SêNet-briewe | Letters

 
Elke knie sal buig!
So vinnig soos ‘n briesie, is Connie my lewe IN, maar ook weer UIT.

Dinsdag, 6de Nov 2012. Vroegoggend lui my selfoon my wakker. Ek skrik. Die kinders? Die vreemde stem aan die anderkant klink tranerig en benoud.

“Trienie, kan ek jou sien vanoggend?” Ek ken hierdie oproepe. Soms skram ek weg vir dit. Hopende dat die storm sal gaan lê. Jy weet nooit wat om te verwag.

My antwoord is altyd dieselfde: “Natuurlik, hoe laat wil jy kom?” Jy sê nooit jy is te besig. Dit kan lewe of dood vir iemand beteken. Verwerp jy nou, ontlont dit meer trauma. Tyd moet ook maar iewers uitgekrap word.

“Ek is hier in Dorpstraat, kan jy kom?” haar stem klink toegesluit. Ekself gaan nooit sommer ná iemand toe, hulle moet eerder na mý toe kom. Dit versterk die persoon se ‘keuse’ en besluit. Omrede van die vrye wil. Iemand wat na jou toe kom, WIL! En al waarop jy soms kan werk is die persoon se eie wil.

“Ek’s jammer. Kan jy na my werk toe kom? Daar is ‘n privaatkamer. Ongelukkig mag ek nie uit die kantoor,“ maak ek verskoning.

Stilte.

Skielik kom Woord van Kennis in aksie. Ek ‘sien’ dat Connie so gebind is met ‘n vreesgees, dat sy te bang is om uit haar huis te beweeg.

“Ek ... kom nooit in die dorp,” stotter sy.

“Ek weet,” troos ek. “Maar sien jou 9uur by my kantoor. Ek wag vir jou,” en neem die besluit namens haar.

Ek het nie werklik vir Connie gewag. Die dag was rof en besig. Mense soos Connie, maak partykeer afsprake, maar daag nie op as moedbegewe inskop. Maar 9uur is Connie by my kantoor. Ek gaan haal haar in ontvangs. ‘n Netjiesgeklede dame met mooi juwele. Net so oor haar 50. Sy lyk heel beskaafd en in beheer.

“Môre Connie, ek is bly jy kon kom!” groet ek vriendelik om haar op haar gemak te stel. Ek kan myself net indink wat dit haar moes vat om ‘n wildvreemde vrou te kom sien en so eintlik jou dinge te ‘face’? Ek loop vooruit en neem haar na die privaatkamer. Aan die oorkant van die lessenaar trek ek vir haar ‘n stoel uit, en sien hoe sy benoud haar handsak vasknyp met bewende vingers.

“Hoe gaan dit met jou Connie?” vra ek besorgd en kyk haar vas in die oë. Ek geniet dit om saam die Heilige Gees in hierdie situasies te vloei omrede Sy Bystand, openbaringe en troosting soms ongelooflik opereer.

Sy antwoord nie. Skielik stroom trane vanonder haar bril en ek wonder of ek vinnig kan opstaan om tissues aan te gee. Iets dring my egter om doodstil te bly sit en haar te begaan.

Kortliks: Connie kry nie geslaap. Snags gebeur dinge in haar kamer. In die oggend sal sy byvoorbeeld sien haar bybel wat oop was, is toegemaak. Die selfoon netjies geplaas op haar bedkassie, of ander voorwerpe is geskuif of omgedraai. Die vorige nag het ‘n dooie koue vinger haar keel aan die kant toegedruk. Sy wys my waar. Soms rol iets haar op in die kombers en moet sy haarself weer ooprol. ‘Weird’ dinge. Haar dogter by wie sy woon glo haar, maar ander dink sy is mal. Hoe oë is verwilderd en moedeloos.

Ek frons en dink: “Here, wat het U nou weer vanoggend vir my gestuur?” Maar ek luister aandagtig. As God haar gestuur het, dan moet dit so wees. Wie is ek om haar te bevraagteken? Verleë glimlag sy nou op na my. Sy sien ek glo haar. Almal glo nie aan bonatuurlike dinge, selfs Leraars en die kerk verkies om hierin weg te bly. Soms is die bonatuurlik wêreld ‘n groter werklikheid dan die natuurlike.

“Iemand het vir my vriendin gesê jy kan my help,” pleit sy. “Jy sal vir my bid ...” Ek sien hoop in haar oë. Iemand moes haar groot geloof ingepraat het!

“Natuurlik,” bevestig ek dit “die Here help altyd.”

Ek doen nie sommer bevrydingsgebede. Die Gees van God sal my wys waar en wanneer. Eers moet die oorsaak onderskei word, anders gaan sy bevry hiervandaan, maar stap weer terug na ‘n helhool? Of soos die bybel dit uitdruk: die huis word skoongemaak, maar keer terug met sewe erger geeste?

Subtiel begin ek uitvra: Is sy kind van God? Ja, sy behoort aan ‘n Moedergemeente. Tussen pratery het ek agter gekom sy het ‘n baie mooi verhouding met ‘haar Here.’

Gebruik sy enige medikasie? Drank, slaappille? Drugs? – want dit kan mens ook dinge laat ‘sien’ of ‘ondervind.’ Nee – probleem uitgeskakel. Ek glo haar.

Het sy ooit met toordery in haar lewe te doen gekry? Okkulte. Satanisme. Wat is in haar kamer? Net ‘n 2 kabouter-glasbeeld wat sy jare terug spesiaal vir haar laat maak het. Sy is so erg en jammer vir dié, dat sy dit bo-op haar kas laat staan. Daar sal kinders dit nie bykom om te breek. Is dit die probleem? Ek weet nie. Ek weet wel dat dwergies die tokkelos kan verteenwoordig wat ‘n bose gees dra. Ek oortuig haar in elk geval om van dit ontslae te raak. Dit sal haar nie verarm.

Nou delf ek in verlede. Het sy ooit geeste geraadpleeg. Ek voel oortuig dit die rigting is om in te beweeg. Die Here waarsku nie verniet die mens in Sy Woord om nie met die bonatuurlike wêreld, bose geeste of afgestorwenes om te gaan nie.

Maar ja, weereens, die mens steur hom nie aan die waarskuwings van God. Ek kan myself net voorstel met watse probleme ons kinders, wat van Lady Gaga ‘n afgod gaan maak, agterna gaan sit. Lirieke gedryf deur sataniese perverse insette, bevrug deur die bose, slegte en dood. Gelowiges voel jammer vir mense soos Lady Gaga, Michael Jackson, Monroe en andere. Gewoonlik kou hulle nooit ou bene. Die mens wat in satan se mag kom, vernietig en misbruik hy. Gaan hulle ook die ware onsterflikheid hoef te “face” anderkant die graf? Is hulle toekoms gesetel in 1 Kor 6:10 of het hulle dalk vers 11 bereik net voor hulle dood?
Ek vra Connie: Waar het sy die eerste keer hierdie snaakse dinge ondervind? Nee, al wat sy kan onthou is dat die aand voor haar man se dood het iemand haar keel langs sy siekbed probeer toedruk. Sy onthou dit tot vandag toe.

Ja?

Die storie neem vorm aan. Haar man was een van die ryk seuns van Bothaville. Daar was baie bakleiery oor erfporsies. Een van die skoonsusters was betrokke by toordery en het daar snaakse dinge gebeur rondom die plase. Hulle was ook nie baie erg oor haar, Connie, nie. Sou verkies dat haar man liewer met ‘n ryker meisie moes trou.

Waaraan is haar man dood? – vra ek. Niemand weet nie. Ingewande het net ophou funksioneer.

Het sy baie geërf van haar man? Is daar iemand wat haar dood wil hê? Nee, sy glo nie. Haar man en sy het in elk geval kaal daar uitgestap ...

Ek vra nie veel verder. Ons tyd is verby. Ek hoef ook nie meer te weet. Wat ookal die oorsaak of rede: “My God can do anything ...” Ek ken die liste en tricks van satan. Hy kan dinge so goed vooruit vir jou beplan, dat jy agterna nie mooi weet wat jou getref het. Skielik, soos in Connie se geval, is die manifestasies daar. Ekself het deurgeloop onder hierdie dinge en kanker. God het my genees. Nou, as kind van die Almagtige Ewige God, is ek ‘n bedreiging vir die donker onderwêreld. Hulle like my nie baie. Eintlik is dit oorlog! Hoe het ek in hierdie oorlog beland? Ek haat dit wanneer ek sien dat mense gebind word deur demoniese spirituele onreine kragte van wanhoop, vrees, moedeloosheid, bitterheid, selfhaat, depressie ... Noem dit wat jy wil. Skrik wakker meneer, hierdie dinge is nie fabels. Die bonatuurlike wêreld is ‘n werklikheid! Net soos wat ons as gelowige die instrument/kanaal van die Heilige Gees is waardeur gewerk word na die verloregaande wêreld, net so besit satan ook sy dienaars, gesante, kanale waardeur hy opereer. Aan watter kant veg jy. Die lig, of die duisternis?

Dit was tyd vir gebed. Vir die Woord om sy outoriteit in Connie se lewe in te neem. Om die gestorte bloed van Jesus Christus se krag wat elke helse mag verbreek, aan te wend. Vir die kind van God, Connie, om haar grondgebied terug te kleim. Om op te staan as oorwinnaar.

My en Connie se hart het een geword. Jesus se liefde het vanuit myne binne IN haar ingestraal. Dit was warm, lekker. Ek het dit saam haar geniet. Gees het tot geeste gespreek. Lig het deurgebreek! Trane het plek gemaak vir vreugde in vrywording. Ekself verstaan nie al hierdie dinge. Vir my is dit ‘n praktiese leerskool. Connie, mag ek dalk nooit weer sien. Maar weet dat Hy, onse Here, gebied die wind en storms!

Elke knie sal voor Hom, die Almagtige buig. Van die wat bo in die hemel is, en ook die onder die aarde ...

Sterkte op jou lewenspad.

Trienie

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address