Ek is nie 'n skrywer nie

  • 0

Ek is nie ’n skrywer se agterent nie. Omrede dit waaroor ek graag wil skryf, nooit op my papier kom nie. Ek is nie ’n skrywer se agterent nie, want ek kry my idees in die stort, op die WITSTOEL en laataande as ek nugter is tussen my dronk vriende. Ek probeer skryf oor diere, plante en strande maar dit kom net nie. Ek probeer skryf van lande, politiek en weereens strande maar dit kom net nie. Want, jy sien – ek wil soos Ingrid Jonker oor die strand en “haar ontvlugting” skryf. Ek wil ook oor madeliefies skryf en ek wil nie herhaal soos ek sopas gedoen het nie. Ek is definitief nie ’n skrywer se agterent nie, want ek hou nie van lees nie. Stian Bam het dit darem reggekry om my darem net een sin elke aand van verskillende boeke te laat lees. Ek doen dit nou nog. Moet net nie vir my vra wat in een van daai boeke aangaan nie. So, as ek nie hou van lees nie – om ander skrywers en digters se werke te lees nie en te lui is om navorsing te doen soos Dalene Mathee oor die bosse en olifante voor sy Fiela se Kind geskryf het asook die vroutjie wat Raaiselkind geskryf het en baie in diep outisme gaan navors het, dan maak dit mos nie van my ’n skrywer nie. Raaiselkind en Fiela se kind was inderdaad my hoërskool voorgeskrewe boeke. Op hoërskool het ek laas ’n boek klaar gelees. Skaamteloos. Nie trots maar wel verstaanbaar. As kind het my ouma en oupa nooit vir my stories vertel soos ander kinders stories gehoor het by hulle oumas en oupas nie. Mag hulle siel rus in vrede maar ek was verontreg. Ja, as kind het hulle my liewer onder die vyeboom laat speel. Heel godlike dag en toe ek later kon stap en self my tollie uit my onderbroek haal om te pie, het my dierbare  oupa my geleer hoe om met klippe te speel. Klippe. Hy het dit verduidelik vir ’n seuntjie van vyf asof dit die maanlanding was. Ek het dit toe opgevreet nes elke oggend se mieliemeelpap. Ek kla nie hoor. Nie oor die mieliemeelpap nie, ook nie oor die klippe, maar ek sê maar net. Hy het gesê dat ek in die yard verskillende klippies moet optel. Nie een mag lyk soos die ander een nie. Klein klippies. Dan moet ek gaan sit op die stukkie teer voor die huis (op die teer was my ma en ander familielede se name en hulle geboortedae. Die het hulle gedoen toe my oupa klaar die sement gegooi het en gewag het tot dit droog word. Dis nou nog daar.) Nou het my oupa verduidelik dat ek die klippe moet benaam. Enige naam en ek moes ook sê of die klip manlik of vroulik is. Het die klip ’n tollie of ’n dosie. Nou begin die speletjie. Ek moet ’n storie maak met die klippies wat ek as “mense” moet sien. Mens, het ek vir jou storielyne opgemaak van Oom Japie se dogter wat met Sister Saartjie se aangenome klong staan en vry agter daai klomp hokke in Antie Suzie yard. Nou ek was ’n baie soet kind. Vet en stroopsoet. Vra my ma. En as ’n soet kind wat nooit iets verkeerd gedoen het nie, het ek inderdaad so baie verkeerd gedoen in my gedagtes. En as ek gevang word deur oupa wat vra hoekom ek so breed smile en hoekom die een klippie bo-op die ander klippie is, het ek net gesê: “Oupa, ek wil ook eendag as ek groot is , een van die klippies wees”. Ek het toe ’n KLIP geword. ’n Grootte. Die spieël gee elke oggend die verslag van my “frisheid”. Elk geval, wat ek wil sê is dat as kind ek nie boeke gelees het nie, nog minder stories van ander gehoor het. Ja, op skool het dit bietjie aangekom, maar meestal het ek maar my eie stories opgemaak. Dalk is ek ’n skrywer. Maar nee, ek kan nie wees nie. Want ek het nie ’n A vir Afrikaans Huistaal gekry nie. Ek weet nou nog nie hoe om kommas, deeltekens, hoofletters en argaïsmes te gebruik nie. En soos ek se – EK KAN NIE SKRYF OOR STRANDE NIE! So, as ek in my onderbroek sit in my koshuiskamer met die oorstokkie wat al vir 15 minute in my oor is, soos nou, en ek tik die volgende op my laptop, en nie in  ’n spesiale boek met geen lyntjies in nie, is ek definitief nie ’n skrywer se agterent nie.

Ek praat dan nou die goed wat ek skryf. Wie de fok doen dit?

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top