tradisionele” van die Afrikaner is die norm.
Predikante en mense in die NGK wat oor sendingstrategie gedink het, was die heel eerstes in die Afrikanergemeenskap wat die ideologie van apartheid geformuleer het. Hierdie mense was idealisties en veel minder geneig as akademici en politici om verregaande rassediskriminasie op grond van ’n gewaande minderwaardigheid te kondoneer.
4. Slot
In sy mees onomstrede sin het volkskerk beteken dat ’n kerk die taalkundige, kulturele en maatskaplike karakter van sy lede in aanmerking moet neem. In sy mees radikale sin het dit beteken die aandrang dat elke volk sy eie (volks)kerk moes hê en dat die samelewing op daardie grondslag geskoei moes word.
Binne die NGK het die idee gegroei dat dit nie nodig is om gelykheid van alle individue in ’n geïntegreerde samelewing te aanvaar nie. Jy kan in plaas daarvan die “gelykheid van alle gelowiges”, alle siele en alle volke aanvaar, en vir hulle aparte strukture skep – die tema van Richard Elphick se belangwekkende nuwe boek, The Equality of Believers: Protestant Missionaries and the Racial Policies of South Africa). In die loop van die 1930’s het die vraag by Nasionale Party-politici ontstaan: As elke volk sy eie kerk het, hoekom word daar nie daarvoor voorsiening gemaak dat elke volk sy eie volksregering, sy eie groepsgebiede, sy eie volksgerigte onderwys en sy eie volkstaat kry nie?
Elphick se argument kom daarop neer dat jy nie die geskiedenis van rasseverhoudinge in Suid-Afrika moet verstaan as ’n stryd om die bestaande ongelykheid te bly handhaaf nie, maar as die stryd van wit mense, en die Afrikaners in die besonder, om aan die Bybelse eis van die gelykheid van alle mense en nasies voor God te voldoen, maar sonder om die “selfbeskikking” van die blanke “volk” prys te gee. The Equality of Believers is die eerste nuwe woord oor ’n pynlike rassegeskiedenis in baie jare.
Ek wonder soms of die politici van die Nasionale Party onder dr DF Malan, wat in 1933/34 gestig is, ooit apartheid as ’n radikale ideologie sou ontwikkel het as dit nie was dat die NGK in 1935 vir hulle ’n bepaalde, baie verleidelike weg aangewys het nie.

Bibliografie
Elphick, R. 2012. The Equality of Believers: Protestant Missionaries and the Racial Policies of South Africa. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.
Giliomee, Hermann. 2010. “Allowed such a state of freedom”: Women and Gender Relations in the Afrikaner Community before enfranchisement in 1930. New Contree, 59:29–60.
Kinghorn, Johan. 1986. Die groei van ’n teologie. In Kinghorn (red) 1986.
Kinghorn, Johan (red). 1986. Die NG Kerk en Apartheid. Johannesburg: Macmillan.
Shell, Robert. 1994. Children of Bondage: A Social History of the Slave Society at the Cape of Good Hope, 1652–1838. Johannesburg: University of Witwatersrand Press.
Keer terug na die webseminaar se indeksblad om nog bydraes te lees.


Kommentaar
Ja-nee. Ek verstaan niks van so "kerk" nie. Het daarin groot geword. Ons hoogs bejaarde ouers glo (soos die katolieke) aan die kerk. Dis altyd vir my so verstommend dat sulke intelligente mense so tradisioneel onbeholpe kan wees. Ek vermoed dit kom uit die verklaring altyd in die kerk Sondae … ek glo in 'n algemene christelike kerk, of so-iets. Dit staan tog nie in die Bybel nie en NERENS sien ek dat enige siekte God se wil was nie - dus waarom word dit dan gepreek? Waar het Jesus gesê: Nee, los hierdie siek ou - dis die Vader se wil dat hy nou vir eers moet ly. Alles so sakramenteel (ook vanwaar?). Ek sien hoeveel mense sê die kerk moet meer liberaal wees en die "gay"-storie moet glo ingewerk word dan's als weer reg. Nee (jammer dit gaan nou nie hier vir my oor gay of enige ander ekstra denke nie), dit gaan oor Bybelsgerigtheid. Daar word te veel gekonfedereer en te veel teologie aan die dag gelê. Die bybel is genoeg - preek daaruit en wat nie verstaan word nie moet maar met die gemeente uitgemaak word in alle eerlikheid. Ek wens ek kan 'n predikant of pastoor hoor sê: Hieroor het ons nou al baie oor gebid (bv laaste deel van Markus), ons sien nie ooglopende wonderwerke nie - eintlik verstaan ons dit nie. HERE help ons met dit want sonder die woord is alle kerke maar net sosiale instansies met baie reëls. Ek wens ek kan 'n eerlike predikant hoor praat (ek bedoel eerlik in 'n ander sin as die teenoorgestelde van ONeerlik - ek dink tog hulle preek met integriteit en wonder self in stilte waaroor dit gaan). Hou op geld bestee aan geboue en 'n sekere manier waarop al die banke moet staan en preek 'n slag net vir mense op watter plek ook al, maar HOU by die Bybel, of hy nou sin maak of nie, en of genesings gebeur of nie maar om G-dsnaam, hou die politiek daaruit! Hou by God, wat dit deur inspirasie geskryf het en MOENIE meer vertalings maak nie, en moet veral nie die Bybel as een groot beeldspraak-tuig sien nie. Neem dit letterlik op en maak dan die saak met God uit, maar voor die mense sodat hulle die opregtheid kan beleef. Ek dink my skrywe is te gekompliseerd. Jammer daaroor. MAAR hou op bang wees vir die skrif en wat dit sê. En, kom ons kom dan uit die wêreld se dinge as die Bybel sê ons moet. Hou op met kompromie. En die kerk MOET tog teen die tyd weet Jesus het nie babas gedoop nie - die dopery was ALTYD na 'n bekering en dit beteken werklik dat die ou mens met die nuwe vervang is. 'n Kind kan dit tog lees en verstaan. Nou’s ek klaar, sjoe!
Die Bybel kan nie letterlik opgeneem word nie maar spiritueel. Jesus was 'n mens met buitengewone gawes. Tog sê hy vir ons dat ons soos hy kan wees. Hy het iets in homself ontdek en geglo dat dit fundamenteel in alle mense is. As die mense sê die koningkryk is in die hemel dan sal die voëls voor julle daar wees. As hulle sê dit is onder die see dan sal die visse voor julle daar wees. Maar dit is nie daar nie, dit is in julle en om julle. Ons moet God in onsself ontdek. Ons moet introspeksie hou. Die kerk het lankal sy krag verloor omdat die waarheid nie aan die mense verkondig word nie. Blinde geloof en dogmas gaan ons nie help nie.