Die twee lewens van Dieter Ondracek deur André Krüger

  • 1

Karin Cattell was in 2013 een van die keurders op die UJ-prys se paneel. Sy het op 10 April 2013 by die Boekwurm-leeskring van Stellenbosch 'n gesprek omtrent daardie jaar se debuutwenner, André Kruger se Die twee lewens van Dieter Ondracek, gelei. Sy deel haar leeskringbespreking met LitNet.

Die twee lewens van Dieter Ondracek, geskryf deur André Krüger (2012), is ’n debuutroman wat uiteenlopende resensies ontlok het. Die digtheid van die teks, die samehang tussen ’n spektrum temas wat diepgaande ontleed word, en die verkenning van en verbindinge tussen Nazi-Duitsland en apartheid-Suid-Afrika het die roman egter die debuutprys in die Universiteit van Johannesburg se pryse vir skeppende skryfwerk in 2013 besorg.

“In ’n tyd van onreg en geweld bly niemand onaangeraak nie,” staan op die omslag van die roman. Die verreikende gevolge van so ’n tyd strek verby fisieke en emosionele letsels tot by die opoffering van die identiteit van individue.

Edward Said beskou in Orientalism (1995) identiteit as ‘n veranderlike konstruksie wat inherent histories is, maar die verlede voortdurend in die hede herdefinieer: "[H]uman identity is not only not natural and stable, but constructed, and occasionally even invented outright" (332). Said skryf die veranderlikheid van identiteit toe aan (1) die voortdurende vorming en omvorming van die menslike realiteit en (2) die wisselvallige verdeling van mag en magteloosheid in 'n samelewing (332–3). Volgens Said hou die vloeibaarheid van die subjektiewe ruimte dus direk verband met die onstabiliteit van die sosiopolitieke konteks: identiteitskonstruksies word deurentyd geskep en herskep om by die veranderende sosiopolitieke ruimte aan te pas.

Die dekonstruksie en rekonstruksie van identiteit – die hooftema van hierdie roman – hou nóú verband met die verhouding tussen verlede en hede, lewe en dood, mag/gesag en magteloosheid. Hierdie verhoudings word as dualismes (binêre opposisies) in die verhaal opgebou in ’n tweeledige tematiese struktuur wat ook in die organisasie van die teks neerslag vind.

Die roman word naamlik in twee dele verdeel: die lewe van Dieter Ondracek voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog in Nazi-Duitsland (sy sogenaamde eerste lewe), en sy tweede lewe met ’n nuwe identiteit as Gerhard Weber, vlugteling in Suid-Afrika gedurende die apartheidsjare (ongeveer 1950 tot 1961). Die twee dele en twee lewens het ook twee eindes: Dieter se vlug uit Duitsland beëindig sy eerste lewe, en sy tweede lewe, as Gerhard Weber, word deur sy teregstelling in 1961 beëindig. Die tweede lewe word as die hede en as die raamverhaal gebruik – die teks begin en eindig daarmee – en die eerste lewe, die verlede, vorm ’n ingebedde verhaal tussenin. Terselfdertyd lei Gerhard Weber in die hede ’n dubbele lewe: hy neem ’n nuwe identiteit aan en slaag gedeeltelik daarin om ’n nuwe lewe te skep, maar hy kan sy verlede nie ontken of vergeet nie. Die titel van die roman maak dit dan ook duidelik dat hy Dieter Ondracek bly – ’n element wat die twee lewens en identiteite, asook die twee dele van die verhaal met mekaar verbind en as gemeenskaplike faktor in die talle dualismes funksioneer.

Ek wil graag die tematiese struktuur van die verhaal uiteensit deur te konsentreer op twee sleuteldualismes waardeur dit gekonstrueer word: hede en verlede, soos verteenwoordig deur die twee lewens en identiteite van die hooffiguur, en lewe en dood. Ander dualismes wat ek net gaan aanraak, is vryheid/vasgevangenheid en hoop/futiliteit.

Ek gaan die eerste hoofstuk as vertrekpunt gebruik, omdat die hede en verlede daar oor mekaar skuif wanneer die Gerhard van die hede met die Dieter van die verlede gekonfronteer word deur die hertoetrede van Kurt Wolff tot sy lewe. Die hoofstuk lei die tematiese dualismes in en funksioneer as ’n geslaagde inleiding tot beide die raamverhaal en die ingebedde verhaal.

In hoofstuk 1, met die opskrif “Die horlosie gaan staan, 1959”, word die leser aanvanklik voorgestel aan Gerhard Weber as ’n oënskynlik gewone man op ’n bus, deel van “die gewone beweging van stadslewe” (7). Die eerste aanduiding van ’n tweede identiteit – ook die eerste skakel met die titel van die roman – is die verwysing na “[d]ie Dieter Ondracek wat in Gerhard Weber skuil” (7) en wat skrik wanneer ’n vaagweg bekende stem hom in Duits aanspreek. Dit is dan ook die oomblik wanneer “die horlosie gaan staan” in die tweede lewe en identiteit van Dieter Ondracek: alles verander meteens; sy verlede staan skielik onontkenbaar voor hom.

In sy eerste gesprek met Dieter/Gerhard veins Kurt Wolff verbasing dat Dieter van sy verlede probeer wegloop het, dat hy gehoop het die fisiese beëindiging van sy lewe in Duitsland en die agterlaat van “al daardie gruwels”, soos Wolff dit noem (9), dit ook psigies sal laat verdwyn. Die dualistiese verhouding tussen hoop en futiliteit (’n aanvaarding van wat as vanselfsprekend beskou word, ook beskou as die noodlot of die lot van die mens) word hier in die roman ingelei. “Ons het nie die vryheid om ons verlede te kan kies nie,” merk Wolff tereg op (een van verskeie voorbeelde waar die stem van die alomteenwoordige verteller duidelik hoorbaar is). Hy vervolg: “Die lewe werk nie so nie” (9). Dit is ook die eerste verwysing na die dualisme tussen vryheid en gebondenheid of vasgevangenheid: vryheid is nie onbeperk nie: die verlede en hede is deel van die beperkinge wat daaraan opgelê word, en dit kan dus slegs beperk beleef word.

Wolff verklaar verder dat die verlede nie ontken kan word nie, en dat die rol daarvan in die hede erken moet word: “Ons kan heeldag hier sit en luister hoe jy die verlede probeer ontken (...) [o]f ons kan (...) iets gaan drink, soos ou kamerade praat” (9). (Gerhard het aanvanklik nie eers besef dat hulle Duits praat nie.) Gerhard besef dan ook: “[D]ie verlede gaan nooit weg nie” (10).

Gevoelens wat hy gehoop het dood is, dobber weer na die oppervlak, en sy vorige lewe staan groot en donker voor hom, so groot hy kan dit nie ignoreer nie. Maar mens se verlede is hardnekkig. Een verlede leef in baie mense, in die getuies wat dit gesien en beleef het, en een mens kan dit nie verander nie. (11)

Sy verlede loop agter hom aan “[s]oos ’n skaduwee op ’n sonskyndag” (231): dit is onlosmaaklik deel van hom en altyd teenwoordig. Op bl 257 besef hy egter dat dit nie meer agter hom loop nie, maar hom ingehaal het. “Die wêreld van skaduwees word weer sy habitat en hy moet aanpas, hy moet onthou niks is wat dit voorgee om te wees nie” (258). Tog dink hy op bl 17: “Die verlede moet dood; mens is geregtig op nog ’n kans, om uit vorige foute te leer.” Hy het gedink dat ’n nuwe lewe sy reg is, sy redding, omdat hy geleer het uit sy foute en sy nuwe wysheid die donker van die verlede in lig sou omskep. Hierdie hoop op lewe – verteenwoordig deur Magda en Kittie – word beskryf as “die teenpool van wanhoop” en die moontlikheid van vernuwing en lewe as “die keerkant van die dood” (13).

Wanneer Gerhard op die punt staan om die vryheid waaraan hy so naby was te verloor, besef hy die volle betekenis en waarde van die begrip asook van identiteit. Dit is ironies, met sy verlede in aanmerking geneem: hy was verantwoordelik vir die treine wat die ongewenstes gedurende die Tweede Wêreldoorlog na die straf- en uitwissingskampe geneem het, en was dus medeverantwoordelik vir hul verlies aan vryheid en identiteit (hulle het alle persoonlike bewyse van identiteit verloor) en hul uiteindelike dood. Hulle het alles verloor, soos ook met hom sou gebeur. Op bl 11 wys Wolff Gerhard daarop dat name – ’n merker van identiteit – kan verander, maar die persoon, die siel, nie. In sy verlede het Dieter gevoel dat hy nie sy naam is nie (33) en dat hy dit nie kan verloor nie, aangesien name bloot ’n sosiale konvensie is (34). Wanneer hy uit Duitsland vlug, besef hy egter: “Hy word amptelik Gerhard Weber, maar Dieter Ondracek bly in hom, ’n stil figuur (…) wat onthou terwyl Gerhard Weber sy bes doen om te vergeet” (154). Op bl 366, terwyl hy op sy teregstelling wag, skakel hy dan tog die einde van sy lewe met die verdwyning van “[d]ie name”, “[a]nder name, sy eie name”. (Ook Magda het haar naam verander en is bang om gevind te word (217–8). Soos hy, moes sy vlug en haar identiteit verander.)

Ná die Tweede Wêreldoorlog (bron: Top 10 allied war crimes of World War II)

Die wisseling van identiteit word ook met dood en lewe verbind. Op bl 12 merk Wolff op: “Ons is almal dood in die oorlog (…) Maar sommige van ons het uit die dood opgestaan. Kyk nou maar vir jou. Dieter Ondracek is mos dood, maar Gerhard Weber lewe nog.” Gerhard, weer, beskryf vir Wolff as ’n “lewende dooie” (334).

Gerhard beskou sy verlede as ’n besmetting van die skoon, nuwe lewe wat hy wou begin. Hy wou sy twee lewens apart hou, en raak verbouereerd wanneer hy agterkom dat Wolff van Magda en Kittie weet: “verbouereerd dat sy nuwe lewe en sy oue so vinnig verstrengel kan raak, bang die een besmet die ander” (16). Hy sien homself as boos in sy verlede asook in die hede, nadat hy Wolff vermoor het: “[Hy] is ’n moordenaar, in al twee sy lewens” (351). Hy wil nie vir Magda en Kietie met “die donkerte wat hy saam met hom dra” (336) besmet nie: hy sou hulle “bevuil met dood en geweld” (336). Hy voel dat hy die wêreld wat hulle saam gemaak het, verraai het “deur die geweld en boosheid van sy ou lewe in die nuwe toe te laat” (336). Wolff sê vir hom op bl 16 dat hy “’n medepligtige en ’n getuie” is. Dieter se twee lewens word deur hierdie beskrywing gerig: hy was inderdaad ’n medepligtige aan die gruwels van die geskiedenis en ’n getuie daarvan. Dit is ’n onlosmaaklike deel van sy verlede wat ook ’n direkte invloed op sy hede het.

Dieter word ’n stoker in Suid-Afrika sodat hy by sy geliefde treine, sy “vlamdiere”, kan wees, maar ook as ’n manier om sy skuld te probeer delg en boete te doen. Die stook van die kole word ’n metode van selffoltering. Deur die fisieke ontberings wat die werk inhou, betaal hy vir sy besluite en verlede (155).

Hy gebruik egter dieselfde middel as die een waarmee hy mense na hul dood gestuur het om hom van die besmetting van sy verlede te probeer reinig. Dit is ook ironies dat dit sy groot liefde – stoomtreine – was wat die Nazi’s as middel gebruik het om hom aktief by hul ideologie te betrek. Hierdie ooreenkomste is tekenend van die binêre opset van die roman.

Dieter se geliefde vlamdiere hou verder in elk van sy lewens letterlik verband met vlamme en dood: as Dieter was hy in een geval direk aan ’n groep mense se dood aandadig toe hy ’n trein aan die brand laat steek het, en as Gerhard is hy die masjinis van ’n trein wat in ’n stilstaande trein vasjaag en ontplof. Hy verloor sy assistent in die ongeluk. Ook tydens hierdie insident kan Gerhard nie sy verlede ontken nie: die vlamme, kermgeluide en reuke roep die vroeëre ervaring intens by hom op.

Uiteindelik weet Dieter/Gerhard dat hy nie werklik sy lewe kon verander nie, omdat hy sy verlede steeds in hom dra. “[A]lhoewel hy dit vir so lank misken het, is hy diep binne-in hom nog die self wat hy vantevore was” (325). Hy besef dan dat ontvlugting van beide sy verlede en sy hede nie moontlik is nie (324) en kies die dood as ’n finale ontvlugting: “[D]ie gevolgtrekking bly: Hy kan net deur die dood van sy skuld verlos word” (260). Hy weet ook dat die boosheid saam met hom moet sterf (363).

Afgesien van die rol van sy verlede in die besef van sy onvermydelike ondergang word dit ook vir Dieter/Gerhard duidelik dat sy treine – “sy eerste en mees getroue geliefde” (19), dit wat hom hoop vir die toekoms gegee en vryheid vir hom gesimboliseer het (22) – hom in die steek gelaat het. In sy jeug het hy gevoel “[d]ie staalstawe hou hom op koers, hou die doel voor sy oë, hou hom weg van waansin, help hom elke oggend opstaan om nog ’n dag tegemoet te gaan” (22). Aan die einde van sy lewe besef hy egter: “Lokomotiefyster het hom verslaan, stoomketelvuur het hom verorber, hom ingespan in ’n kwaadwillige netwerk van boosheid wat amper die hele wêreld verteer het” (364). Sy liefde vir treine het hom “moreel ontspoor” (161). Wanneer hy dan ook hoor dat Magda en Kietie dood is, is dit vir hom “die einde van alles” (362).

“Dit is waar ek vandaan kom, dink hy, ’n kil plek van niebestaan, en dit is waarheen ek teruggaan. Lewe, dit wat tussenin kom, is betekenisloos” (361). Hy het alles verloor wat ooit vir hom saak gemaak het, “en daar is niks meer te doen, te dink of sê nie” (351). Hy besluit dan om niks meer te sê nie: “Hy het gelewe, en nou is dit verby” (366).

Hierdie roman versinnebeeld dan die stelling op die omslag – “In ’n tyd van onreg en geweld bly niemand onaangeraak nie” – in al die kontekste wat dit betrek: oorlog tussen nasies, maar ook in gesinne, in verhoudings tussen twee mense, en binne die self. Enige tyd, konteks, verhouding en individu kan “’n tyd van onreg en geweld” inhou, en die invloed daarvan oorskry die grense van wat voorheen as onmoontlik, ondoenbaar of ondenkbaar beskou sou word.

Titel: Die twee lewens van Dieter Ondracek
Outeur: André Krüger
Uitgewer: NB-uitgewers
ISBN: 9780798156721

Koop Die twee lewens van Dieter Ondracek nou by Kalahari.com

 

  • 1

Kommentaar

  • Arne Schaefer

    Andre Kruger is the partner of a friend and associate, so when I heard about the publication of his first book Die twee lewens van Dieter Ondraceck (Human & Rousseau 2013), I perforce had to get me a copy, hot off the press. After a short period of getting acclimatised to reading about a German WWII scenario in Afrikaans, I found myself getting quite engrossed as the character unfolded. A basically good, unimaginative citizen, who was interested in nothing but his trains and all the engineering that goes along with them, but who becomes coerced, misled and finally swallowed by the Nazi machine. Almost imperceptibly he is shunted from vague complicity, to participation and lastly full atrocity. The war ends, and he flees to South Africa where he starts anew on the bottom rung of the coal tender. Into the middle of a rather bleak existence come two rays of hope in the form of a woman and her small daughter. A new chapter beckons; until a spectre of the past in the shape of a former SS officer surfaces and the entire fabric of Ondracek’s life threatens to fall apart. A well-paced, tense novel, which engages the reader’s sympathy for the hapless character, flawed though he may have been. Kruger manages to paint the wartime scene in Germany pretty authentically, considering he hasn’t experienced it, and the 1950’s in South Africa ring equally true. It is unfortunate for the writer that the book will be limited to a small readership due to being in his home language, but perhaps it will still be translated at some later stage.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top