Die skool waar gelukkige leerders sukses behaal

  • 3

Die Hoërskool Charlie Hofmeyr (http://www.charlie.org.za/), geleë teenaan die Skurweberge in die Ceresvallei, is ’n skool wat gerig is op die persoonlike groei van sy studente. Dit is ’n skool wat ewe veel klem op sport, akademie en kultuur lê. Jean Oosthuizen het met die skoolhoof, Max Michau, gesels om uit te vind wat is die geheim van ’n suksesvolle skool.

Te danke aan die samewerking van leerders, ouers en onderwysers het Charlie Hofmeyr ’n stabiele, aangename en veilige leeromgewing.

Die skool se leuse Verdraagsaam dog beslis is vertaal vanuit die oorspronklike Fortiter in re, swaviter in modo. Volgens die skoolhoof kan die inhoud en gees van die leuse die beste beskryf word deur die woorde wees sterk in jou saak maar sag in jou manier.

Wat beskou jy tans as die grootste uitdaging in die onderwys? Ek praat spesifiek van die dinge op grondvlak wat pla? Praktiese probleme waarmee onderwysers te kampe het en wat opgelos kan word as daar ’n wil is.

Eerstens, die skep van ’n doelgerigte onderwysstelsel. Dis futiel om aan almal ’n akademiese opleiding te probeer gee,waarmee 80 persent in elk geval niks kan doen nie. Na graad nege moet slegs die boonste 25 persent toegelaat word om ’n akademiese rigting te volg, met die res wat beroepsgerigte opleiding (soos vakleerlingskappe) kry.

Aansluitend hierby is ’n beter opbrengs op die finansiële belegging in die onderwys nodig. Daar is geen sin daarin om leerders te laat herhaal, net om op die ou-end uit te val (soos 40 persent doen), of met ’n sertifikaat te slaag wat niks beteken nie (soos nog 30 persent doen). Die koste om leerders wat geen hoop op sukses het, te laat herhaal, maak die stelsel onbekostigbaar, en veroorsaak dat diegene wat wel die vermoë het, nie die nodige aandag kry nie.

Tweedens, die skep van ’n ordentlike leerkultuur. Dit sluit in klem op tydsbenutting (200 dae per jaar onderrig, nie slegs in die skool nie), hoër slaagvereistes, meer uitdagende kurrikulum, ens.  Basies dus ’n internasionale standaard kurrikulum en opvoedkundige stelsel.

Max Michau

Die grondwetlike beginsel is dat daar altyd in die beste belang van die kind opgetree moet word. Wat is jou ervaring in die verband as mens kyk na die nie-funksionerende onderwysdepartement in groot dele van die land.

Skole wat die beste presteer, is die skole wat dit regkry om hul kinders te laat werk.  ’n Goeie werksetiek en ’n omgewing waar die klem op akademie geplaas word, is dus belangrik. ’n Omvattende behoeftepeiling moet gedoen word en fondse moet daarvolgens aangewend word. Ekstra handboeke, die aanstel van senior beamptes in die onderwysdepartemente, ens is nie noodwendig in die beste belang van die kind nie. Hierdie fondse kan baie meer sinvol gebruik word.

Opvoeders se motivering is dikwels op ’n laagtepunt weens die groot las wat hulle dra. Hoe motiveer ’n onderwyser hom of haarself onder sulke moeilike omstandighede om die beste resultate te kry?

Die “las” kan aansienlik ligter gemaak word indien skole wat funksioneer deur die onderwysdepartement as outonoom beskou kan word. Sodoende kan hulle hou by stelsels wat hulle weet werk. Fokus en ondersteuning moet eerder aan disfunksionele skole gegee word. Die resultate wat hul leerders behaal, is genoeg motivering dat ons moet volhard in ons werk.

Die beleid dat leerders net een maal per fase teruggehou mag word moet sekerlik ook  ’n invloed hê op gehalte onderwys. Hoe voel die onderwysers daaroor?

As iemand die logika kan verklaar dat ’n leerder kan vorder sonder om aan die slaagvereistes te voldoen, moet hy dit asseblief aan my verduidelik. Sal die verkeersdepartement vir ’npersoon wat sy rybewys-toets druip, sê dat dit aanvaarbaar is? Hy het nou wel nie geslaag nie, maar hy kan maar voortgaan om op die land se paaie te ry. Dink aan die chaos op die paaie. Of die mediese student wat nie sy eerste of tweedejaar deurkom nie, maar toegelaat word om verder te studeer. Miskien moet ons die student laat opereer op die besluitnemers!

Hoe raak hierdie reëling die leerders?

Die leerders weet van hierdie reëlings. ’n Kollega het nou die dag vir my gesê dat een van sy leerders wat graad 10 gedruip het, aan ’n onderwyser prontuit gesê het dat die skool tog nou niks verder aan hom kan doen nie en dat hy oor twee jaar in matriek sal wees.

Die matriekuitslae word oral verkondig. Dis baie onbillik van iemand om te verwag dat ’n skool 100 persent matriekslaagsyfer moet hê, terwyl ’n paar leerders is wat graad 11 gedruip het, deel is van die matriekklas. Wat sê dit van die matriekuitslae as so ’n leerder wel slaag? Hoe groot moes die aanpassings nie gewees het nie!

Daar is ’n groot gaping tussen ryk en arm of voorheen benadeelde skole. Is daar genoegsame samewerking tussen skole wat voorheen bevoorreg is en die skole in agtergeblewe gebiede? Kan sulke skole nie op een of ander manier vennootskappe sluit waar hulle by mekaar kan leer nie?

“Ryk” skole se ouers betaal skoolfonds, en verwag inruil daarvoor prestasie. Hul onderwysers is dus onder groot druk om akademies, kultureel en in sport programme aan te bied wat aan die verwagtinge voldoen. Hulle het gevolglik nie die krag en tyd om nog ander ook op sleeptou te neem nie.

Daar is genoeg voorbeelde van “arm” skole waar ’n gemotiveerde skoolhoof en personeel groot sukses behaal het. Die Wes-Kaap se onderwysdepartement (WKOD) se uitslae in die 2014 NSS-eksamen het sulke skole uitgewys.

Die vraag is eerder of daardie skole se onderwysers bereid is om die ure en energie in te sit wat “ryk” skole s’n doen. Miskien moet daar kompensasie vir verbetering en prestasie wees.

Armoede speel ’n groot rol. Soms voel dit egter asof arm skole nie gehelp wil word nie. Die “backhand”-kultuur in hierdie skole moet aangespreek word. Kundigheid moet op so ’n manier gedeel word dat hierdie skole eerder bemagtig word om op hul eie te funksioneer, eerder as om net ’n bedrag geld aan hulle toe te ken.

Tot watter mate beïnvloed vakbonde die werk in die klaskamer?

Die bewering word gemaak dat Suid-Afrika die enigste land ter wêreld is waar die onderwys deur ’n vakbond (let op die enkelvoud) gereël word. Hoe regverdig ’n mens dit dat nasieners van matriekvraestelle kan weier om die bevoegdheidstoets af te lê?

Die boodskap wat hieruit vloei, is dat mense met gebrekkige kennis beskerm word deur ’n vakbond en dat ons tevrede kan wees om gemiddelde vertonings te kan lewer. As dit die standpunt van onderwysers is, gaan hul lewenswyse teenoor die leerders presies dieselfde wees: “Jy kan maar middelmatig wees, want jy word beskerm”.

Baie onderwysers is hulle sout deur en deur werd maar daar is ook heelwat onderwysers wat nie hulle kant bring nie en geen voorbeeld is vir leerders nie. Daar is selfs ekonome wat sê onderwysers is oorbetaal en onderwerk. Hoe voel jy daaroor?

Dawie Roodt het nou die dag ’n stelling gemaak oor salarisse van onderwysers. Al fout wat hy gemaak het is om net na onderwysers te verwys. Hy moes eintlik net gesê het “Alle staatsamptenare”. Hy is absoluut reg.

Alle skoolhoofde probeer die werksverdeling so regverdig moontlik maak, maar die onmoontlik. Jy kry die onderwyser wat uiters effektief is en wat jy enige werk kan gee en hy sal dit puik afhandel. Ander mense het nie die vermoë of dryfkrag om dit te doen nie. Uit die oogpunt van die skoolhoof gee hy op die ou einde die werk aan die persoon wat hy weet die werk goed sal afhandel. So nie moet die skoolhoof die werk of self gaan regmaak, of weer terugval op die effektiewe personeellid.

Ongelukkig doen die persoon dit dan sonder vergoeding en die sneeubal-effek raak net erger.

  • 3

Kommentaar

  • Bernard Botha

    Mnr. Michau praat nou die regte onderwystaal!  Ek stem volkome saam dat dit geen doel dien om mense aan akademiese opleiding bloot te stel wat hulle in elk geval nie gaan gebruik nie.  Die probleem is net dat die ouers wil sien dat hulle kinders almal dokters en magistrate word terwyl daar 'n geweldige tekort aan gekwalifiseerde vakmanne is.

    Probeer om op my plattlandse dorpie 'n opleidingsentrum vir vakmanne te stig - geen belangstelling want almal MOET graad 12 slaag en dan langs die pad gaan bedel want hulle kry nie werk met hulle 'graad 12' sertifikaat nie.

    Sal graag met Mnr. Michau in verbinding wou tree.

    Weet dit is dalk nie die regte platform nie want daar is seker nie baie 'tegniese' manne wat op LitNet inteken nie maar probeer om die boodskap oor te dra.

    Bernard Botha

  • Willem Vermeulen

    Mnr Max Michau het met elke fasset van die onderhoud die spreekwoordelike "spyker op sy kop geslaan"!

    Vandaar die sukses van Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres. Julle is bevoorreg om hom as hoof te hê.
     
    Willem Vermeulen
     
  • Rory Michelroy

    Bly hy is uit die onderwys. Ryk skole moet begin deel met arm skole, al is dit net kundigheid. Onthou die stelsels is ook geskep deur ons vorige bedeling.
    Sogenaamde ryk skole het 'n groot rol te speel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top