Die vrou wat alleen bly

  • 0

Die vrou wat alleen bly

Karel Schoeman
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485301844

Koop Die vrou wat alleen bly by kalahari.com.

In ’n kort voorwoord vertel Karel Schoeman van die ontstaan van die twee draaiboeke in die bundel. Die eerste is “’n Vrou wat alleen bly” en die tweede “Hiér was huise, hiér ’n pad”. Ek haal hom aan:

(Dit is) omstreeks 1985 geskryf, in ’n tyd toe daar ’n aantal van my oorspronklike draaiboeke sowel as bewerkings van my romans verfilm is. Die resultate van dié pogings was vir my egter deurgaans onbevredigend, en ek vermoed dat ek hierdie twee stukke in eerste instansie dus as léés- eerder dan as spééltekste beskou het, sy dit met die hoop dat daar eendag tog nog ’n geskikte regisseur gevind sou kan word om hulle te verfilm. Kort daarna het die situasie in Suid-Afrika egter volkome verander, en van verfilming was daar voorlopig geen vooruitsig meer nie.

Toe hy die tekste nou weer ontdek, besluit hy dat dit die sinvolste sal wees om dit “ná verloop van meer as ’n kwarteeu” onverander en onverbeter te laat publiseer.

In “Die vrou wat alleen bly” word baie heen en weer beweeg in tyd en ruimte. Dit vra as leesteks sterk konsentrasie van die leser. Daar word dikwels verduidelik wat die bedoeling van ’n toneel is en besliste opdragte word vir die regisseur gegee, maar net daarna maak Schoeman maar net voorstelle, laat hy dit oor aan die deelnemers om te improviseer en byvoorbeeld eie dialoog te skep. Die regisseur kan uit verskillende moontlikhede soms kies. Deur hierdie tentatiwiteit en omdat die leser moeilik die voortstuwing van die intrige agterhaal, ontstaan daar nie ’n sterk dramatiese, spanningsvolle opbou van die intrige vir die leser nie.

Om ’n aanduiding te gee van die inhoud: Op die dorpie voel verskeie vroue – getroudes én alleenstaandes – aangetrokke tot dominee Helgard, wat getroud is met Marian.

Hy registreer al die geheime smagtinge om hom heen. Helaas sterf hy in ’n skietongeluk. (Schoeman bestempel dit as die “enigste oomblik van drama in die hele film”.)

Talle uitsprake word oor eensaamheid by vroue gemaak, en oor hoe verskillend mans en vroue is. Maar dis dikwels net gemeenplasige stellings. Ek haal aan: “Mans aanvaar baie onnadenkend die opofferings wat vroue vir hulle maak.” Of: “’n Vrou loop nie sommer so weg van haar huis en haar man nie.” Die boeiendste stellings kom meer voor in die tweede teks. Byvoorbeeld bl 167: Mina praat vanuit haar eie lewensleed met die jong Kitty: “Ek kan jou nie troos nie, ek kan die pyn nie vir jou minder maak nie; ek kan net vir jou sê dat dit sal oorgaan. (By haarself, stil: ) Mettertyd sal dit oorgaan. Eendag sal die pyn ook oor wees.” En dan toneel 82 tussen Mina en Dreyer, ble 187 tot 190.

Heelwat spreekbeurte herinner aan toentertydse radiosepies:

BEN (eenvoudig): Ek het haar lief.
ALMA (kyk na hom): Het jy dit ooit vir haar gesê?
BEN: Sy weet dit mos, mens hoef sulke dinge nie oor en oor vir haar te sê nie.

Ook al die koffie- of teedrinkery herinner aan die radiosepies. Destyds is dit dikwels as vullers gebruik om ’n episode tydsgewys vol te maak.

Die titel word ontleen aan Eugène Marais se “Die towenares”. Alma, ’n musiekonderwyseres, haal dit uit haar geheue aan en begaan drie foute. Dominee Helgard betig haar oor slegs een: dat sy “altyd” voor “alleen” weglaat. Maar “soet-doringhout” moet “swart-doringhout” wees en “koms” van die jagters moet “kom” wees. In die tweede draaiboek is die Swinburne-aanhaling ook verkeerd (bl 140): “lovers” moet “hovers” wees. Hier behoort die aanhaling korrek te wees, want Mina lees dit.

Die tweede draaiboek, “Hiér was huise, hiér ’n pad”, staan dramaties sterker vanweë die duidelike voortgang in die tyd. Dit is kort ná die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog). Vakansiegangers in ’n hotelletjie aan die kus naby Kaapstad leer mekaar beter ken tydens al die wandelinge, kroukie speel en die talle etes.

Verhoudingsmoontlikhede wink vir dié hoofsaaklik alleenstaandes. Selfs ’n seksuele verhouding tussen twee mans.

Dit is 1908 en die tydsgees word opgeroep. Een manier waarop dit gedoen word, is te fasiel, nl dat koerantberigte voorgelees word. Dit word sterker opgeroep deur die geheim van die onderwyseres, Mina. Het daar iets met haar as verpleegster in die oorlog gebeur dat sy nooit getrou het nie? Aan die einde vertél sy vir posmeester Dreyer van die ontstellende gebeurtenis. Haar verloofde is sterwend. Die Engelse neem haar na hom. Sy word vervoer in ’n kar, seker kapkar, met die seile vasgeknoop sodat sy nie kan sien waarheen sy geneem word nie. Waarom doen hulle dit? Sy ontdek dat haar geliefde ’n “hensopper” is. Helaas word hierdie sterk dramatiese gegewe nie direk uitgebeeld nie. ’n Dramatisering sou nie goed by die struktuur van die draaiboek ingepas het nie. ’n Mens hoop dit gebeur nog in ’n toekomstige werk.

Albei draaiboeke se spelaanduidings het ’n oormaat negatiwiteite. Die karakters is dikwels verveeld, ongeesdriftig, afgetrokke, gee geen aandag nie, toon geforseerde hartlikheid, ens. Dit skep ’n onopwindende eenselwigheid.

Die tekste is taalkundig en tipografies nie baie goed versorg nie. Daar is afwykings van die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, anglisismes, deurgaans die verkeerde gebruik van die enkelaanhalingstekens, en sisteemloosheid in die gebruik van hakies. ’n Mens wonder oor: “verwikkeld” in gesprek, “verskole”, “hande gevoue”, ens. Spraakgedeeltes raak soms kursief soos die voorafgaande spelaanduidings.

Hierdie resensie is oorspronklik op Fine Music Radio uitgesaai.
www.fmr.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top