Sopas die radio (RSG) afgesit; nou gatvol vir al die Engels. Johnny Davids is die programleier maar mens sou sweer dis 'n Engelse radiostasie; sy gas (nogal 'n Afrikaansklinkende van) sê 'n sin in Afrikaans maar slaan dan oor Engels toe. En dis nie net Johnny Davids wat so lief is om Engelse as gaste te kry nie, daar is nog ander omroepers ook. Ek het al voorheen genoem dat die kans groot is hierdie ding word deur bestuur aangemoedig; hoe meer Engels jy kan inpas hoe beter jou prestasie-aanslag.
Omdat so-iets nooit op 'n Engelse radiostasie sal plaasvind nie word die indruk geskep dat Afrikaans nie tel nie maar Engels tel wel. Op die manier ondermyn RSG Afrikaans, jare al.
Ek hoor nou die dag 'n paar oulike Afrikaanse liedjies op die nuwe TV-stasie en het nog nie een van hulle op RSG gehoor nie. Wat wel deesdae op die speellys kom is van die aakligste goed – een liedjie byvoorbeeld sing die ou van die meisie, wat hom gelos het, se faiwytale (die snaakse Engelse r) lifestyle, en dat sy hom gelos het oor sy Porsche te stadig is en sy flat screen te klein is (hoop vir sy part sy praat van sy TV) en sy beach house te ver van die see af. Baby I've got gnu's for you sing die ou verder, hy't 'n ander meisie gekry bla bla bla ens. G'n wonder sy meisie het hom gelos nie; 'n ou wat so min omgee vir sy taal gaan haar beslis eendag verwaarloos.
Met hierdie soort van liedjies, bybie (of selfs bybe) voor en bybie agter, ondermyn RSG Afrikaans.
In een of ander advertensie beloof 'n omroeper om mooi musiek te speel as jy bietjie inlê. Waarvoor spesifiek as jy bietjie inlê; wat van as jy bietjie bak, of bietjie houtwerk doen, of bietjie naaldwerk of sommer net bietjie laat slaap? Omroepers gebruik ook gedurig die woord 'doen' op die Engelse manier, praat van karre en skepe asof dié vroulik sou wees en in advertensies word Franse en Italiaanse woorde (enige taal s'n om die waarheid te sê) op die Engelse manier uitgespreek alhoewel die Afrikaanse uitspraak baie nader, en partykeer presies, soos die Frans of Italiaans is.
Is daar niemand wat advertensies nagaan en goedkeur voor dit uitgesaai word nie? Dit lyk my bestuur sien foute oor omdat dit nou kwansuis 'n ander tongval sou wees. Dit is nie so nie; dis swak Afrikaans. 'n Tongval is 'n dialek of selfs aksent, nie geradbraakte of besmette Afrikaans nie.
Met hierdie skouerophaalhouding ondermyn RSG Afrikaans. Die vraag is, is dit as gevolg van onbekwaamheid of is dit moedswillig? Maak seker nie saak nie; die een is so erg soos die ander. Waar kan mens hulle aangee, wie is hulle baas? Of, gruwel der gruwels, hierdie sabotasie is dalk juis 'n opdrag van hulle baas af.
Wat 'n verleentheid.
Jan Rap
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter