US Woordfees 2014: Valsrivier ’n elegie van die lewe

  • 0

Dominique Botha se debuutroman, gelyktydig in Afrikaans en Engels as onderskeidelik Valsrivier en False River uitgegee, is in 2013 uiters goed ontvang. Ek het nie ’n negatiewe resensie (deur oa gerekende letterkundiges soos Joan Hambidge en Willie Burger) gelees nie, en die hooggeagte Breyten Breytenbach swaai die boek lof toe op die stofomslag.

Dié roman (en Dominique self dring ook op hierdie beskrywing aan, soos ek nog sal duidelik maak) het ook ’n groot indruk op my gemaak (Valsrivier is meesleurend mooi). Ek het haar Woordfees-gesprek met redakteur Francois Smith dus met groot belangstelling bygewoon.

Daar gekom, blyk dit duidelik dat die waardering vir Valsrivier (en in ’n mindere mate False River) nie bloot ’n kritiese een is nie – die lokaal loop so oor dat ek voor die verhoog op die grond moet sit. Dit is duidelik dat die roman ’n groot indruk op Suid-Afrikaanse lesers gemaak het.

Asof hy my gedagtes rakende die gewildheid van Dominique se debuut lees, val Francois met die deur in die huis: Hoekom het sy nie vroeër geskryf nie? Hoekom hoor ons nou eers van Dominique Botha? Sy noem dat sy haarself in haar broer se skadu gevoel het (soos wat dit trouens ook in ’n groot deel van die roman self blyk).

Waarom het sy dan wel begin skryf?

“My herinneringe aan my broer het begin vervaag.” Die boek het ’n “beskeie” begin gehad in die sin dat sy nie aanvanklik publikasie in gedagte gehad het toe sy begin skryf het nie.

En, is dit sy in die boek? Hoe outobiografies is dit? Ís dit enigsins outobiografies?

Sy self dring aan daarop dat dit ’n roman eerder as memoires is. Die verskil tussen fiksie en memoires, sê sy, is nie juis so beduidend as wat mens mag dink nie. “Herinnering is die diensmeisie van die ego.” Dominique het name verander, gebeure saamgeflans, karakters aangepas. Soos sy aangeskryf het, het die eie “ek” al meer weggeraak. Dit het al minder haar storie geword, en eerder die storie van baie mense – soos Valsrivier nou daar uitsien “is dit nie meer persoonlik nie”.

“Al lieg jy by is jy besig met ’n groter waarheid.”

Alhoewel nie suiwer outobiografie/memoires nie, is daar tog biografiese gegewens. Was dit vir haar moeilik om te werk rondom die etiese kwessies van oor werklike mense en gebeure skryf?

Op die ou end is daar geen maklik oplossing hiervoor nie. Met die skryf van die roman was sy natuurlik bekommerd oor wat haar familie (veral haar ma en pa) daarvan sou dink. Die gesin was egter baie ondersteunend. “Ek het miskien meer uit die hart uit gepraat as uit die huis uit ...”

Die Engelse weergawe, False River, is die “oorspronklike” weergawe, en die Afrikaanse een het hieruit ontstaan. Was dit vir haar vreemd om in Engels te skryf oor iets wat eintlik in Afrikaans ingesout is; en hoe verskil die Afrikaanse en Engelse markte en ontvangs van die boek?

Die skryf van False River het haar na die Afrikaanse weergawe gelei. “Ek het die belang van ’n moedertaal vir ’n skrywer besef.” Sy noem ook dat die Afrikaanse mark meer “koesterend” is, en dat daar in Afrikaans ’n meer aktiewe omgaan met die boek vanaf lesers, kritici en akademici is.

Dominique is weer die 13de en 15de Maart by die Woordfees te sien:

My roman, my memoir
Met Estelle Kruger, Wilna Adriaanse, Annelie Botes en Dominique Botha
Die memoir is tans groot nuus in Amerika, maar dié genre is nog nie behoorlik ontgin in die Afrikaanse letterkunde nie. Onlangs het daar boeke verskyn met ’n onmiskenbare outobiografiese inslag. Estelle Kruger gesels met Wilna Adriaanse (’n Klein lewe), Annelie Botes (Swart op wit) en Dominique Botha (Valsrivier) oor die aard van die memoir en die mate waarin hulle tekste daarby aansluit. 
13 Maart 09:00 | Boektent | 50min | R50


 

Vertalings: Afrikaans en Engels, hand aan hand
Aangebied deur Umuzi
Met Fourie Botha, Kirby van der Merwe, Jaco Botha en Dominique Botha
Die afgelope jaar of wat is verskeie romans gelyktydig in Engels en Afrikaans uitgegee. Maar is daar in die Suid-Afrikaanse letterkunde plek vir beide? En wat behels die vertaling van dié tekste? Die sprekers bekyk dié kwessies van verskillende kante.
15 Maart 10:00 | kykNET Erfurthuis | 50min | R40

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top