Gustaf Pienaar: Regsalmanak | Columns

 
"Die Stem van Suid-Afrika"
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 Die Wet op Outeursreg op die Stem van Suid-Afrika Wet 2 van 1959, is 54 jaar gelede – op 12 Februarie 1959 – deur die parlement goedgekeur.

Die Wet het ’n interessante agtergrond. In 1957 het adv Strijdom se die regering CJ Langenhoven se gedig "Die Stem van Suid-Afrika", soos dit getoonset is deur ds ML de Villiers, as die amptelike volkslied van Suid-Afrika erken. Om dit te kon regkry moes ’n ingewikkelde proses gevolg word. Langenhoven het in sy "laaste wil en testament", soos dit beskryf is, mev Sarah Goldblatt aangestel as administratrise van sy letterkundige nalatenskap. In daardie hoedanigheid was sy dus die kurator van die outeursreg in "Die Stem van Suid-Afrika". Die regering kon dus nie sommer goedsmoeds, en sonder toestemming, amptelike erkenning aan "Die Stem van Suid-Afrika" as volkslied verleen nie. Die regering het gevolglik die toestemming nodig gehad van nie alleen mev Goldblatt nie, maar ook van Langenhoven se erfgename: sy enigste dogter, Engela Brümmer, en sy kleinseun, Guillaume Brümmer.

Na samesprekings met hierdie mense is ’n Akte van Sessie opgestel ingevolge waarvan die vermelde drie mense – Engela en Guillaume Brümmer en Sarah Goldblatt – die outeursreg in "Die Stem", die reg op uitvoering daarvan en alle ander regte van ’n soortgelyke aard aan die regering van die Unie van Suid-Afrika sedeer. Die Akte van Sessie is in Junie 1957 tydens ’n seremonie in die kantoor van die destydse eerste minister, adv JG Strijdom, onderteken. Dit is interessant dat die getuies wat die Akte  onderteken het, in latere jare nogal ’n belangrike rol in ons volkslewe sou speel. Die een getuie was adv CR Swart, destydse minister van justisie, wat twee jaar later goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en in 1961 die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika geword het. Die ander getuie was dr TE Dönges, wat jare lank diens gedoen het as minister van finansies en ook amptelik aangewys is om adv Swart as staatspresident van Suid-Afrika op te volg. (Hy het egter aan ’n beroerte gesterf voordat hy dié hoë amp kon beklee. Dit net terloops.)

Die doel van  die Wet op Outeursreg op "Die Stem van Suid-Afrika", wat op 12 Februarie 1959 deur die parlement goedgekeur is, was om regskrag te verleen aan die Sessie van die Outeursreg in "Die Stem van Suid-Afrika" wat – soos ek nou net vertel het – in Junie 1957 in adv Strijdom se kantoor onderteken is. Skynbaar was daar ’n regsadviseur van die regering wat bekommerd was dat die sessie nie geldig was nie, aangesien Langenhoven se laaste wil en testament geen magtiging vir so ’n sessie verleen het nie. Daarom lui die kort stuk wetgewing bloot soos volg: "Ondanks andersluidende bepalings van die uiterste wil en testament van wyle Cornelis Jakob Langenhoven, word die sedente genoem in die Bylae by hierdie Wet, geag behoorlik gemagtig te wees om alle outeursreg op die letterkundige werk bekend onder die titel ‘Die Stem van Suid-Afrika’ aan die Regering van die Unie van Suid-Afrika te sedeer ..." ensovoorts.

Die 1996-Grondwet van Suid-Afrika bepaal by artikel 4 dat die Nasionale Lied van Suid-Afrika deur die staatspresident by proklamasie bepaal word. President Mandela het in 1997 ’n proklamasie uitgevaardig ingevolge waarvan Suid-Afrika ’n nuwe volkslied gekry het wat ’n samestelling is van die ou tradisionele lied "Nkosi sikelel’ iAfrika",  "Die Stem van Suid-Afrika" en enkele Engelse frases wat nie poog om ’n vertaling van Langenhoven se gedig te wees nie. Die President se proklamasie is in die Staatskoerant van 10 Oktober 1997 gepubliseer, en van daardie dag af is "Nkosi" en "Die Stem" ons gesamentlike volkslied.

Dit is interessant om daarop te let dat die staat nie die outeursreghouer is in ds ML de Villiers se toonsetting van Langenhoven se gedig nie. Lees gerus onder meer hiéroor die interessante artikel in LitNet Akademies (Regte) deur Owen Dean en Cobus Jooste.

Die skakel is hier.

“Regsmening: Die volkslied vir die volke”, Owen Dean, Cobus Jooste, 2012-06-20. Owen Dean en Cobus Jooste klaar die kwessie van outeursreg rondom "Nkosi sikelel’ iAfrika" op.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address